Besinning oor Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite

Deel op

Wat ek veel eerder in ANC-koppe wil inhamer, is dat Afrikaans wesenlik ‘n Europese taal is, dat Afrikaners oor eeue hierdie land opgebou en ontwikkel het.

Deel op

Blade Nzimande, die kommunistiese minister van hoër onderwys, het onlangs gesê: “Ek wil beklemtoon dat ons nie langer Afrikaanse … universiteite het nie” (Die Burger, 23 Julie, p 2). Dit is in ooreenstemming met die vermetele voorskrifte vir “sosiale inklusiwiteit” wat Nzimande pas ter intimidering van universiteite uitgereik het (Die Burger, 22 deser, p 2). Na aanleiding van eersgenoemde uitspraak het Hans du Plessis, skrywer en voorheen Afrikaans-dosent op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit, ‘n artikel geskryf wat in Beeld (24 Julie) en Die Burger (26 Julie, p 15) gepubliseer is. Ek gebruik laasgenoemde teks.

Volgens Du Plessis is daar drie argumente wat deesdae teen die voortbestaan van ‘n Afrikaanse universiteit gebruik word: “Dit is te wit; dit is uitsluitend; en wat dan van die ander inheemse tale? Die eerste is die rasgedrewe argument dat Afrikaans aan wit en aan Afrikaner gelyk is … Iemand wat nou nog die argument teen Afrikaans vereng tot Afrikaans as die wit gevaar, het oor die afgelope 40 jaar seker nie ‘n enkele wetenskaplike artikel oor die ontstaan van Afrikaans gelees nie … Dink maar aan Piet Muller se studie uit die 1960’s oor Arabiese Afrikaans, Achmat Davids se navorsing oor Slawe-Afrikaans. Verder is daar die teorie van Christo van Rensburg uit die vroeë 1980’s dat Afrikaans uit drie aanleerders-variëteite ontstaan het.”

Dit sou myns insiens hoogs misleidend en sekerlik foutief wees om te beweer dat Afrikaans uitsluitlik uit aanleerders-variëteite, dus danksy nie-wittes, ontstaan het. Die oorheersende hoofkomponent waaruit Afrikaans ontstaan het, is Nederlands. Wium van Zyl het dit pas soos volg geformuleer: “Die snelle ontwikkeling van Afrikaans was immers moontlik slegs omdat dit in wese die standaardisering van ‘n variant van ‘n reeds deeglik gevestigde taal [Nederlands] was” (LitNet, Boeke en Skrywers, 14 deser). Afrikaans is dus in mindere mate (of op ‘n ander manier) ‘n Afrika-taal as bv swart tale soos Xhosa en Zoeloe. Dit help ook om te verduidelik waarom Afrikaans met groot sukses as ‘n akademiese taal funksioneer, terwyl Afrika-tale nie só ontwikkel is nie.

Van die drie outeurs genoem in die voorlaaste paragraaf is Van Rensburg se boek oor die ontstaan van Afrikaans, So kry ons Afrikaans (2012), seker die maklikste toeganklik. Hy onderskei bv Veeboer-Oosgrens-Afrikaans, wat ‘n gesproke en geskrewe taal met ‘n Nederlandse basis was en waaruit Standaardafrikaans ontwikkel is; Khoi-Oosgrens-Afrikaans, wat ‘n gesproke aanleerderstaal was; en Oranjerivier-Afrikaans, wat Griekwa- en Nama-Afrikaans ingesluit het. In die Wes-Kaap onderskei Van Rensburg tussen bv Moslem-Afrikaans, waarin Maleise slawe-invloed te bespeur is, en Kaaps, wat met Engels deurtrek is.

Polities korrek volg hieruit dat die geskiedenis toon dat Afrikaans nie net danksy blankes ontstaan het nie. Dit is uiteraard ook algemeen bekend dat naas wit sprekers daar deesdae steeds baie nie-wit (veral bruin) sprekers van Afrikaans is. Wat dikwels polities korrek verswyg word, is die erkenning dat dit feitlik net blankes is wat Afrikaans as ‘n geskrewe taal gevestig, gestandaardiseer en ook as ‘n akademies-wetenskaplike taal uitgebou het. Dit is hierdie hoërorde-gebruike wat aan tersiêre opvoedkundige inrigtings, soos universiteite en kolleges, van deurslaggewende belang is. ‘n Ander belangrike faktor is dat blankes geneig is om (meer) lojaal teenoor hulle moedertaal Afrikaans te wees, terwyl dislojaliteit teenoor Afrikaans as moedertaal kenmerkend van nie-wittes, veral ontwikkelde bruines, bv universiteitstudente, is.

