ANC wil ‘uitreik’ na Afrikaners met naam vir Pretoriase Stadsaal

Deel op

Die Tshwane-metroraad gaan glo die Pretoriase stadsaal na Marthinus Pretorius, stigter van Pretoria, vernoem, “want die Afrikaner en hul erfenis is ook vir ons belangrik”.

‘n Woordvoerder van Kgosientso ­Ramokgopa, burgemeester van Tshwane, het Maandag gesê die burgemeester wil glo nie ‘n “verdeelde stad lei nie”.

Pretoria is op 16 November 1855 deur oudpres. Marthinus Wessel Pretorius (1819 – 1901) gestig, seun van die beroemde Voortrekkerleier Andries Pretorius.

Die metroraad is sedert April met opknapping van die saal, wat meer as 80 jaar oud is, besig. Onderhoud aan die orrel, “een van die land se waardevolste kulturele bates” word ook gedoen.

Die orrel, met meer as 6 000 pype, is in die dertigerjare van die vorige eeu gebou, maar is jare laas gebruik.

“Die opknapping is ‘n simbool dat die Afrikaner en minderheidsgroepe vir ons belangrik is,” het die Tshwane se woordvoerder aan Beeld gesê.

Hy het gesê die ANC is besig om uit te reik na Afrikaners. “Ons is besig om goed te besin oor wat nasionale identiteit werklik is.”

Prof. Fransjohan Pretorius, geskiedenisdosent aan die Universiteit van Pretoria, het dit as “verrassende nuus” beskryf en die opknappingswerk verwelkom.

“Dit wys Afrikaners word as belangrik geag. Dit moet net nie in ruil vir Pretoria se naam wees nie.”

Dit is nie egter nie bekend of die straatname in Pretoria weer terugverander gaan word na die oorspronklike name nie.

Die stadsaal behoort glo teen einde vanjaar klaar te wees, want die metroraad wil die Nuwejaar-aftelling daar hou.

Die hele projek kos meer as R30 miljoen volgens die stadsraad se woordvoerder.

In 1857 is Pretorius jr. verkies tot eerste president van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Pretorius jr. se standbeeld staan buite die stadsaal in Pretoria.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.