GRA-dag: 139 jaar van taalstryd

Deel op

Vandag is 14 Augustus, dus 139 jaar sedert die Genootskap van Regte Afrikaners in die Paarl gestig is. Sedert 14 Augustus 1875 stry Afrikaners vir die erkenning van hul taal in Suid-Afrika. Die slagspreuk van die eerste taalbeweging van destyds, dat daar drie soorte Afrikaners is, dié met Hollandse harte, dié met Engelse harte en dié met Afrikaanse harte is waarskynlik vandag nog ewe geldig. Behalwe dat ons “Hollandse” met “Kreoolse” kan vervang, want tans word daar vanuit Nederland aantygings gemaak dat Afrikaans eintlik geen Westerse taal is nie, maar ‘n derdewêreldkreools wat ons kwansuis by Oosterse slawe in die Kaap aangeleer het.

'n Gedeelte van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl
‘n Gedeelte van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl

Toevallig ontvang ek gister ‘n digbundel van GA Watermeyer as geskenk by van alle dinge, ‘n internetkursus wat ek gister in Afrikaans aangebied het. Natuurlik is dit nog ‘n merkwaardigheid van Afrikaans: dis een van die min tale ter wêreld waarin mens oor rekenaars en die internet kan praat sonder om Engelse woorde te gebruik! Anders as Nederlands byvoorbeeld waar die grootskeepse invoer van Engelse terme soos “downloaden” byvoorbeeld, tegniese skepping in dié taal ernstig aantas. Die gedig van Watermeyer verdien egter om vandag aangehaal te word:

Taal van die heerser

Hy wat die dood oor ander roep
erf self die skadu oor sy stoep.

Heersvleuels het ons taal geslaan
om steiler teen die son te gaan;

heershoewe het ons woord getrap,
gepars, om helderder te tap;

heerswette het ons stem gebind
om deernisdieper klank te vind…

Nog stry ons in die eie land
stryd om die eie taal se stand,

nog krimp daar harte koud van haat
telkens wanneer ons volksvas praat;

maar agter skans van parallel
skuil vroeër heersers angsbeknel

dat spraak wat hul gestalte dra
polsslag verloor in Afrika…

Hy wat die dood oor ander vra
word self die donker ingedra.

(Uit: Die republiek van duisend jaar, 1957)

Telkens as ons gedink het die stryd om Afrikaanse taalregte is gewen, het daar nog ‘n wending ingetree om ons maar net weer van nuuts af aan in ‘n toestand van oorheersing te laat terugval. Só was dit ook in 1994 toe die duidelike tweetalige reëling van die Vrede van Vereeniging, die Brits-Suid-Afrikaanse wet van 1909, die Taalwet van 1925 en die Grondwet van 1983 laat vaar is ten gunste van ‘n halfgebakte artikel 6 in die huidige grondwet wat voorsiening vir elf “amptelike tale” maak, maar net een “praktiese taal”, Engels.

Net enkele weke gelede het die kommunistiese minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, aangekondig dat “daar geen meer Afrikaanse universiteite in die land bestaan nie”. Rondom die jaar 2000 nog het die ANC-bewind by monde van dr. Jakes Gerwel belowe dat ten minste twee universiteite vir Afrikaans uitgehou sou word.

Vir alle praktiese doeleindes is ons terug in 1822 toe Lord Charles Somerset sy berugte Engelse taalwette afgekondig het. Danksy JH Hofmeyr (Onze Jan) is daardie taalwette gedeeltelik in die 1880s herroep en is Nederlands naas Engels in 1882 in die parlement en in 1884 in die geregshowe toegelaat.

Vandag word Afrikaans, buiten in Pretoria, Bloemfontein en ‘n paar ander plekke, kwalik meer in die howe gehoor. Die aanslag op tersiêre onderrig in Afrikaans is fel, met ‘n “Afrikaanse” koerant soos Beeld wat in die voorste linie veg om Afrikaners se aandrang op Afrikaans verdag te maak deur ons as “rassiste” en “Nazi’s” uit te kryt.