Russel Botman het aanvanklik met die slenter-argument gekom dat hy voorkeur aan bruines as studente en personeel gee ten einde Afrikaans te bevorder. Later het hy erken dat bruines in hierdie konteks Engels verkies. Om te argumenteer dat bruines Afrikaanssprekend is en ‘n universiteit op sodanige etniese en taalkundige grondslag geregverdig kan word, is ‘n futiele argument omdat die praktyk die teendeel bewys. Dit is om hierdie rede dat daar nog nooit druk uitgeoefen is om die Engels-getransformeerde Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) weer ‘n Afrikaanse inrigting te maak nie. Aan die ander kant gaan die argument dat daar blankes is wat Afrikaanse universiteite begeer, mank aan politieke oortuigingskrag weens die ANC se verbete en onverbloemde rassistiese beleid jeens Afrikaners.

Wat Du Plessis in sy artikel doen, is om polities korrek die assosiasie wat Afrikaans met wittes het sover moontlik af te skaal. Met klaarblyklike verwysing na die nuwe Universiteit Sol Plaatje in Kimberley, wat Engels as onderrigtaal het, skryf Du Plessis: “Daar is byvoorbeeld genoeg akademiese kundigheid onder gebruikers van Afrikaans om in die Noord-Kaap ‘n Afrikaanse universiteit te vestig sonder ‘n enkele wit gesig.” [Dieselfde kan van die nuwe Engelse universiteit in Nelspruit gesê word (Praag 9 Februarie).] Waarom het die Noord-Kaap en Mpumalanga dan elk ‘n Engelse pleks van ‘n Afrikaanse universiteit gekry? Eerstens weens die ANC se vyandigheid teenoor Afrikaans. Tweedens omdat Afrikaanssprekende wittes en Afrikaanse koerante geen (beduidende) druk vir ‘n Afrikaanse universiteit uitgeoefen het nie. Derdens omdat (ontwikkelde) Afrikaanssprekende bruines en swartes om politieke redes nie ‘n veldtog ten behoewe van tersiêre onderrig in Afrikaans sal onderneem nie.

Vervolgens oorweeg Du Plessis die tweede argument, naamlik dat ‘n Afrikaanse universiteit as ‘n uitsluitingsmeganisme funksioneer. Met die Potchefstroom-kampus in die gedagte skryf hy: “‘n Beleid van funksionele meertaligheid en tolkdienste om toeganklikheid te bewerkstellig, is na my mening ‘n kreatiewe beleid … Uitsluiting op grond van die onderrigmedium kan immers nie net vir Afrikaans geld nie. ‘n Engelse universiteit in die Wes-Kaap [soos die UWK] sluit die meerderheid inwoners van die Wes-Kaap uit.* Dat die ‘meeste mense’ Engels kan verstaan, is ‘n drogredenasie omdat alle syfers daarop dui dat meer as die helfte van die inwoners van Suid-Afrika nóg Engels nóg Afrikaans goed genoeg verstaan om op tersiêre vlak daarin opgelei te word.” [*As ANC-aktivis het Jakes Gerwel die leiding geneem om van die UWK ‘n eentalige Engelse universiteit te maak. Desnieteenstaande word hy, soos Russel Botman, wyd en syd maar valslik as ‘n Afrikaanse taalstryder geloof. By albei het ANC-politiek altyd voorkeur bo Afrikaans geniet.]

Oor die mite van uitsluiting is Du Plessis op stewige grond. Met verwysing na die samesmelting van bv die Potchefstroomse Universiteit met dié van Bophuthatswana skryf Du Plessis: “Kom ons erken dit nou maar: Die gedwonge samesmelting van hoëronderwysinstellings [deur die wysneus ANC-minister Kader Asmal] het nét Afrikaans beduidend benadeel* en gelei tot uitsluiting van almal wat nie Engels is nie. Toeganklikheid tot gevorderde opleiding is ‘n fundamentele reg, maar Engels in Suid-Afrika as enigste taal van onderrig is vir baie Suid-Afrikaners ‘n fundamentele probleem en nie die oplossing nie.” [*Dit is ook net Afrikaans wat buitensporig benadeel is toe die twee tradisionele ampstale (Afrikaans en Engels) in die nuwe Suid-Afrika deur elf ampstale vervang is. Die ander tien is almal bevoordeel, insluitende Engels wat buitensporig gebaat het.]

