African Bank se probleme is onwaarskynlik om ’n groot invloed op die groter Suid-Afrikaanse banke te hê, het die graderingsagentskap Fitch gesê.
Fitch se uitlatings kom slegs dae nadat ’n ander graderingsagentskap die vier grootste Suid-Afrikaanse banke – Barclays Africa, FirstRand, Nedbank en Standard Bank – se skuld afgegradeer het.
Moody’s het verlede week dié stap geneem na die ineenstorting van African Bank (Abil) vroeër die maand en die daaropvolgende reddingsplan van die Reserwebank.
Volgens Moody’ het die Reserwebank die risiko van verspreiding na die res van die stelsel beperk, maar gewys dat hy bereid was om toe te laat dat krediteure verliese kan ly.
“Die onlangse mislukking en redding van African Bank Limited is geïsoleerd en enige verspreiding na die groot Suid-Afrikaanse banke gaan waarskynlik beperk wees,” het Fitch gesê.
Fitch het bygevoeg dat sy gradering van die banke nie gaan verander nie.
Die ander groot graderingsagentskap, Standard & Poor’s, het Donderdag ook gesê hy het geen planne om die banke af te gradeer nie.
Fitch het gesê die groot banke het slegs ’n klein blootstelling aan Abil en die invloed op die bankstelsel is onbeduidend.