Burger King vlug van Amerikaanse belastingkoers

Deel op

Burger King is die jongste Amerikaanse maatskappy wat sy hoofkantoor gaan verskuif om laer belasting te betaal, ten spyte van president Barack Obama se waarskuwings dat die Amerikaanse regering stappe oorweeg om dit te voorkom.

Tussen Junie en Julie, ná Obama se uitlatings, het minstens vyf Amerikaanse maatskappye planne bekendgemaak om te laat spaander.

Sedert die begin van 2012 het meer as 21 Amerikaanse maatskappye na ‘n land met laer koerse verskuif. Dit is amper die helfte van die totaal van 51 van dié tipe transaksies in die laaste dertig jaar.

Burger King, die VSA se naasgrootste burgerkitskosgroep, onderhandel tans om Tim Hortons te koop en sy hoofkantoor na Kanada te verskuif.

Tim Hortons is Kanada se grootste verkoper van koffie en oliebolle en die samesmelting sal lei tot die stigting van die wêreld se derde grootste kitskosgroep.

Maatskappye se belasting beloop 40% in die VSA, maar in Kanada is dit slegs 26,5%.

Dié transaksie werp die soeklig op Amerikaanse maatskappye wat hul hoofkantore na ander lander skuif op soek na laer belastingkoerse te midde van neerdrukkende ekonomiese vooruitsigte waar die kloof tussen arm en ryk groter word.

Tim Hortons en Burger King sal steeds as twee aparte handelsname voortgaan en elkeen met hul eie bedrywighede.

Die gesamentlike onderneming sal verkope van sowat US$22 miljard ’n jaar hê en meer as 18 000 restaurante in 100 lande, volgens ’n verklaring van die maatskappye.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.