“Die derde argument wat ek nie kan aanvaar nie, is dié dat as daar ‘n universiteit met Afrikaans as ankertaal is, sal die ander inheemse tale dieselfde kan eis. Ek stem volkome daarmee saam, maar dit verhinder nie Afrikaanse onderrig nie; dit beklemtoon juis die potensiaal van onderrig op alle vlakke in al die inheemse tale.” Spreekwoordelik is Du Plessis hier op heelwat dunner ys. Afrikaans is veeleerder (of wesenlik) ‘n Europese as ‘n Afrika-taal. Dit is waarom Afrikaans met dieselfde mate van sukses as Engels as onderrigtaal aan universiteite (wat ‘n Europese uitvinding is) benut kan word. As daar gepoog word om dieselfde met ‘n Afrika-taal te doen, sou omtrent al die vakkundige, wetenskaplike en tegniese terme direk uit Engels oorgeneem moet word omdat Afrika-tale nog nie ontwikkel is om sodanige hoër funksies te verrig nie.

“Dit is logies dat Afrikaans ‘n regverdige rol as tersiêre onderrigtaal eis omdat dit ‘n funksie is wat die taal reeds ‘n eeu lank vervul. Dit beteken nie dat ander tale nie onderrigtale mag wees nie. Dit beklemtoon juis die feit dat hierdie hoë funksie ook met ‘n bietjie politieke wil ontwikkel kan word … Suid-Afrika kan dit nie bekostig om nié ‘n Afrikaanse universiteit te hê nie, omdat die produkte daarvan onteenseglik ‘n nasionale bate is … Ek dink aan die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit as moontlike Afrikaanse universiteit.”

“Ek praat van ‘n Afrikaanse universiteit waar ras geen rol in die toelating van studente of die aanstelling van personeel speel nie. Dit gaan om ‘n veelrassige Afrikaanse instelling.” My indruk is dat Potchefstroom in die Theuns Eloff-era in groter mate as die Universiteit Stellenbosch (US) en ander eens Afrikaanse universiteite daarin geslaag het om nie-rassisties met studente-toelating en die aanstelling van personeel om te gaan. Dit is waarom dit die aantreklikste universitêre opsie vir Afrikaners was. Anders as by die US het Afrikaans op Potchefstroom die hoofonderrigtaal gebly en is dié onderrig meer suksesvol met tolking aangevul as by ander eens Afrikaanse universiteite. Maar dit lyk asof hierdie aanvaarbare huidige opset in die Dan Kgwadi-era ten koste van die heil van Afrikaans en blankes ten gunste van Engels en swartes getransformeer gaan word.

‘n Mens kan sê dat Du Plessis se standpunt oor die algemeen aanbevelingswaardig is. Maar ek vra my af waarom sy Potchefstroomse kollega, Wannie Carstens, nie ook ‘n soortgelyke sterk pro-Afrikaanse standpunt inneem nie. In Carstens se geval kan daar moontlik beter resultate wees omdat hy die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is, asook ‘n direksielid van die Afrikaanse Taalraad en van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument is. Carstens het ook sitting in die US-raad. Die lood wat hy in sy skoene het, word politieke korrektheid genoem. Carstens is naby aftrede en Du Plessis het reeds afgetree. Hulle het dus min te verloor en kan die heil van Afrikaans voortreflik bevorder deur hulle sterker teen die magte van die bose te verset.

Maar ‘n mens moet jou ook afvra waarom Potchefstroom twee Afrikaans-dosente het wat hulle openlik vir Afrikaans beywer, terwyl geeneen van hulle kollegas op Stellenbosch bereid is om selfs maar ‘n piepgeluid ten gunste van Afrikaans teen die Botman-beleid te maak nie. Eintlik is die teenoorgestelde waar, want twee van die US se Afrikaans-dosente, Marlene van Niekerk en Leon de Stadler, voel hulle glad nie geroepe om vir Afrikaans in die bres te tree nie. Hulle beywer hulle eerder vir twee- of selfs meertaligheid.

Dit laat my ook dink aan die armsalige ATKV wat na die SABC gegaan het om “hande te vat”. Daarna is beweer: “Dit was goed vir Afrikaans” (Die Burger, 24 Julie, p 3). Maar dan blyk dit “dat hulle nie daarop aangedring het dat die Afrikaanse programme na SABC2 moet terugskuif nie.” Red nou ‘n taal met sulke wankelmoediges. Op LitNet het die ATKV homself pas op die skouer geklop deur daarop te roem dat hy kerngesond en die inklusiefste Afrikaanse kultuurorganisasie is. Dit beteken doodeenvoudig dat tradisionele Afrikaners en Standaardafrikaans nie op ondersteuning uit daardie oord staat kan maak nie.

