Pakistan op ‘n mespunt

Deel op

Die gewilde voormalige krieketspeler en nou politikus Imran Khan het vir wydverspreide burgerlike ongehoorsaamheid in Pakistan gevra.

Hy het ondersteuners aangemoedig om op te hou om belasting en dienste te betaal in ‘n poging om die regering van die Eerste Minister Nawaz Sharif omver te werp.
 
Die populistiese politikus is vasberade om sy uitdaging aan die magshebbers deur te voer. In ‘n toespraak na ‘n derde dag van protes in Islamabad, het hy gewaarsku dat hy binnekort nie langer in staat sal wees om sy ondersteuners te keer om die premier se huis te bestorm nie.
 
“Ons moet besluit wat om te doen met Nawaz Sharif, omdat hy al die wette ontduik, en hy die verkiesing gekook het,” het Khan aan ‘n skare van honderdeduisende gesê. “Ons kan nie toelaat dat hierdie onregverdige regime voortgaan nie.”
 
Die protes het die broosheid van Pakistan se demokrasie beklemtoon, en vrese van ingryping deur die land se weermag opnuut laat posvat. Volgens berigte het 300.000 betogers gehoor gegee aan Kahn se oproep.
 
In ‘n toespraak wat hy beskryf as die belangrikste toespraak van sy lewe, het Khan gesê geen belasting, insluitend BTW, en geen elektrisiteitsrekening moet aan ‘n “bedrieglike” regering betaal word nie.

Khan, wat voorheen ‘n veldtog gevoer het oor die “oppergesag van die reg”, het by vorige geleenthede die betaling van belasting aangemoedig.

Pakistan se lae belastinginsamelingskoers en ‘n onvermoë om verbruikers te kry om te betaal vir hul elektrisiteit is een van die land se mees dringende ekonomiese probleme.
 
Khan het ook gesê binnekort sal die “Rooi Sone” – ‘n gebied waar die Eerste Minister se huis en kantoor, die Parlement, ministeries, howe, ambassades, en veral die Amerikaanse ambassade is – nie meer veilig wees nie.
 
Die skare het by die vooruitsig van die afbreek van versperrings, die hardste gejuig. Sommiges het reeds hul gasmaskers aangehad, en sê hulle is gereed vir traangas.

Die Pakistanse regering moes Saterdag 30,000 veiligheidsmagte ontplooi teen die optog om Islamabad se sensitiewe gebiede te beskerm, in een van die grootste vredestydbetogings tot nog toe in Pakistan.

Intussen het Kahn ook die die CIA se stasiehoof ontmasker. Dit is die tweede CIA-hooggeplaasde wat deur Kahn uitgewys word.

In 2010 het hy Jonathan Banks ontmasker en onlangs vir Craig Peters Osth. Banks moes sy pos ontruim. Dié ongelukkigheid kom weens die VSA se aanhoudende aanvalle op burgerlikes mbv onbemande tuie in Pakistan.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.