Pawlof se brakke

Deel op

Die politieke gesprek in Suid-Afrika word gevoer in die Amerikaanse dialektiek of idioom, want dit is al waarvan baie Suid-Afrikaners weet.

Deel op

In hierdie artikel word besin oor die moeilike vraag van die rede vir die wêreldwye veldtog teen die Afrikaner spesifiek, maar ook teen die wit ras in die algemeen. Daar is primêre en sekondêre oorsake. Van die sekondêre oorsake is die feit dat wittes in die algemeen en Afrikaners spesifiek, in vyftig jaar meer kon vermag as wat die die swartes in vyftigduisend jaar kon doen. Maar daar is ook die rol van ‘n verdraaide en halfbegrepe Christelike etiek, oordrewe humanisme, misplaaste verdraagsaamheid en ten slotte die skuldkomplekse van dese en gene oor hulle eie geskiedenis waarvoor hulle hier by ons wil kom boete doen.

Kom ons bepaal ons dan vir eers by die primêre faktore, want daar is benewens die genoemde sekondêre faktore ook die meer fundamentele ideologiese, politieke en intellektuele redes. Ten einde die rubriek nie te lank te maak nie, sal ons hierdie keer die faktor aanspreek van die Amerikanisme. In ‘n volgende bydrae, as dit aanvaar word, sal ons kyk na die invloed van die internasionale kapitalisme.

In die eerste plek is daar dan die rol van die Amerikanisme. Meeste van die gedrogtelikhede van die Suid-Afrikaanse bestel is afkomstig uit Amerika, veral die gedagte dat ‘n samelewing «reg» gedruk of gemanipuleer of gemoker kan word. Hulle praat van «social engineering» (sosiogeniëring is die mooi Afrikaanse woord). Dink maar aan die weersinwekkende beleid om skoolkinders met busse van bakboord na stuurboord te karwei ten einde swartes en wittes «gelyk» te maak. Waar anders as in die Goelag is so iets moontlik? Die aberrasies van «regstellende» aksie, «transformasie», «swart bemagtiging», «positiewe» diskriminasie en «politieke korrektheid» is almal Amerikaanse maaksels en is almal pogings om ongeregtighede van húlle verlede reg te stel wat hulle dan holus bolus na die buiteland wil uitvoer

In die vyftiger- en sestigerjare het die Amerikaners ‘n doelgerigte program bedryf om die Afrikaner- intellektuele elite, veral in die akademie en die media, met studiebeurse na Amerika te lok ten einde hulle blootstelling te gee aan die «lig» van die Amerikanisme. M.a.w. te kondisioneer, sodat hulle kon kwyl wanneer hulle moes, soos Pawlof se hond.

Amerika is egter ‘n spesifieke tipe samelewing met ‘n bepaalde soort bevolkingsamestelling. Dit kon, of wou, die nuwe, gebreinspoelde Afrikanerelite nie insien nie. Die Amerikaners is ‘n wit meerderheid en ‘n swart minderheid, ‘n patroon wat in die res van die wêreld meesal nie die geval is nie. In elk geval nie in Suid-Afrika nie. Daarby gaan hulle gebuk onder ‘n vernietigende skuldkompleks oor hulle swart minderheid se slawegeskiedenis. Die Amerikaanse komplekse en die manier waarop hulle dit wil besweer, word knaend aan die die res van die wêreld opgedring. En watter beter plek om dit te kan doen as Suid-Afrika waar hulle ‘n relatief klein blanke bevolking vir die honde kan gooi ten einde hulle eie rasbehepte gewete te sus? In die meeste plekke rondom die aardbol waar die Amerikaners probeer het om hulle model af te smeer het hulle net monsters geskep. Dit geld ook Suid-Afrika.

As ‘n mens suiwer ten opsigte van ras redeneer, soos die nuwe Afrikanerelite so goed by die Amerikaners geleer het, het ons hier ‘n swart meerderheid en ‘n wit minderheid . In Amerika is die swart minderheid ‘n onbeholpe en ellendige gemeenskap wat voortbestaan deur op die rug van die gewetensbeswaarde wittes te parasiteer. In Suid-Afrika het ons ‘n minderheid wat skeppend, produktief en vindingryk is en ‘n meerderheid ellendiges wat daarop teer. Dis miskien die enigste land ter wêreld waar die minderheid in staat is om vir homself te sorg as hy maar net toegelaat word om dit te doen. Dis dus ‘n radikaal ander situasie as in Amerika.

Die politieke gesprek in Suid-Afrika word gevoer in die Amerikaanse dialektiek of idioom, want dit is al waarvan baie Suid-Afrikaners weet. Hulle is stelselmatrig gebreinspoel om te glo dat die Amerikaanse patroon die enigste is. Feit is egter dat Suid-Afrika nie ‘n swart meerderheid is met ‘n wit minderheid nie, maar ‘n samestelling van verskeie duidelik identifiseerbare volke. In Amerika is dit nie so nie. Deur die Amerikaanse model op Suid-Afrika af te dwing, soos inderdaad gebeur het, kon hulle hier net ‘n politieke, ekonomiese en sosiale gedrog tot stand bring. En die man wat hierdie dinge by uitstek raakgesien het, nl. dr Verwoerd, is letterlik en fisies van die toneel verwyder.

Die probleem met die nuwe Afrikaner- intellektuele elite is dat hulle glad nie nuut is nie, maar inteendeel die mees vermoeiende napraters wat ‘n mens jou kan voorstel. Wat vir hulle nuut is, is die ou nuus uit Amerika, wat sy eie agenda het en probeer om ander daarby te laat konformeer. ‘n Mens sou kon verwag dat intellektuele die minimum analitiese en kritiese vermoë sou hê om hulle nie aan die neus te laat lei nie. Maar in hierdie opsig het die hoop ongelukkig beskaam.

Amerika het vir ons niks te bied nie en ons kan van hulle niks leer nie. Die wêreld se grootste probleem is dat daar geen alternatief vir Amerikaanse «leierskap» is nie. Daar is geen ander supermoondheid waarna die wêreld kan opsien en van wie hulle ‘n ander boodskap kan verwag as die sieklike Amerikaanse humanisme nie. ‘n Mens kan maar net jou hoop daarop stel dat werklike alternatiewe nasionale moondhede in Europa aan die ontwaak is. En wie weet, miskien bied Rusland iewers in die toekoms ook ‘n ander visie?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.