Onderhoud met Dan Roodt oor ‘Raiders of the lost Empire’

Deel op

Praag het ‘n onderhoud met dr. Dan Roodt gevoer oor sy jongste eboek-essay van 27 000 woorde, Raiders of the lost Empire.

Praag: Vanwaar die titel en waarom dit in Engels skryf?

Dan Roodt: Die titel is ontleen aan die film van Steven Spielberg, Raiders of the lost ark, waarna ek so in die verbygaande verwys. Dis vir my ‘n ewe belaglike en vergesogte verhaal as dié van die nuwe Suid-Afrika, met dié verskil dat syne fiksie is en ons s’n ‘n aaklige werklikheid. My vorige essay, Scourge of the ANC, het taamlik goed verkoop en daarom het ek gedink dis tyd om dit met iets in Engels op te volg. Ook poog ek om ‘n debat ook na die Engelse media in Suid-Afrika te laat uitkring en ongelukkig ignoreer hulle die meeste publikasies in Afrikaans. Dan is daar nog ‘n taamlike internasionale gehoor ook wat ek probeer bereik, in die VSA, VK, Swede en elders.

Praag: Sal die teks in Afrikaans ook vertaal word?

DR: Ek wil graag! Ek het reeds die eerste 1800 woorde vertaal wat hier in Afrikaans gepubliseer is. Dit sal my so drie tot vier dae neem om te vertaal en tans het egter regtig nie die tyd nie, maar dit is op my lysie. Ek vind dit nogal verrykend om tussen verskillende tale te werk, selfs Engels, want daar is altyd dinge wat mens in jou eie taal moet herskep en wat sodoende ook Afrikaans verryk. Hoewel ek dit natuurlik nie kan verdra dat Engels so in ons kele afgedruk word in Suid-Afrika nie. Intussen het ek ook weer ‘n idee of twee bygekry en dalk sal ek dit effens langer en uitvoeriger in Afrikaans verwerk. Dis in elk geval ‘n onderwerp wat so te sê onuitputlik is.

Praag: Dis ook ‘n tema van die boek, nie waar nie? Verengelsing en die oorheersing van kulturele marxisme van Britse en Amerikaanse oorsprong?

Raidersblad2DR: Ja. Maar ek beklemtoon ook hoe kitsch en kunsmatig ons hele werklikheid is. Ons plaaslike Engelse en veral die Johannesburgse elite aan die universiteite en die media, boots alles van oorsee klakkeloos na. In die teks verskyn daar ‘n mooi aanhaling uit Nietzsche, wat uit Also sprach Zarathustra kom. Ek het dit in Kaufmann se Engelse vertaling gevind, maar ek het dit ook in Duits hier:

“Ihr habt den Weg vom Wurme zum Menschen gemacht, und vieles ist in euch noch Wurm. Einst wart ihr Affen, und auch jetzt noch ist der Mensch mehr Affe, als irgend ein Affe.”

Overgezet synde: “U het die pad van wurm tot mens geloop, en heelwat in u is nog wurm. Eers was u aap, en ook nou nog is die mens steeds meer aap as enige aap.”

Engelsheid in Suid-Afrika, veral die radikale en polities korrekte Engelsheid wat ons tans beleef, is vir my sinoniem met na-apery, nabootsing, ersatz.

Praag: U verwys na Sol Kerzner, Anneline Kriel en Sun City, asook die Palace of the Lost City daar…

DR: Presies. Dis nie heeltemal oorspronklik nie, hoewel ek het nog altyd gedink het dat Sol Kerzner die vader van kitsch, spesifiek Afro-kitsch, in Suid-Afrika is. Daarom was ek nogal verras deur RW Johnson se opmerkings in South Africa’s Brave New World oor Kerzner en natuurlik sy stelling dat ons land ‘n “reusebantoestan” geword het. Ek noem dit nie in my boek nie, maar Johnson meen ook dat al die korrupte transaksies rondom casino’s die eintlik oorsprong van SEB (swartekonomiesebemagtiging) was. Die hele begrip van ‘n “verlore stad” is egter vir my ter sake, want wesentlik gaan dit oor Engelse Suid-Afrika wat hul deel voel van ‘n “verlore ryk”, die Britse Ryk. En natuurlik die herlewing van die Sap-stroming binne Afrikanergeledere wat daardie bewondering vir Engeland deel. FW de Klerk, byvoorbeeld, se pa was ‘n Nat-minister, maar hy is oombliklik bekeer tot ‘n Sap en het sedertdien nie opgehou om een te wees nie.

Praag: Die verhaal van die “One nation, one beer” is baie amusant. Ons het seker almal die advertensies vir Castle Lager gesien, maar nooit besef dis so polities gelade nie. Hoe het u daarop afgekom?

