Chaos breek uit in parlement

Deel op

President Jacob Zuma se antwoorde op parlementêre vrae het in die slag gebly weens die chaos wat Donderdagmiddag in die Nasionale Vergadering uitgebreek het toe die EFF geweier het om sy antwoord oor Nkandla te aanvaar.

Die antwoorde is later per e-pos uitgestuur.

Die Speaker in die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete het intussen om verskoning gevra aan president Zuma oor die ontwrigting in die parlement.

Die verrigtinge is onderbreek toe oproerige EFF-lede vir Zuma oor veiligheidsopgraderings aan sy Nkandla-woning getart het. EFF-lede het Zuma openlik en herhaaldelik uitgejou.

Hulle wou weet wanneer hy van plan is om van die meer as R200 miljoen wat bestee is, terug te betaal.

Mbete het veiligheidsbeamptes ontbied om die EFF parlementslede uit die gebou te verwyder, maar die EFFers het hulself teëgesit daarteen.

Mbete sê die Vryheidsvegters het geen respek vir die parlement nie en dat dit ook die gevoel onder die meerderheid van die ander parlementslede is.

‘n Parlementêre komitee sal aangewys word om die EFF se gedrag te ondersoek. Daar sal glo gekyk word of die lede vir die ontwrigting gestraf moet word.

Die ANC-jeugliga het hul skok oor die “anargie en geweld van die EFF” uitgespreek.

“In hul aandagsoek pogings mag sommige van hulle dink dat hulle radikaal is. Die gedrag gesien in die parlement vandag was nie net ‘n skande nie, maar ook gewelddadig.”

Die Liga sê Suid-Afrikaners moet nie aanvaar dat LP’s betrokke raak in fisiese aanvalle binne die Parlement nie.

‘n Onderonsie het uitgebreek tussen die Liga en die EFF kort nadat Mbete die sitting laat verdaag het na die EFF se weiering om die gebou te verlaat nadat sy beveel het om te gaan. Braam Hanekom is glo bygedam deur die EFFers.

Hanekom se aanranding is ‘n “baie ernstige belediging vir Suid-Afrika, asook ook ‘n kriminele daad” het die Liga gesê.

Die leier van Cope, Mosioua Lekota sê die ANC moet aanspreeklikheid aanvaar vir die chaos in die Nasionale Vergadering.

Volgens Lekota kan daar slegs orde in ‘n land wees wanneer die regerende party die grondwet respekteer.

Intussen het die ANC die EFF-leier Julius Malema veroordeel, en sê sy party het gewelddadige neigings wat die land kan laat agteruitgaan.

Die DA het sy kommer oor die voorval uitgespreek, en sê dit kan die “toekoms van die land in gedrang bring”.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.