Die bedreigings vir Afrikaans kom tans vanuit alle windrigtings:

  • Die gebrekkige grondwet wat naas sy elf amptelike tale geen daadwerklike taalregte toestaan nie;
  • anglofiele Afrikaners wat hul kinders na Engelse skole stuur of kreools begin praat;
  • akademiese en buitelandse steun vir kreools, onder meer aan die Universiteit van Potchefstroom, waardeur Standaardafrikaans verdag gemaak word;
  • die skoolsillabus wat nie genoegsame tyd aan Afrikaans afstaan nie deur lesure op ‘n onnodige propagandavak soos “Lewensoriëntering” te verkwis;
  • die anglofiele en Afrikanervyandige mediagroep Naspers wat ‘n kunsmatige half-kreoolse “Afrikaanse” kultuur aan die gang hou, tesame met ‘n groep Kaapse skrywers wat enigiets eie aan Afrikaners hoon en smaad;
  • maatskappye soos Woolworths wat verseg om enige Afrikaans in hul winkels en op produkte aan te bring;
  • emigrasie deur Afrikaners na Engelssprekende lande waar hulle en hul kinders verengels;
  • globalisme en die internet waardeur Engels as die verstektaal aanvaar word;
  • hernieude Amerikaanse en Britse imperialisme wat vyandig teenoor nasionale kulture, ook elders ter wêreld, staan en onderliggend aan die nuwe koue oorlog teen Rusland is;
  • die wederopstand van Britse kolonialisme in Suid-Afrika, met Engelse wat sleutelposisies in die staat en veral die onderwys beklee en dit gebruik om Afrikaans in die naam van multikulturalisme en anti-rassisme te ondergrawe;
  • die reklamewese wat wesentlik verengels het;
  • die SAUK se openbare TV-diens wat Afrikaans en selfs die Afrikaanse nuusprogram feitlik heeltemal gemarginaliseer het;
  • jare lange anti-Afrikaanse propaganda wat daarop gemik is om Afrikaners se identiteit af te breek en hulle sku en skaam vir hul geskiedenis, taal en herkoms te maak;
  • oorblyfsels van die “blanke nasionalisme” uit die verlede wat veroorsaak dat ons nie graag ons Engelssprekende landgenote wil kritiseer nie omdat dit verdeeldheid veroorsaak, terwyl Engelse hier en in die Verenigde Koninkryk natuurlik gedurig besig is om ons weens “apartheid” en ander kwessies te verguis.

Die situasie is haglik, maar dis in tye soos dié wat die koring van die kaf geskei word. Afrikaners was nog nooit bang vir Engelse nie. Inteendeel, tydens die Anglo-Boereoorlog het ons teen die Engelse oormag geveg en by sekere veldslae soos byvoorbeeld Magersfontein getoon dat ons veel groter getalle Engelse op die vlug kan laat slaan.

Die klein maar voortreflike intellektuele tradisie in Afrikaans is onlosmaaklik aan die Europese (Vastelandse) denkskool verbind, wat dié van Engeland en selfs die VSA in gehalte en diepgang by verre oortref. Teenoor die eentalige monokultuur van Engels, staan die kosmopolitiese en verwikkelde Europese kultuur met sy musiek, letterkunde, filosofie en wetenskap wat strek vanaf Spanje en Portugal in die weste tot aan die Oeralgebergte in die ooste.

Die Universiteit van Pretoria het onlangs die studie van Europese filosofie verbied, omdat dit blykbaar die imperiale Engelse “nasiebou”-projek in Suid-Afrika bedreig. Hoe maklik voel die Engelse en hul sikofante nie bedreig nie! Kant en Nietzsche (of dalk Van Wyk Louw en GA Watermeyer) laat die magtige Engelse militêr-taalkundige kompleks met sy “killer language” wat tans alles voor hom uitwis, se broek bewe.

Die anglosentriste in ons land het ‘n taaloorlog verklaar. CP Hoogenhout se kreet van:

“Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy sien en hoor;
In ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor.”

was nog nooit só van toepassing soos juis nou nie.