Sedert ek die bostaande teks geskryf het, het daar drie verdere tersaaklike artikels verskyn. Die eerste een is deur Ampie Coetzee, wat eens ‘n Afrikaans-dosent aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en daarna aan die UWK was (Die Burger, 13 deser, p 12). Coetzee betreur tereg die verdwyning van die Afrikaans-departement aan Wits en ook die verengelsing van die UWK. Hy wys daarop dat daar in 1987 1 000 eerstejaarstudente in Afrikaans aan die UWK was. Tans is daar 220. Die Burger het destyds daarop geroem dat die UWK die grootste Afrikaans-departement (vanselfsprekend in die wêreld) het.

Wat nóg Coetzee nóg Die Burger noem, is waarom dit só was. Dit was nie te danke aan skielik opwellende Afrikaans-lojaliteit by bruin studente nie. Dit was te wyte aan veral Jakes Gerwel wat ‘n Afrikaans-dosent was en sowel in die klas as daarbuite sy kommunistiese UDF/ANC-politiek gepredik het. Adam Small het in bv die jare sewentig ook sy posisie as filosofie-dosent misbruik om onrus op die UWK-kampus te stook. Die verskil tussen Gerwel en Small was myns insiens (en ek sê dit op grond van eerstehandse kennis) dat Gerwel, soos Nelson Mandela, geweld as ‘n aanvaarbare opsie beskou het, terwyl Small daarvan teruggedeins het.

Toe Gerwel in 1987 die UWK-rektor geword het, is Coetzee in sy doseerpos aangestel. Coetzee is deesdae tereg ontsteld oor die agteruitgang van Afrikaans, maar hy is deels daarvoor te blameer, aan die UWK en elders, weens sy destydse uitgesproke linkse politiek. Byvoorbeeld, Coetzee was in 1987 een van die Dakar-gangers. Nogtans kan ‘n mens die sentiment in sy huidige geweeklaag ondersteun: “Die bittereinders wat gestreef het vir die toekoms van Afrikaans se einde het bitter geword. Daar is net nie meer verset nie.” Die reg op weerstand, op die aanteken van beswaar, is myns insiens ononderhandelbaar; vanselfsprekend ook wat Afrikaans betref.

Die voorlaaste artikel wat ek hier betrek, is een deur Wannie Carstens (Die Burger, 16 deser, p 11). Aanvanklik versuim hy om na die Universiteit Port Elizabeth te verwys as een van die universiteite waar Afrikaans as onderrigtaal gesneuwel het. Carstens vestig tereg die aandag daarop dat Kader Asmal se samevoeging van universiteite en technikons onderrig in Afrikaans ernstig benadeel het. Dit is immers waarom die Potchefstroomse universiteit en dié van Bophuthatswana verplig is om saam te smelt, Dan Kgwadi onlangs as rektor aangestel is en daar deesdae verwag word dat die Potchefstroom-kampus in dieselfde mate as die Mafikeng-kampus moet verswart en verengels.

Carstens verduidelik tereg dat die ANC-regering die foutiewe uitgangspunt het dat nasiebou en sosiale samehang net deur Engels bereik kan word. Ook dat die regering ‘n ideologie-gedrewe program het, bv wat betref transformasie (dus dat die sogenaamde voorheen benadeeldes bevoordeel moet word), asook demografiese ras- en geslagsverteenwoordiging. Weens ontoereikende owerheidsfinansiering word die verengelsingsproses in werklikheid versnel. Universiteite word eintlik verplig om ‘n voorkeurtaal (Engels of Afrikaans) vir befondsing te kies.

My beswaar teen Carstens, soos teen sy kollega Du Plessis (hierbo), is dat hulle wil hê dat Afrikaans op die rug van nie-wittes moet ry om by die ANC-regering die gewenste indruk te wek. Dieselfde motivering is onderliggend aan die misleidende klem wat dikwels op Afrikaans as Afrika-taal geplaas word. Carstens redeneer bv dat deur Afrikaans te kortwiek “word die ontwikkeling van agtergeblewe Afrika-tale nog verder benadeel.” Wat ek veel eerder in ANC-koppe wil inhamer, is dat Afrikaans wesenlik ‘n Europese taal is, dat Afrikaners oor eeue hierdie land opgebou en ontwikkel het (insluitende universiteite) en dat die ANC-regering Afrikaans en Afrikaners uit eie reg moet respekteer en aan hulle moet gun wat hulle toekom. Dus, die Boere wil Afrikaanse universiteite hê en geen swarte moet hom aanmatig om dit vir ons te ontsê nie. Hierteenoor is Carstens se polities korrekte standpunt: “Afrikaans en ras mag nie gemeng word nie.”

