Vanaf Vanuatu ‘ons’ vlag en neiging tot nabootsing

Deel op

Suid-Afrika, veral deesdae, huiwer om te besluit of die land eerder Idi Amin se Uganda of een of ander vragkultus (cargo cult) op die eiland Vanuatu wil na-aap. Jy kan die stelsel hier ‘n “vragkultusdemokrasie” noem en solank ons elke vyf jaar ‘n miljard dollar of so aan ‘n verkiesing bestee, kan elkeen tussen verkiesings maak net wat hy wil.

roodt_fbfotoVerkiesings verleen egter slegs die stempel van “demokrasie” aan ‘n stelsel waar mag elders van eienaar verwissel: by die regerende party se hoofkwartier of in donker transaksies wat voltrek word met wie ook al finansieel by die stelsel baat.

Hierdie is ‘n vertaalde uittreksel uit ‘n nuwe eboek-opstel deur Dan Roodt wat vandeesweek verskyn, onder die titel: Raiders of the lost Empire: South Africa’s ‘English’ identity. Dit sal plaaslik en internasionaal versprei word teen slegs $3 of R30 vir ‘n teks van 22 500 woorde, gelykstaande aan ‘n gedrukte boek van 80 tot 100 bladsye. Moenie dit misloop nie! Vir meer besonderhede en ‘n langer uittreksel in Engels, klik hier.

Gepraat van Vanuatu, het ek eers in die negentigerjare van die bestaan van dié eiland bewus geraak toe ek die merkwaardige ooreenkoms tussen “ons” vlag en dié van Vanuatu bemerk het. As daar iets soos vlagplagiaat was, is Suid-Afrika skuldig daaraan. Suid-Afrikanisme is egter trots nabootsend. Hoe nader jy daaraan kom om jou as ‘n Brit voor te doen, hoe meer “Suid-Afrikaans” raak jy. Plagiaat op universiteit, op sowel voorgraadse as nagraadse vlak, is heeltemal algemeen en studente “kopieer en plak” die woorde en gedagtes van ander ten einde een van ons toenemend waardelose grade te ontvang.

In ander samelewings word daar skeef gekyk na ‘n gebrek aan egtheid, of ersatz, geen oorspronklikheid nie, of om ‘n afskrif van iets anders te wees, ‘n simulakrum. Maar nie in Suid-Afrika nie. Paradoksaal genoeg, is die revolusionêre swartes wat teen “kolonialisme en kapitalistiese uitbuiting” uitvaar, die eerste om die uiterlike kentekens van wat hulle as die Britse gentleman beskou, aan te neem. Hulle drink whisky, van die duur sogenaamde “enkelmout”-tipe, in rojale hoeveelhede. Die Engelse voorliefde vir drank, om dronk te word, selfs die pub-kultuur, het in Suid-Afrika wortel geskiet. Trouens, in sy strewe om meer en meer Engels te word, het die land die wêreld se tweede grootste biermaatskappy tot stand gebring, SAB-Miller. Dis ‘n merkwaardige prestasie, gegewe die feit dat ons BNP slegs ‘n agste van byvoorbeeld Duitsland, ‘n ander nasie wat bier drink, s’n is. Duitsland kon ons nie oortref as dit by bierverkope kom nie. Soos ek aanstons sal aantoon, is bier en om ‘n “eenbier-nasie” te wees, grondliggend aan wat die “nuwe Suid-Afrikaanse identiteit” genoem word.

Die Engelse en Amerikaanse smaak vir dwelms het insgelyks na ons toe oorgewaai. Nou die dag besoek my 18-jarige dogter die kampus van die Universiteit van die Witwatersrand en praat met ‘n klompie eerstejaarstudente daar. Volgens haar kon hulle net oor dwelms praat, watter verskillende tipes narkotika hulle reeds probeer het en met watter hulle nog wil eksperimenteer. Met haar Afrikaanse opvoeding en skoling, stel my dogter intens belang in letterkunde, kuns en filosofie, en het uitgesien na ‘n uitwisseling van idees met mense wat ander sienings as sy mag koester. Helaas, al waaroor hulle kon praat, was dwelms. Daar heers ‘n soort snobisme rondom dwelms en die Engelse sien neer op ander wat nie sulke middels gebruik nie. Ek vermoed sterk dat vele van die menings wat ons in die Engelse koerante in Suid-Afrika teëkom, uitgedink is terwyl die persoon onder die invloed van een of ander dwelmmiddel verkeer het. Die Franse het ‘n mooi woord vir dwelms, “stupéfiants”, wat uitdruk dat dit mens ook in ‘n stupor laat verval of dom laat raak as jy dwelms gebruik. Suid-Afrika het oor die afgelope aantal jare sulke dieptes van domheid beproef dat ons besig is om na die primitiewe, vroeë Steentydperk te regresseer, of selfs na hominiede vlakke toe. Binnekort sal Suid-Afrikaanse Engels, wat reeds aansienlik verkreoliseer is, net uit ‘n gekrys en ‘n gegrom bestaan. Soos die woewoezêla, ‘n eentonige plastiekinstrument wat gewoonlik by sokkerwedstryde geblaas word, sal alle kommunikasie naderhand tot ‘n heel basiese vlak toe daal.