Die tyd het gekom om Engels met Engelse metodes te beveg. Hiermee sê ek nou nie dat ons soos die verdomde Engelse vrouens en kinders in konsentrasiekampe moet sit of bomme in restaurante en kroeë soos hul wonderlike ANC gedoen het nie. Die Engelse definisie van ‘n “aktivis” is mos iemand wat soos Robert McBride terreur pleeg. Kom ons weerhou ons van volksmoord en terreur; dit op sigself sal ons Afrikaneridentiteit bewaar. Maar alle ander Engelse metodes is geoorloof. Nes ‘n hele korps Boerehaters in die media en aan die universiteite in ons land met ‘n ongekende aanval op ons taal en identiteit besig is, moet duisende Afrikaners die vuur beantwoord.

Die Engelse kommuniste in ons land, daardie vlugtelinge van agter die eertydse Ystergordyn, beweer dat ons ‘n kunsmatige skepping van apartheid verteenwoordig wat verdien om hul verhewe Angel-Saksiese of – deesdae – Afro-Saksiese identiteit aan te neem. Maar wat is Engels en die Engelsman dan? Is dit nie soveel te meer ‘n kunsmatige maaksel, gebore uit die dronkenskap, die sokkerboewery en die agterlike bewondering vir alles wat sportief en dom is nie? Sonder die finansiële bedryf in Londen, sou Engeland lankal reeds ‘n derderangse moondheid gewees het, want die Engelsman produseer niks; hy leef van kommissies en winste, as hy nie op ander aas of van hulle steel nie.

Aangevoer deur hul kommunistiese minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, met sy pokgesig waarvoor hy blykbaar “apartheid” blameer, laat die Engelse hul Engelse taalbomme op ons neerreën. Ons voel amper soos die onskuldige inwoners van Dresden, daardie eens pragtige stad met ‘n duisend jaar se argitektuur wat Engeland in een nag uitgewis het. Die filistynse vernietigingsdrang van die Engelsman, veral in Suid-Afrika, ken geen perke nie.

Daarom het dit tyd geword om op te staan. Tot hiertoe en nie verder nie. Ons sê nee vir die taal van die heerser. Meer nog, soos Watermeyer in sy profetiese gedig skryf, sal die skadu van ‘n taaldood nog oor Engels in dié land val. Want die mense wat tans Engelse onderwys, veral op universiteit, in ons land bestendig, is Afrikaners. Ons word gedwing om die taal van die heerser uit te brei; ons belastings en ons vernuf word ter verheerliking van die Britse koninkryk en die Angel-Saksiese wêreldoorheersing onder Obama aangewend.

Afrikaners moet slegs hul eie kinders leer; niemand anders s’n nie. Hoe gouer ons die strategiese skuif kan maak om glad geen vaardighede meer aan Engelssprekendes van watter ras ook al, oor te dra nie, hoe gouer sal ons bevry word. Ons kort ‘n alternatiewe ekonomie wat volledig in Afrikaans bedryf sal word en finaal die Engelse veroweraar aan sy lot sal oorlaat, sonder ons geld, ons vernuf, ons beskawing.

Al het die Nasionale Party niks anders reggekry as om die Voortrekkermonument en die Taalmonument agter te laat nie, is dit nog iets. Daardie twee strukture beliggaam op hul manier twee eeue van weerstand teen Engels en Britse kolonialisme. Totdat die ANC hulle afbreek, saai hulle tog soos hul flikkerende rooi liggies saans, hul getuienis van weerstand uit. Ook twyfel ek sterk of die ANC en al hul Engelse “adviseurs” – daar is altyd ‘n Engelse adviseur iewers – die moed het om daardie monumente af te breek.

Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde.

Vandag herdenk ons daardie vergadering van ‘n klein groepie “regte Afrikaners” – meesal met Franse Hugenotevanne! – wat die grootse avontuur van Afrikaans in die twintigste eeu ontketen het.

Watermeyer vergelyk in ‘n ander gedig die pen op stemdag met die roer:

Vat korrel met die skryfding, Broer,
vat raak, vat reg – dis weer die roer

wat loopvas in die regterhand
ons land ooplood tot Boerverband…

Meer as ooit is die pen ons wapen in dié taal- en kultuuroorlog wat tans in Suid-Afrika woed.

Laat ons die Engelse aanval beantwoord: skoot vir skoot, woord vir woord.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.