Geen sprake van ANC-leierskapstryd nie

Deel op

Die ANC in Gauteng se pogings om Cyril Ramaphosa vir leierskap van die ANC aan te wys, is voortydig, het die ANC Jeugliga op ‘n nuuskonferensie gesê.

Die ANC-voorsitter in Gauteng, Paul Mashatile, het vroeër openlik sy steun aan Ramaphosa toegesê om die ANC-leier en president van die land te word.

Dié haastige stap kom nadat die Valke toegeslaan het op vermeende bedrog van meer as ‘n miljard rand in Gauteng wat verband hou met een van Mashatile se binnekringlede, Brian Hlongwa, hoofsweep van die ANC in Gauteng. Hy is ook die mede-eienaar en uitvoerende voorsitter van Brisigo Properties (Edms) Beperk.

Gerugte doen die rondte dat die geld aangewend moes word om ‘n anti-Zoeloe-faksie in Gauteng te befonds en die kern van die ANC na Johannesburg uit Pretoria te skuif. Die DA het ook die Mashatile-faksie gesteun totdat die bedrogondersoek op die lappe gekom het.

“Ons het nog nie ‘n posisie oor die aangeleentheid nie. Dis hopeloos te vroeg, want die benoeming van leierskap – en die leierskapsverkiesing – vind eers in 2017 plaas,” het Magasela Mzobe, die Jeugliga se koördineerder, aan Beeld gesê.

Adriaan Basson, redakteur van Beeld, het vandeesweek hard probeer om die anti-Zoeloe en anti-Afrikaner-faksie ‘n hupstoot te gee met gratis bemarking van sy jongste prul oor Zuma.

Die Liga se nasionale konferensie vind van 24 tot 28 September by Gallagher-landgoed in Midrand, Gauteng plaas, waar nuwe leiers aangewys sal word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.