Pallo Jordan maak plek vir volgende soustreinryer

Deel op

Pallo Jordan se gebrek aan ‘n kwalifikasie het dalk “uitgelek” tot voordeel van Nick Koornhof, voormalige Cope-LP, wat nou kan terugkeer parlement toe as ANC-lid in Pallo Jordan se plek.

Jordan het Maandag as ANC-LP bedank en aangebied om sy pos in die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) te verlaat en as ANC-lid te bedank.

Dit volg ná berigte in die Sunday Times dat sy kwalifikasies vervals is.

Koornhof is volgende op die ANC se lys. Hy was ook voorheen ’n NP-LP en later lid van die DP. Koornhof wag nou vir dat Jordan amptelik bedank voor hy op die soustrein klim.

As ANC-LP “hoop hy om by die parlementêre portefeuljekomitees oor onderskeidelik finansies en omgewingsake in te skakel en die nasionale ontwikkelingsplan en versoening te bevorder”.

Intussen is bevestig dat Jordan 30 jaar gelede sy doktorsgraad van die tydskrif Africa Confidential “verwerf” het.

Africa Confidential is ’n Britse publikasie wat sedert 1960 met Afrika-politiek gemoeid is. Die tydskrif het Jordan glo verkeerdelik as ‘n doktor beskryf.

Luidens sy amptelike CV wat op die regering se kommunikasie-en-inligtingsdiens (GCIS) se webwerf verskyn, het Jordan aan die Universiteit van Wisconsin in Madison in die VSA gestudeer en later ’n nagraadse kwalifikasie aan die London School of Economics ontvang.

Jordan het sedert hy in 1990 na Suid-Afrika teruggekeer het die titel “doktor” gebruik.

Prof. Stephen Ellis, wat van 1986 tot 1991 redakteur van Africa Confidential was, het aan Beeld gesê hy was bewus van Jordan se leuens.

“My vermoede is dat Africa Confidential in ’n stadium (waarskynlik in die tyd voor my redakteurskap) ’n artikel ingehad het wat verkeerdelik ’n doktorsgraad aan Jordan toegedig het.

“Jordan het van die idee gehou en nie net nagelaat om mense reg te help wat na hom as doktor verwys het nie, maar die titel in die openbaar begin gebruik,” het Ellis gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.