Eskom ‘n tydbom weens swak instandhouding

Deel op

Groot skade is aan die Duvha-kragsentrale aangerig ná ’n hewige ontploffing in die drukketel op 30 Maart vanjaar. Eskom swyg soos die graf oor die oorsake vir dié ontploffing wat ’n eerste in Eskom se geskiedenis is.

Kenners sê dit is ongetwyfeld omdat die eenheid nie onderhou word nie.

Eskom is so ver agter met instandhoudingswerk dat al hoe groter onstabiliteit van sy kragstasies ’n ernstige bedreiging vir die land se kragnetwerk begin inhou, het Beeld berig.

Nie-amptelike ingeligte bronne waarsku die gevaar van ’n algehele ineenstorting van kragsentrales word al hoe groter.

Die beskikbaarheid van kragsentrales wat krag kan lewer is veronderstel om meer as 85% te wees om veilig te wees, maar tot dusver vanjaar is net 75% beskikbaar weens onbeplande foute.

Eskom hoop hy kan dit vir die res van die jaar tot 77% verhoog, het dr. Steve Lennon, uitvoerende hoof vir volhoubaarheid, gesê.

Die nasionale beheersentrum wat ’n volskaalse ineenstorting moet afweer met laer kragverbruik en met beurtkrag indien nodig, moet bontstaan weens die swak beplanning.

Die sentrum moet ’n frekwensie van 50 Hz in al die verskillende onderdele van die netwerk handhaaf, anders stort die netwerk ineen. Daarvoor moet die vraag na en aanbod van beskikbare elektrisiteit presies dieselfde gehou word.

Dit sal ’n nasionale ramp wees en dit gaan baie moeiliker wees om die Suid-Afrikaanse netwerk ná ’n algehele ineenstorting aan die gang te kry as in ander lande omdat geeneen van die buurstate genoeg krag het om die Suid-Afrikaanse netwerk weer aan die gang te help kry nie, het ‘n bestuurder van die nasionale beheersentrum in Germiston gesê.

Die gevaar is dat die 13 steenkoolkragsentrales oud is en boonop harder moet werk as hul ontwerpvermoë en nie genoeg vir noodsaaklike instandhouding afgeskakel kan word nie. Die sentrales moet nog minstens 15 jaar voluit werk, “maar heeltemal inmekaar kan stort voor dan” het ’n topamptenaar in die organisasie gesê.

Tot dusver het Eskom sy duur dieselopwekkingseenhede gebruik om tekorte tydens instandhoudingswerk te verlig, maar dit hom in sy jongste boekjaar R11,3 miljard aan diesel gekos, terwyl hy veronderstel was om net R2,5 miljard aan dié energiebron te bestee.

’n Ingenieurskonsultant wat sedert begin vanjaar ondersoeke by verskeie van die 13 steenkoolkragstasies gedoen het, het gesê die erns van die instandhoudingsagterstand is skokkend en word hopeloos onderskat.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.