Daar is iets tragies aan die Engelse bewussyn, wat grondig ongelukkig is, vandaar die behoefte om bedwelm, dronk of verdoof te word. Miskien hou dit verband met die globale multikulturele projek, wat daarna streef om alle identiteit, waaronder persoonlike identiteit, uit te wis. Slegs as ons ‘n ongedifferensieerde tropbewussyn bereik, ‘n atawistiese “ons”, sal ons “volledig mens” word; of watter cliché ook al daarvoor gebruik word. In Suid-Afrika se sakeskole doseer hulle selfs kursusse in “oeboentoe” as ‘n etiese beginsel wat vertaal in “Ek is ‘n mens deur ander mense”, wat ‘n ander manier is om die kollektiewe, byekorfbewussyn uit te druk.

In ons land is dit tans deel van die Engelse credo dat ons op geen manier “verdeel” moet wees nie. Alle vordering daarna om ‘n ongedifferensieerde mensemassa te word, ‘n bietjie soos in die wetenskapfiksiebegrip van “die Borg” in die Amerikaanse Star Trek-reeks, word geloof. Enigeen wat sy taal en kultuur ten gunste van Engels aflê, word gesien as iemand wat nader daaraan kom om deel van die “groter massa” te word wat selfs as ‘n globale of planetêre massa gesien kan word.

Om in Suid-Afrika Engels te wees, is in ‘n sekere mate ‘n pynlike ervaring. Dit verklaar die radikalisme, haat en ekstremisme van soveel Engelse wat terrorisme gepleeg het of hulle tot kommunisme of Boerehaat verbind het, of wat bereid was om burgerlikes in die naam van sulke ideologieë dood te maak of aan te val. Waarom is Suid-Afrika so vreemd vir die Engelse gees? wonder ‘n mens.

Op die gevaar af dat ek mag afdwaal, kom ons kyk vir ‘n oomblik na wat George Orwell gesê het oor wat dit beteken om Engels te wees. Onder Afrikaners, Franse, Duitsers, Spanjaarde en baie ander volkere, is dit amper natuurlik om oor ‘n mens se volksidentiteit te besin. Onder Afrikaners is dit méér, amper ‘n nasionale obsessie. Die rede vir die Afrikaner se obsessie oor identiteit is nie moeilik om te eien nie: dit is omdat ons gedwing is om ‘n land te deel met ‘n besonder nihilistiese, baasspelerige, kolonialistiese groep wat so vernietigend met identiteit en kultuur handel dat ons konstant oor onsself moet twyfel.

Waarom haat hulle ons so? Waarom wil hulle ons taal, tradisies en gebruike verbied? Is daar inderdaad iets fout met ons? Die Afrikaner, wat geneig is tot skulddeurtrokke, Calvinistiese selfondersoek en selftwyfel, poog voortdurend om die fout by homself te vind pleks daarvan om na sy vyandige, snedige landgenoot met sy patologiese onverdraagsaamheid teenoor enige ander kultuur as sy eie, te kyk. Trouens, duisende romans, essays en proefskrifte is al geskryf oor wat dit beteken om ‘n Afrikaner te wees, maar geen Afrikaner het nog probeer om die Engelsman te verstaan nie. Vandaar hierdie essay, wat ‘n unieke stukkie ontleding verteenwoordig, ‘n poging om vas te stel wat dit beteken om vandag Engels te wees, in Suid-Afrika, maar miskien selfs wêreldwyd. Ek vermoed sterk dat heelwat van wat ons hier ervaar, insgelyks deur mense in ander nie-Engelse lande aangevoel word. Hier dink ek byvoorbeeld aan die onlangse essays van Richard Millet oor die agteruitgang in die Franse letterkunde ten gunste van globale Angel-Saksiese blitsverkopers.

George Orwell word normaalweg verbind met sy twee distopiese romans, 1984 en Animal Farm. Hy was egter een van die min Engelse skrywers wat dit gewaag het om te besin oor wat dit beteken om Engels te wees, in sy essay “England, your England”. Onder andere sê hy die volgende:

“Here are a couple of generalizations about England that would be accepted by almost all observers. One is that the English are not gifted artistically. They are not as musical as the Germans or Italians, painting and sculpture have never flourished in England as they have in France. Another is that, as Europeans go, the English are not intellectual. They have a horror of abstract thought, they feel no need for any philosophy or systematic ‘world-view’. Nor is this because they are ‘practical’, as they are so fond of claiming for themselves. One has only to look at their methods of town planning and water supply, their obstinate clinging to everything that is out of date and a nuisance, a spelling system that defies analysis, and a system of weights and measures that is intelligible only to the compilers of arithmetic books, to see how little they care about mere efficiency. But they have a certain power of acting without taking thought. Their world-famed hypocrisy – their double-faced attitude towards the Empire, for instance – is bound up with this.”

