Beroepspolitici kom oral in die wêreld voor, maar nêrens floreer hy soveel soos daar waar ‘n enkele politieke party te lank aan bewind bly nie. As immorele wese is die eenpartybedeling die ideale teelaarde vir hierdie professionele parasiet. Die ou Nasionale Partybewind het hordes van hierdie egoïste opgelewer, mense met geen sin vir verantwoordbaarheid aan hul kiesers of bloot aan dit wat moreel en eties is nie. Soos die party se houvas op die land versterk het, so het hul houvas oor elke aspek van party, staat en samelewing toegeneem.
Hy is die gatkruiper wat woord vir woord uiter wat die politieke leierskap van hom verwag. Hy verkoop sy siel aan enige donateur of weldoener solank dit sy opgang in die party versnel. Hierdie is die laaste soort mens wat jy aan beheer van ‘n land se sake wil hê wanneer daardie land by ‘n kruispad is. Hy sal hom nooit teen die heersende idees uitspreek nie en skep behae daarin om die leierskap gelukkig te hou. Hierdie tipe persoon ontvang ‘n kinderlike plesier by die aanhoor van “Jy het jou taak wel gedaan”. Deur te konformeer, wen hy die guns van sy meerderes in die party.
Hy beskik oor ‘n diepgesetelde minagting vir sy volksgenote en handhaaf ‘n utilitêre misbruik van sy ondersteuners. Stel hom in beheer van enige onderhandelling en jy kan verseker wees dat hy die opponent se kant gaan kies bo diegene wat hy veronderstel is om te verteenwoordig.
As iemand wat sy opgang gemaak het deur gatkruippery, mooipraatjies en beloftes stel hy nie homself vrywillig bloot aan konflik nie. Langs die onderhandelingstafel is sy strewe altyd, vrede ten alle koste”; hy het nie die diepte van karakter om te staan of te val by dit waarin hy glo nie, want behalwe sy eie ego glo hy in niks. Of hy sy mense by die onderhandelingstafel verloën het en of hy homself deelgemaak het van die oorwinnaar se regime, is vir hom om’t ewe. Agterna sal hy as apologeet vir die oorwinaar optree en gedurig vingerwysend neersien op sy eie mense as die grootste gevaar vir die nuwe status quo wat hy histrionies omhels het.
Hierdie volksverraaiers kom in alle terreine van ‘n volk se bestaan voor; soms is hulle poltitici, soms joernaliste, soms kerklui, kultuurmanne, ensovoort. Deur ons volk se ganse geskiedenis tref mens hierdie tipes aan. In ons onlangse geskiedenis is daar baie van hulle. Onmiddellik kan ek aan sommer drie sulkes dink. Roelf Meyer, daardie verraderlike “onderhandelaar” wat nie kon wag om ons land vir die ANC te gee nie, Marthinus van Schalkwyk, die mees patetiese leier en grootste hanswors wat die NP ooit opgelewer het, asook verskeie Afrikaanse joernaliste wat, voorheen meer blatant en tans meer verskuil, by elke geleentheid as apologeet vir die huidige orde optree. FW De Klerk, daarenteen, is moontlik nie soseer deur sy ego aangespoor nie. De Klerk se motivering was baie meer koudbloedig. Immers het sowel PW Botha as Van Zyl Slabbert al geinsinueer dat De Klerk veraad vir kontant gepleeg het.
In sy strewe daarna om as die “redelike man” voor te kom, verloor die beroepspolitikus alle rede. Vir hom is die afgestompte en dowwe klank van politieke clichés die instrumente waarmee hy sy voorspelbare bedrog pleeg.
Tans probeer hierdie politieke drek weereens ons mense in verraderlike gesprek met die ANC lei. Tydens die doodsnikke van die NP het die bende wat daardie party tydens sy sterwensroggelings gelei het, naamlik Marthinus van Schalkwyk en sy ewe laakbare adjudante François Beukman en André Gaum, onderduimse ooreenkomste met die ANC bekonkel om vir hulself parlementêre en regeringsposte te verseker. Noudat die ANC aangedui het dat dit opnuut “gesprek met Afrikaner meningsvormers wil aanknoop”, gryp hierdie politieke hoere weer die geleentheid om hul eie belang te bevorder.
Vir seker het die ANC ‘n verskuilde agenda wat bedoel is om ons as volk verder te verneder en te ondergrawe. Hierdie opportunistiese beroepspolitici, naamlik Van Schalkwyk, Beukman, Gaum en Johan Gelderblom, doen hulself tans voor om die “Afrikanerleiers” te wees wat dan die Afrikaner in sulke gesprekke sal lei. Die blinde vermetelheid van hierdie volksverraaiers om te dink dat die Afrikaner die geringste respek vir sulke skuim het, is die direkte gevolg van hul ambisie en begeerte om weereens eie belang ten koste van die volksbelang te bevorder.
Die ander samesweerders in hierdie jongste komplot sluit in Afrikanerkapitaliste soos dr. Steve Booysen (uitvoerende hoof van Absa), Van Zyl Slabbert, asook linkse Afrikanerakademici soos ANC-sikofante proff. Willie Esterhuyse, Sampie Terblanche en die oud-politikus dr. Esther Lategan.
Dit is belangrik dat die Afrikaner rekening hou met hierdie bedrieërs se jongste inisiatief. Immers sal hulle eendag vir hul verraad moet teregstaan.