DR: Ek het mos verlede jaar so ‘n effense polemiek met Sarah Britten gehad, wat ook in die Mail & Guardian skryf en taamlik aktief op Twitter is. Ek was vaagweg daarvan bewus dat daar ‘n proefskrif by Wits oor die “One nation, one beer”-veldtog van SABMiller by Wits geskryf is en toe ontdek ek onlangs dat dit wel deur Sarah Britten ingehandig is. Sy is dus eintlik doktor Sarah Britten, anders as Pallo Jordan… haha.

Praag: Anders as Pallo Jordan… wat nou soveel simpatie kry. Maar die regering gaan mos nou sorg dat ons ‘n 100 000 PhD’s in Suid-Afrika kry, dus maak een minder seker nie soveel saak nie. En toe, toe lees u die proefskrif van Sarah Britten?

DR: Ja, inderdaad! En toe besef ek, my wêreld, die nuwe Suid-Afrikaanse identiteit is nog selfs méér kunsmatig as wat ek op my eentjie gedink het. Joe Slovo, die Lithaus gebore kommunis het die een-nasie-idee uitgedink en die wêreld se tweede grootste bierfirma, SABMiller, het dit met sy reusereklamebegroting aan ons bemark. Dít noem ek ook nie in my teks nie, maar blykbaar beskik SABMiller oor die grootste reklamebegroting in die land. Dit staan in Britten se proefskrif.

Praag: Dus het ons Sol Kerzner se Lost City en die kultuur van kitsch en casino’s wat van die hele land ‘n reusetuisland gemaak het, tesame met die Castle Lager-nasie!

DR: Dis presies waaroor dit gaan. Maar ek beklemtoon ook nogal die anti-Afrikaanse, Boerehaat-element by dit alles. Moenie vergeet nie: SA Brouerye was die eerste maatskappy wat van Afrikaans op die bierblikke ontslae geraak het, kort ná 1994. Ek onthou ek het nog ‘n brief aan Beeld geskryf waarin ek daarteen beswaar gemaak het, toe sê mense vir my: “Ag, wat maak dit saak?” Maar van die bierblik het ons gevorder tot nou waar Afrikaans binnekort van elke universiteit ook “verwyder” gaan word. Dat daar egter ‘n groter plan agter dít alles was, is ook gewis.

Praag: En Cromwell, waar hy pas hy in?

DR: Ek onthou eenslag toe die Franse skrywer en filosoof, Régis Debray, hier was – so ‘n dekade of wat gelede – het ons nogal baie lekker gesels en hy het toe aan my gesê: Nêrens het ‘n Angel-Saksiese land hom nog oorgegee aan ‘n totalitêre stelsel soos fascisme of kommunisme nie. Dit het my nogal aan die dink gesit. Toe besef ek dat Suid-Afrika eintlik so ‘n land is, want hier by ons sien ons hoe die kommunisme sienderoë heringestel word, met die onderdrukking van ons taal, rassewette teen blankes (terwyl ons geen tuislandjie of Lost City het om heen te gaan nie), asook die geweld soos by plaasmoorde, ens. Maar terwyl ek toe so skryf, dink ek skielik aan Cromwell, wat ook so ‘n fanatiese, onverdraagsame, oorlugsugtige Engelse leier was. Met dié verskil: Wat hy “sonde” genoem het, heet by ons “rassisme”.

Praag: Kan Suid-Afrika se beheptheid met “rassisme” regtig na Claudia Braude se verslag teruggevoer word? Het almal nie al daarvan vergeet nie?

DR: Miskien het almal van Claudia Braude se verslag vergeet, maar ek gaan bietjie daarop in in my essay. Die Menseregtekommissie is nog steeds aktief in hul aanslae op blankes wat hulle kwansuis aan “rassisme” sou skuldig maak en die hele begrip het so dominant geword dat niks anders meer saak maak nie. Ek dink nie Claudia Braude was self daarvoor verantwoordelik nie, maar tog was haar verslag vir my die eerste simptoom van “anti-rassistiese” en anti-blanke fanatisme wat aanstons die dominante ideologie of diskoers in Suid-Afrika sou word. Kyk maar na Russel Botman of Jonathan Jansen: hulle is eintlik oor maar na-apers van Claudia Braude met haar begrip van wydverspreide en selfs subliminale rassisme.

Praag: Gaan Engelssprekendes nie aanstoot neem nie? Want plek-plek is dit maar taamlik krities oor hulle, asook die invloed van Engelssprekende Jode in Suid-Afrika.