Die werkwyse wat Carstens voorstel, is myns insiens deurtrek van dwaasheid. “Universiteite moet saamwerk om ‘n oplossing vir meertaligheid op kampusse te kry … Ons moet vooraf weet die enigste oplossing vir Afrikaans (en die ander Afrika-tale) lê binne ‘n meertalige konteks … Die saak van Afrikaans moenie in isolasie gesien word nie. Die ander tale móét betrek word.” Dit is hoe Afrikaans vorentoe deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns “bestuur” gaan word.

Hierteenoor stel ek my oortuiging dat die enigste sinvolle (bv ekonomiese) oplossing vir universiteite (of kampusse) is dat elkeen ‘n enkele onderrigtaal moet hê. Dit is terselfdertyd die enigste reddende situasie vir Afrikaans. As Afrikaans een van twee (of meer) onderrigtale op ‘n kampus is, sal dit vroeër of later weens die Suid-Afrikaanse politieke situasie deur Engels ondergeploeg word.

Wat ek bepleit, is nie net die bestaansreg nie maar ook die werklike bestaan van suiwer Afrikaanse universiteite. Dit is hierdie reg wat Blade Nzimande ontken. Volgens hom kwalifiseer eentalige Engelse universiteite as Suid-Afrikaanse universiteite maar nie eentalige Afrikaanse universiteite nie. Nzimande se standpunt is in ooreenstemming met wat ek die Willie Esterhuyse-wet van 2007 (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, 2013, p 158) noem. Dit kan soos volg geformuleer word: “Die ANC-regering befonds universitêre onderrig in Engels. As onderrig ook in Afrikaans aangebied word, moet die universiteit dit self finansier.” Carstens, anders as Nzimande, plaas die klem op (siellose) meertaligheid, wat Afrikaans as akademiese taal gaan vernietig.

Laastens verwys ek na Jaap Steyn se artikel in Rapport (10 deser) wat oor Afrikaans ook buite akademiese verband handel. By Steyn kan ‘n mens altyd reken op ‘n pro-Afrikaanse en pro-Afrikaneringesteldheid. Voorts improviseer ek op wat hy geskryf het. Steyn vestig die aandag op die kruipende verengelsing in die plaaslike samelewing. Dit is nie bloot ‘n geval dat Engels die dominante amptelike taal in die nuwe Suid-Afrika geword het nie, maar ook dat Afrikaans as sodanig al hoe meer deur Engels vermurwe word. Daar is glad te min gesonde weerstand teen taalvermening, naamlik die onnodige opname van Engelse elemente in gesproke en geskrewe Afrikaans. Byvoorbeeld, die mengeltaal Kaaps word verheerlik en die Afrikaanse Taalraad versuim skandalig maar doelbewus en polities korrek om suiwer Afrikaans enigsins te bevorder.

In die massamedia (pers, rolprent, radio, televisie, internet) word gemengde Afrikaans eerder gepropageer as teengestaan. Daar word gedink dat geradbraakte Afrikaans snaaks is. Dit is vir hierdie mense skynbaar lekker om met Afrikaans te mors. In ouerhuise, op skool en in die kerk kan hierdie neiging teengewerk word, maar dit gebeur nie noodwendig nie. Sommige predikante wend hulle juis tot verengelsing om in die mode te probeer wees; dus om oënskynlik te wen aan broodnodige aktualiteit. Die kern van die saak is dat geradbraakte Afrikaans deesdae die stempel van politieke verligtheid dra. Daarmee hoop sommige Afrikaanssprekendes om hulle openlik van die “slegte verlede” en die polities en selfs moreel gediskrediteerde Afrikaner te distansieer.

Die voorafgaande lei tot hierdie onvermydelike (maar te sag gestelde) gevolgtrekking: “dat dit twyfelagtig is of die soort Afrikaans wat so deur Engels beïnvloed word, hom teenoor Engels sal kan handhaaf.”

Les bes skryf Dine van Zyl (Die Burger, ByNaweek, 23 deser, p 11): “Dit is ‘n verskriklike onreg om mense van hul taal te ontneem … Praat Afrikaans, wil ek smeek. Praat ordentlike Afrikaans.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.