‘OB se beheptheid met Nkandla is persoonlik’

Deel op

Die ANC het die openbare beskermer (OB) Thuli Madonsela se beheptheid met Nkandla veroordeel en gesê sy hanteer dit asof dit ’n persoonlike kwessie is.

Madonsela en Julius Malema van die EFF span tans saam om die Nkandla-molshoop ‘n berg te maak.

Zizi Kodwa, nasionale woordvoerder van die ANC, het Sondag gesê hulle vermoed Madonsela hanteer Zuma se Nkandla-antwoord as ’n “persoonlike saak buite haar grondwetlike mandaat”.

“Haar ongehoorde gedrag ontlok vrae oor haar neutraliteit asook oor haar geloofwaardigheid en die doel van haar verslag,” het Kodwa gesê.

Madonsela het in die brief onder meer gesê Zuma “ondermyn” die Grondwet deur die minister van polisie opdrag te gee om haar bevindings te evalueer, maar het vreemd genoeg geen kritiek gehad vir Malema se aapstreke in die parlement nie.

Malema het Zuma verlede week doodgeskree toe hy vrae oor Nkandla wou antwoord. Die presidensie het die antwoorde later per epos uitgestuur. Ten spyte van Zuma se samewerking sê die OB hy “ignoreer” haar verslag.

Zuma het vroeër gesê die minister van polisie moet besluit of hy wel ’n deel moet terugbetaal, asook hoeveel.

Madonsela eis nou Zuma moet binne twee weke redes aan die parlement verskaf hoekom hy nie so ’n terugbetaling moet doen nie.

Stone Sizani, ANC-hoofsweep, het gesê die OB probeer aan die parlement voorskryf wat om te doen, in plaas daarvan om die instelling se gesag te aanvaar.

Sizani het gesê die OB-verslag het reeds in die parlement gedien en ’n ad hoc-komitee gaan dit oorweeg en voorstelle doen. Hy sê haar jongste veldtog, die brief, is onverklaarbaar. “Dit skep ’n gevaarlike presedent dat haar kantoor verhewe is bo die parlement.

“Die ironie is dat die OB se brief aan die president ernstige beskuldigings insluit oor sy beweerde ondermyning van demokratiese instellings, maar sy kies self die pad van ondermyning van die wetgewende gesag, die parlement, en sy grondwetlike prosesse.”

Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, het gesê die OB se brief regverdig die standpunt wat die EFF verlede week in die parlement ingeneem het oor Nkandla.

Pres. Jacob Zuma is tans in Rusland tot Woensdag. Daar was onlangs bespiegelings oor Zuma se gesondheid.

Zuma sal pres. Wladimir Poetin vir bilaterale gesprekke ontmoet, het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking bevestig.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.