Die Franse munisipale kandidaat, Anne-Sophie Leclere, wat ‘n foto van die swart Franse minister van justisie Christiane Taubira tesame met dié van ‘n sjimpansee op haar Facebookblad geplaas het, is in Julie vanjaar tot 9 maande tronkstrof en € 50 000 (R750 000) boete gevonnis (sien praag-berig in Engels). Sy mag vir 5 jaar ook nie weer aan die politiek deelneem nie.

Dit blyk nou egter dat die oudkandidate van die Front National, wat sedertdien uit die party geskors is, in haar afwesigheid en sonder enige regsverteenwoordiging gevonnis is, volgens ‘n berig op ‘n nasionalistiese webwerf, Bloc identitaire. Wat die vonnis nog vreemder maak, is dat sy nie in Frankryk aangekla is nie, maar in Frans-Guyana, ‘n Suid-Amerikaanse kolonie van Frankryk wat deesdae as ‘n “oorsese departement” bekendstaan.
Die linkse swart minister van wie die foto geplaas, Christiane Taubira, is van Guyana afskomstig en het toutjies getrek om Anne-Sophie daar in absentia te laat verhoor omdat die antiblanke sentiment daar sterker as in Frankryk is. Sy is van laster en “aanhitsing tot rassehaat” aangekla.

Tans is dit onduidelik of Anne-Sophie Leclere haar vonnis in Frankryk of in Guyana sal moet uitdien. ‘n Facebookblad ter ondersteuning van die voormalige politieke kandidaat is intussen in die lewe geroep en het reeds 16 775 mense wat daarvan hou. Selfs diegene wat voel haar fotomontage was “in swak smaak”, meen dat die tronkstraf en besonder hoë boete heeltemal buitensporig is.
Die meeste publikasies wat aan laster teen byvoorbeeld mev. Marine Le Pen in Frankryk skuldig bevind word, ontvang gewoonlik ‘n boete van €1000 wat opgeskort word en geen tronkstraf nie.