Superblitsbukskoning!

Deel op

Met soveel motors om van te kies in Suid Afrika kan dit ‘n baie moeilike keuse raak. Sê nou maar net jy is in die mark vir ‘n motor wat superverrigting bied, praktiese elkedagpendel en nie te swaar op jou sak sal wees nie. Wat koop jy?

Daar is ‘n paar opsies. Mens dink aan blitsbukse soos die Ford Fiesta ST of VW Polo GTi, maar die motors is effens knap en nogals duur vir sulke klein motortjies. Daar is ander opsies soos die groter VW Golf GTi en Ford Focus ST, maar met die nuwe generasie Mercedes A45 AMG en BMW se M135i is die VW en Ford nie regtig opgewasse nie.

Die Audi S3 Sportback
Die Audi S3 Sportback

Ons het na ‘n paar motors gaan kyk wat wel kers sal kan kers vashou by die twee Duitsers.

Audi S3 Sportback

Die gewone Audi A3 is een van my gunstelingmotors op die pad vandag en by verre een van die bestes in die segment. Voeg nou hierby Quattro-aandrywing wat gekoppel is aan Audi se S-Tronic-ratkas wat blitsig gladde ratskakelings moontlik maak. Roer ‘n bietjie en sit dan ‘n monster- turbo-aanjaer by wat kraglewering van 206 KW uit die 2-liter- viersilinderenjin pomp en jy sit met ‘n motor wat sekerlik die BMW en die Merc goed sal skrikmaak!

S3 binneruim
S3-binneruim

Versnelling van 0-100 km/u gebeur in slegs 5,1 sekondes en die S3 is elektronies beperk tot ‘n maksimumsnelheid van 250km/u. Vergelyk dit onderskeidelik met die M135i se 4,9 sekondes van 0-100km/u en die A45 se 4,6 sekondes dan sien jy dat die Audi maklik met sy twee landgenote kan saamgesels.

Audi S3-paneelbord
Audi S3-paneelbord

Wat vir ons uitstaan, is die bougehalte en die weelderige stowwe wat dwarsdeur die binneruim gebruik is. Hier is die S3 in ‘n ander klas. Die ruimte binne is ook opvallend meer in die S3 en dan praat ons nie eers van die ritgehalte nie. Die A45 sal jou valstande laat uitval, so hard is sy vering en die M135i se stert is nou weer baie lig en jy moet die hele tyd baie versigtig met die lepelvoet wees om nie die stertkant te laat gly nie. Kyk ‘n mens na die prys dan is die S3 ‘n hele R40 000 goedkoper as die BMW en ‘n aks meer as R102 000 goedkoper as die A45. Die S3 is ook die suinigste met die voggies teen 6,9 l/100km en pomp die minste koolstofdioksied die lug in met ‘n syfer van 160g/km CO2.

Audi S3 Sportback

Prys 3             uit 5
Voorkoms             buite 5             uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5             uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 4             uit 5
Agter die stuur 5             uit 5
Enjin en ratkas 5             uit 5
Op die pad 5             uit 5
Veiligheid 5             uit 5
Totaal 37             uit 40

Opel Astra OPC

Opel Astra OPC
Opel Astra OPC

Nog ‘n Duitser wat nie so bekend in Suid Afrika is nie, is die Opel Astra OPC. Die motor is geskoei op die Astra-koepeeweergawe, maar in OPC-gewaad is die Astra ‘n perd van ‘n heel ander kleur. OPC is ‘n akroniem vir Opel Performance Centre en hierdie motor is nou regtig ‘n bewys van wat tegnologie in ‘n motor kan beteken.

Opel Astra OPC-paneelbord
Opel Astra OPC-paneelbord

Ons toetsmotor is toegerus met Opel se 2-literpetrolenjin met ‘n groot turbo-aanjaer. Klink dit bekend? Ja, net soos in die S3 is dit ‘n klein enjintjie met ‘n groot turbo wat die OPC sy 206 Kw gee. Daar is nie minder as 400Nm se wringkrag beskikbaar nie en ons kon ‘n 0-100km/u tyd van 6,2 sekondes aanteken. Opel gee die maksimumsnelhied aan as 250 km/u, maar ons kon net 243 km/u op ons toetsrit aanteken.

