Merkel in Washington se onverkwiklike hoek geverf

Deel op

Wanneer dit kom by die definisie van sinvolle ekonomiese beleid vis-à-vis Oos-Europa, kan Duitsers beter staatmaak op die Sosiaal-Demokrate as die Atlanties-gesinde Christen-Demokrate.

Dit was die CDU se Adenauer Stiftung wat probeer het om bokskampioen Vitali Klitschko as die volgende president van die Oekraïne in Desember verlede jaar aangewys te kry, maar het nie rekening gehou met die Amerikaanse assistent-sekretaris van buitelandse sake Victoria Nuland se eie destabiliseringsplanne vir die land nie.

Geen sodanige kleurrewolusiedwaasheid het van die SPD gekom nie. Die Duitse visekanselier Sigmar Gabriel (SPD), wat Merkel so vroeg soos 2015 sal kan uitknikker, het intussen gesorg vir ‘n paar voorstelle met plofkrag.

Die eerste is dat die Krim Russies moet bly. Dit was in elk geval altyd Russies, totdat die VSA besluit het hulle soek ‘n verskoning om die Koue Oorlog en die sukkelende NAVO te laat herleef.

Sigmar het pas ure voor Merkel se besoek aan Kiëf verklaar dat die Oekraïne ‘n federale staat moet word, en nie ‘n eenheidstaat soos wat die operette-Nazi’s van die junta dit graag wil hê nie.

Washington en Merkel moet kook by die aanhoor van hierdie weldeurdagte oplossings wat hulle oorlogsplanne teen Rusland in die wiele ry.

‘n Fassinerende klein detail wat niemand skynbaar nog opgemerk het nie, is dat die SPD hul Grosse Koalition met die CDU kan torpedo en dadelik ‘n meerderheidregering kan vorm met die Groenes en Kommuniste en oornag, sonder verkiesings, die leisels kan oorneem.

Dit maak Gabriel die magtigste politikus in Duitsland, want hy het opsies, in teenstelling met Merkel wat haarself al hoe meer in Washington se ongewilde hoek bly verf.

Nog ‘n interessante feit is dat die magtige Duitse nywerheid Merkel se anti-Russiese beleid met toenemende konsternasie gadeslaan. Dit is ‘n beleid wat deur Washington aangevoer word en tot Berlyn se uitsluitlike nadeel nagevolg word.

Nie alleen is Merkel se gedienstigheid aan Washington ongewild by nyweraars nie, maar ou swaargewigte uit linkse en regse kampe soos kanseliers Helmut Schmidt, Helmut Kohl en Gerhard Schroeder het reeds gewaarsku dat die huidige gevaarlike anti-Russiese koers Duitsland duur te staan kan kom.

Gabriel kan dus reken op aansienlike ondersteuning van Duitse kiesers van alle partye.

Alhoewel Angela Merkel die Euro-krisis uitstekend hanteer het, was sy nie opgewasse vir Washington nie.

Europa het politici nodig wat na hul eie mense se belange omsien en nie Washington oorlogsugtige imperiale projekte ondersteun nie. Wladimir Poetin en Marine Le Pen is twee leiers wat dit kan doen.

‘n Intelligente Duitse politikus kan die Europese politieke driemanskap help vorm om die Anglo-Amerikaanse houvas op die vasteland te likwideer en die “Weste” te vervang met die “Noorde”: Die Parys-Berlyn-Moskou-as.

In 2003 is die gedagte van die Parys-Berlyn-Moskou-as gebore, toe Rusland, Duitsland en Frankryk geweier het om die Amerikaners op hul verwoestende Irak-safari te vergesel.

Met hoe Irak en die Midde-Ooste tans daar uitsien, was Wladimir Poetin, Gerhard Schroeder, en Jacques Chirac se instinkte destyds reg.

Gelukkig het Rusland ‘n bestendige leier tot dusver gehad wat die gekheid van sulke optrede in die olieryke lande kon uitwys.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.