Daar is ‘n soort gemeenplaas wat ‘n mens dikwels in Afrikaanse koerante teëkom en gewoonlik deur die alwetende Afrikaner-akademici uitgespreek word: dat “die Afrikaner minderwaardig teenoor die Engelsman voel”. Dit spreek vanself dat ‘n mens vandag nie ‘n Afrikaner-akademikus kan wees sonder dat jy die Anglo-Amerikaanse wêreldbeskouing aanvaar het nie, asook die ANC en Suid-Afrikaanse Kommunisteparty se sienings, andersins sou jy nie ‘n werk gehad het nie! Dus dra sulke menings nie veel gewig nie. Hier dui ek bloot aan dat so ‘n opvatting bestaan.

Maar ek het nog baie min Afrikaners teëgekom wat werklik só voel, of wat hul as minderwaardig beskou. Meesal is dit die teenoorgestelde. Aangesien Afrikaners die Engelse in die meeste Engelse sportsoorte oorheers, bestaan daar eerder ‘n opvatting by die Afrikaner dat hy fisiek en verstandelik die Engelsman se meerdere is. Die gedagte dat Engelse lui is en geneig om op aktiwiteite te fokus wat tegelyk winsgewend is en min arbeid vereis, is ook taamlik algemeen. ‘n Boer het eenkeer aan my verduidelik dat suikerplantasies in die Engelssprekende provinsie Natal (tans amptelik Kwazulu-Natal) so gewild geraak het omdat die suikerrietplant “soos onkruid groei en geen spesiale aandag nodig het nie, anders as ander gewasse”.

Aan die ander kant meen ek dat die liberale of kommunistiese Afrikaner wel ‘n minderwaardigheidsgevoel sy eie gemaak het. Dit is omdat soveel van hulle in ‘n sekere mate verengels is, in ‘n Engelse wêreld woon en werk, ‘n wêreld wat dikwels met die politiek of die universiteite te make het, plekke waar dit jou loopbaan sou benadeel as jy nié die Engelse stereotipes oor Afrikaners beaam nie. Frederik van Zyl Slabbert, die liberale politikus, asook die skrywer André P. Brink is twee sulke mense. Brink het selfs sover gegaan dat hy verklaar het dat “my mense nie verdien om te bestaan nie en behoort te verdwyn”, waarmee hy volledig die Angel-Saksiese ideologie omhels het. Bram Fischer, die kommunistiese leier wat in Johannesburg gewoon het, waar hy deur internasionalisties gesinde kommuniste omring was, is nog so ‘n geval.

Wat Orwell se waarnemings hier bo betref, val die gebrek aan skeppende talent by Engelse, veral hier in die kolonies, sterk op. Selfs mense sonder ‘n kunstenaarsopleiding of -talent, soos William Kentridge, word as groot kunstenaars in die Engelse media opgehemel. Waar daar ook al kunstenaarsaktiwiteit in Suid-Afrika is, was daar nog altyd Afrikaners. Selfs die Nobelpryswenner, Nadine Gordimer, is aanvanklik aan skryf en letterkunde voorgestel deur ‘n Afrikaner, Uys Krige.

Dis die eerste oorsaak van Engelssprekende vyandigheid teenoor Afrikaans en Afrikaners. Een van die eerste dinge wat die nuwe Engelse bewind in 1994 gedoen het, was om die provinsiale kunsterade af te skaf, waarna Afrikaanse skole en universiteite aangeval is. Onlangs het die minister van hoër onderwys en leier van die Kommunisteparty, Blade Nzimande, aangekondig dat “daar nie meer Afrikaanse universiteite bestaan nie”, waarmee hy bedoel dat die verengelsingsproses voltrek is.

Hierdie verteenwoordig die eerste 1800 woorde van Dan Roodt se opstel, Raiders of the lost Empire: South Africa’s ‘English’ identity, wat hier vir die eerste keer in Afrikaans vertaal is. Die Engelse weergawe vir plaaslike en internasionale verspreiding sal vandeesweek, moontlik selfs binne die volgende 24 uur, as eboek beskikbaar wees teen slegs R30 of $3. In omvang beloop dit 22 500 woorde, gelykstaande aan ‘n gedrukte boek van 80 tot 100 bladsye. Moenie dit misloop nie, en stuur solank ‘n epos aan inlig[by]praag.org met die woord “Raiders” in die onderwerpreël sodat ons u op hoogte kan hou van die verskyning!

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.