Gideon Scheepers: oorlogsmisdadiger of held?

Deel op

Image

Gideon Scheepers

Vandag herdenk ons die geboortedag van ’n Boeresoldaat wat deur die Engelse as ’n  misdadiger maar deur die Afrikaners as ’n held beskou word…

Gideon Scheepers is op 4 April 1878 in Middelburg, Transvaal, gebore. In 1895 het hy by die Transvaalse Staatsartilleriekorps aangesluit waar hy as heliografis opgelei is. Kort hierna is hy na die Vrystaatse Staatsartilleriekorps oorgeplaas.

Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 is Scheepers as heliografis na die oorlogsfront in Natal gestuur. Later het hy ook aan die Slag van Magersfontein deelgeneem. Hy het met die oorgawe van generaal Piet Cronje by Paardeberg daarin geslaag om te ontsnap.
Deel op

Scheepers het homself in sabotasie-aksies teen die Britte onderskei. In 1900 het hy by Christiaan de Wet se kommando aangesluit. Hy het as kommandant van 150 man die Kaapkolonie binnegeval met die doel om spoorlyne en Britse kommunikasiekanale te saboteer, asook om plaaslike Afrikaners te oorreed om die Transvaalse en Vrystaatse republieke te ondersteun. Hy was maar 22 jaar oud.

Sy sabotasieveldtog in die Kaap was baie suksesvol. In Oktober 1901 het hy egter siek geword en was hy genoodsaak om naby Prins Albert in ’n plaashuis agter te bly terwyl sy manskappe aanbeweeg het. Hy is hier deur die Engelse gevang en ná behandeling in hospitale in Beaufort-Wes en Noupoort, is hy in Graaff-Reinet deur die Engelse in die tronk gegooi. Hy is aangekla van oorlogsmisdade, skuldig bevind en ter dood veroordeel. Een van die aanklagte teen hom was brandstigting, aangesien hy die huise van twee Britse simpatiseerders afgebrand het. Ironies genoeg het die Britte self sulke dade gepleeg deur 33 000 plase in die ZAR en Vrystaatse Republiek af te brand.

Om 15:30 op 18 Januarie 1902 is hy deur ‘n vuurpeleton tereggestel. Alhoewel sy ouers na Graaff-Reinet gereis het om sy oorskot te gaan haal, is sy graf nooit gevind nie, aangesien die Britse soldate sy lyk opgegrawe en na ’n onbekende graf oorgeplaas het. Dit het sy ouers geweldig ontstel, veral aangesien gerugte ná sy dood versprei is dat hy eintlik nog gelewe het.

Daar word vermoed dat sy graf iewers onder die huidige Nqweba-dam, op die Sondagsrivier net noord van Graaff-Reinet, lê.

Kort ná sy dood het Olive Schreiner ’n gedig oor Scheepers geskryf. In 1938 het Gustav Preller sy dagboek gepubliseer en in 1951 het DJ Opperman die wonderlike gedig, Gebed om die Gebeente, oor hierdie volksheld geskryf:

Heer, waar U noordewind die droë dissel rol
en oor die skurwe brakland jaag van Afrika,
maar eindelik teen ‘n doringdraad met pluksels wol
vaswaai terwyl die kraaie en die aasvoëls kla,
laat my ook ná die swerf oor vlaktes heen nou rus
en glo my kind is dood, al hoor ek die berigte
om my krys: "Ek het hom as matroos hier aan die kus . . ."
"Ek: as stoker op ‘n trein…" "Ek: in vaal-geel ligte
van ‘n steenkooldorp se kroeg nog nou die dag gesien . . ."
Glo omgekoop! Of hy sou skielik blink gesteentes
smokkel…blink gesteentes! Selfs dan . . . Nee, miskien
lê hy tog êrens dood; maar, Heer, dan die gebeente,
wys my, gee my die drag gebeente van my skoot
dat ek nie opgejaag deur hierdie land bly swerf
en soek, maar eindelik rus en weet hy het deur lood
onder twee mudsak ongebluste kalk gesterf.

Snags het ek soms gelê en vrees daar sou iets boos
oor hierdie kind nog kom, want in Middelburg se kerk
staan duidelik in die doopregister sy geboorte
nie na die stand van sy gesternte aangemerk.
En, soos wanneer jy tussen vinger en die duim
die wit son rol en skitter in ‘n diamant,
sou hy deur Vrystaat en Transvaal se leiblou ruim
uit spieëls ons stryd laat blits en straal van rant tot rant.
Maar hy móés sterf : die Dood het self hom eers gejag
deur kou riviere van die Kaap, dwarsoor Anysberg
tot in die buitekamer op ‘n plaas, waar hy een nag
in koue sweet moes lê en aan borswater sterf . . .
toe ‘n tweede jagter hom van tent na trein, van trein
na tent met doringdraad en bajonet bewaak
en met gemete sorg van arts en medisyne
vir ‘n tweede dood, o Heer, stadig gesond kon maak.

En ná die skynverhoor het hulle hom vertel…
voor Graaff-Reinet se sel. 0 Graaff-Reinet se sel!
Hy was gewone kryger, Heer, en geen rebel.
0 Graaff-Reinet se sel . . . Eségiël! Eségiël!
Vergeef my die gelykenis, Heer : ek weet ‘n hond
as hy versadig is, verag die been en murg
maar bêre dit agter ‘n bossie in die grond
– behoedsaam, en snuffel met die tweede honger terug:
Teen middernag het op bevel ‘n vyf soldate
die kalkwit bondel beendre in die kalkwit doek
met grawe en lanterns in verskeie gate
onder die roosmaryn langs die rivier gaan soek
en herbegrawe . . toe U die storm word, Heer; ek weet
U en die vyand het dié nag in die vallei
deur geel geflikker in slagreëns mekaar gemeet
oor wie uiteindelik my kind se lyk sou kry.

Hy moes drie dode sterf, maar hy wat drie maal sterf
die sterf nie meer; hy word nou elke dag gesien
as ‘n matroos, of stoker op ‘n steenkoolwerf,
in myn of tronk, in sirkustent of ‘n kantien –
hy leef in hierdie land nou ewig en altyd!
Maar soveel beendre lê onder die roosmaryn . . .
Seën, Here, al die bleek gebeente van die stryd –
ek ken as moeder na ‘n halwe eeu van pyn :
een land vol skedels en gebeente, een groot graf
waaroor U noordewind die droë dissel waai
en spruit en krans vul met die afloskrete van
die aasvoëls, van die wildehonde en die kraai
– dat ons as een groot nasie in die gramadoelas
met elke stukkie sinkplaat en met elke wiel,
en wit en bruin en swart foelie agter skoon glas
ewig U sonlig vang en na mekaar toe spieël.

гайковертлобановский класс харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.