OPC-binneruim
OPC-binneruim

Die groot verskil tussen die OPC en die S3 is dat die hele 206 Kw in die OPC deur die voorwiele na die teerpad versprei word. Die ongelooflike hiervan is dat die motor byne geen wringstuur het nie. Gewoonlik in voorwielaangedrewe motors met baie krag trek die motor links of regs onder harde versnelling of vinnige ratskakelings, maar nie hier nie. Krag is volop en sommer baie daarvan. Alhoewel die OPC ligter as die S3 voorkom, is dit inderdaad effens swaarder teen 1373kg tenoor die S3 se 1360kg. Agter die stuur van die motor kan ‘n mens voel dat die motor swaar is. Hy voel heeltemal te swaar vir ‘n blitsbuks. Bougehalte is baie goed en die OPC met sy Recaro-sportleersitplekke staan niks terug vir enige van sy landgenote nie. Dink ‘n mens terug aan vorige jare se Opels was hulle altyd op standaard met enjinontwikkeling en tegnologie, maar bougehalte het tekort geskiet. Die nuwe generasie Opels is baie goed aanmekaar gesit en voel en lyk enige dag net so luuks en duursaam soos enige BMW, Mercedes of Volkswagen. Let wel, ons noem pertinent nie Audi nie, want Audi is net op ‘n ander standaard wat bougehalte aanbetref.

Die OPC is slegs in driedeurgewaad beskikbaar dus anders as die A3 Sportback met sy 5 deure, is daar heelwat minder ruimte binne die OPC. Wat brandstof verbruik aanbetref, het die OPC ook teleurgestel. Ons kon slegs ‘n syfer van 9,1 l/100km aanteken. Dit maak nou nie saak hoe mooi ons probeer ry het nie, die OPC wou net nie beter syfers aanteken nie. Ons meen dit is dalk die prys wat jy sal moet betaal vir ‘n verrigtingsenjin, maar aan die anderkant, kyk ‘n mens na die S3 met beter verrigting en sommer baie beter brandstofverbruik, dan is dit haalbaar.

Opel Astra OPC

 

Prys 3             uit 5
Voorkoms buite 5             uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5             uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 3             uit 5
Agter die stuur 3             uit 5
Enjin en ratkas 4             uit 5
Op die pad 4             uit 5
Veiligheid 5             uit 5
Totaal 32             uit 40

 

Volkswagen Golf R

Volkswagen Golf R
Volkswagen Golf R

In wese is die Golf R en die S3 geskoei op dieselfde konsep. Die feit is egter dat die Golf R meer soos ‘n warmgemaakte Golf GTi voel. Dit is snaaks want die Golf GTi is ‘n volmaak gebalanseerde motor met net genoeg van alles. Die Golf R voel losser, minder goed gebou as die Gti.

Golf R-paneelbord
Golf R-paneelbord

Die R is mooi en baie subtiel in voorkoms. Daar is geen flambojante skorte en drukvlerke soos by die OPC nie. Ons dink dit gaan ‘n goeie oog kos om die verskil tussen die GTi en die R op straat raak te sien. Tog voel en ry die Golf R baie anders as die GTi. Die ritgehalte is baie nader aan die van die Mercedes A45 AMG. Dit is baie hard en en die DSG- outomatiese ratkas is ook nie naastenby so vinnig of so ‘n groot plesier soos die S-Tronic wat in die S3 beskikbaar is nie.

Golf R-binneruim
Golf R-binneruim

Klim jy uit die Quattro S3 uit in die 4wielaangedrewe Golf R voel die R net losser, harder en stadiger as die S3. Die Golf R word aangedryf deur dieselfde 2-literenjin wat die S3 gebruik. Kraglewering is identies aan dié van die S3 met 206 Kw en 380 Nm se wringkrag wat na al vier wiele versprei word. Op papier gee Volkswagen die Golf R se verrigtingsyfers aan as 5 sekondes van 0-100km/u, maar ons kon net-net 5,3 sekondes haal. Die maksimumspoed is ook net soos die S3 beperk tot 250km/u. Binnelangs is die Golf R goed toegerus met leer en alles wat oop en toe maak soos dit hoort in ‘n luukse blitsbuks, maar dinge in die S3 voel en lyk net beter. Selfs die OPC lyk en voel beter aanmekaargesit as die Golf R. Wat die brandstofverbruik aanbetref, kon ons ‘n syfer van 7,1 l/100km aanteken. Dit is heel aanvaarbaar vir ‘n verrigtingsmotor in die klas en die uitlaatgassyfer van 159g/km CO2 is ook indrukwekkend vir hierdie tipe motor. Teen R499 900 is die Golf R glad nie goedkoop nie, dit is ‘n hele R91 000 duurder as die GTi, maar steeds R17 500 duurder as die OPC teen R482 400. Die Audi S3 Sportback teen R519 000 is slegs R19 000 duurder as die Golf R, maar na ons mening elke sent werd.

Volkswagen Golf R

Prys 3             uit 5
Voorkoms buite 3             uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 4             uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 5             uit 5
Agter die stuur 4             uit 5
Enjin en ratkas 4             uit 5
Op die pad 4             uit 5
Veiligheid 5             uit 5
Totaal 32             uit 40

Ons gevolgtrekking is dus dat as jy in die mark is vir ‘n superblitsbuks dan is die Audi S3 Sportback beslis kop en skouers beter as die res.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.