DR: Kyk, ek sê niks oor Jode of Engelse wat hulle nie self sê nie. Daardie aanhaling uit Nadine Gordimer waar sy oor haar Joodse ouers en haar gevoel van onbehae in Suid-Afrika, wat so ver van Engeland af is, praat, kom net so uit een van haar boeke. Afrikaners moet egter dié dinge verstaan, want uiteindelik spruit die geweld in ons land nie uit ‘n wit-swart-konflik nie, maar uit die Engelse identiteitskrisis, wat nog steeds met ons is. Hulle neem ons daarvoor kwalik dat Suid-Afrika nié Engeland is nie, dat swartes nié Engelse is nie, ens. Ek dink hulle meen dis apartheid wat veroorsaak dat swartes anders as Engelse optree! Dit sal egter goed wees as ons bietjie oor dié dinge kan begin praat, want tot dusver moes ons net hoor hoe sleg en rassisties Afrikaners is.

Praag: Iewers in die teks noem u dat ‘n Brit eenkeer aan u gesê het dat ons Afrikaners verdien om deur swartes uitgemoor te word.

DR: Ja, en net vanoggend ontdek ek ‘n uitspraak van die onderleidster van die Arbeidersparty in Brittanje, Harriet Harman, wat presies dieselfde gesê het! Dis iets wat ons moet besef: Brittanje en die hele Angel-Saksiese wêreldryk gee geen snars om wat van ons word of indien al drie miljoen Afrikaners hier uitgemoor word nie. Die Engelse identiteit, omdat dit so nou met kulturele marxisme, anti-Europese en anti-Afrikaanse chauvinisme verweef is, is baie gevaarlik. Soos Paul Craig Roberts gesê het: “Die Sowjetunie bestaan nog. Dit het net Londen en Washington toe verskuif.” Terwyl die o so Engelse Suid-Afrika natuurlik ver heen op die pad van kommunisme, kollektiewe landbou, sosiogeniëring, en dergelike, verkeer.

Praag: ‘n Engelsman vanuit die Kaap het getwiet dat u nie meer as drie boeke gaan verkoop nie…

DR: Haha, ja! Ek seg toe vir hom hy moet die boek lees, want dis onder andere vir mense soos hy bedoel. Sover ek kon sien, het hy nie meer as 100 volgelinge op Twitter nie, en sedert die eboek oor die naweek vrygstel is, het daar beslis al meer as drie verkoop.

Dan Roodt-volgelinge op Twitter, afgelope 3 maande
Dan Roodt-volgelinge op Twitter, afgelope 3 maande

Praag: Gepraat van Twitter, u het verlede week die 10 000-kerf op Twitter verbygesteek, wat volgelinge betref. En u ontvang nou nie eintlik hope gunstige publisiteit van die hoofstroommedia, wat in hul spookagtige, verlore Britse ryk vasgevang is nie. Dis nogal merkwaardig! Hoe verklaar u u opgang op sosiale media, veral Twitter?

DR: Oor die algemeen probeer ek almal op Twitter antwoord wat iets vir my te sê het en dan word al die Praag-artikels ook daarheen getwiet, dus verklaar dit die groei in my Twitter-rekening, dink ek. Aan die ander kant, en ons het dit al met al die debakels rondom Steve Hofmeyr gesien: die speelveld is nou baie meer gelyk tussen die individu en die magtige hoofstroommedia… Steve beskik oor 110 000 volgelinge op Twitter, meer as Beeld, Rapport of enige ander Nasperskoerant.

Praag: Die mondstukke van die verlore ryk?

DR: Presies, ja. Aan die einde sê ek mos rekenaarspeletjies behoort nie meer Nazi-zombies in te hê nie, maar Tommy-zombies.

Praag: Waar kan mense die eboek koop?

DR: Dis beskikbaar op praag.org, asook waarskynlik van vandag of môre af by Amazon.com as ‘n Kindle-boek. Let net daarop dat dit direk by Praag $3 of R30 kos en by Amazon $4,99 omdat hulle ook hul pond vleis eis. In elk geval sal jy dit ook vanaf Praag op jou Kindle of enige ander toestel kan lees. Met PayPal werk dit baie maklik en outomaties, terwyl jy per kredietkaart of elektroniese oorbetaling net ‘n epos moet stuur. Die beginsel is egter dieselfde, want jy sal die eboek in jou epos ontvang. Van daar af kan jy dit op jou Kindle, iPad, Android-tablet, selfoon of wat ook al, laai. ‘n Mens kan ook met die Firefox-blaaier en die Epubreader-inprop ‘n Epub op jou rekenaar lees.

Lees ‘n uittreksel van 3200 woorde hier.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.