Kwak se dieet glo teen Afrikaners gemik

Deel op

Die Malema van medisyne se nuwe kwakdieet is klaarblyklik ontwerp om Afrikaners te teiken.

Prof. Tim Noakes se dieet-aanbevelings lyk byna asof dit met opset geneties verfyn is, want dis veral gevaarlik vir Afrikaners, onder wie daar ’n hoë voorkoms van “slegte” cholesterol is, en hulle word ernstig deur dokters gewaarsku teen Noakes.

Die probleem met Noakes se nuwe “ondersoek” is dat dit heel onwetenskaplik ‘n studie van een omskryf: Hyself is die onderwerp van navorsing, sowel as die persoon wat dit beheer, terwyl hy geen beheer oor die placebo-effek het nie, sê een dokter.

Sy Damaskuservaring is ook uiters vreemd, aangesien hy “resultate” ontdek het wat volgens sy eie beskrywing nie meetbaar is nie.

Sy omstrede “laekoolhidraat-, hoë-vet” (LKHV)-dieet word trouens tans deur ’n kardioloog as “krimineel” beskryf.

Beeld berig dat medici en veral spesialiste Noakes se dieet verwerp en dat die “sportwetenskaplike aan die Universiteit van Kaapstad” se bewerings dat sy hoëvet-dieet alle risikofaktore vir hartsiekte kan omkeer, gevaarlik is.

Verskeie pasiënte met hoë cholesterol het hul statienmedikasie verruil vir die LKHV-dieet, met skadelike nagevolge.

Sy boek, The Real Meal Revolution, het vroeër vanjaar verskyn. Daar is ‘n doelbewuste poging om die verkope aan te wakker en sy boek word ook nou in Afrikaans vertaal.

Die publiek is glo aangemoedig om by boekwinkels wat die boek aanhou te kla en te eis dat dit dadelik van die rakke verwyder word eerder as om die boek te vandaliseer en te bekrap met waarskuwings soos talle voorgestel het.

Prof. Tessa van der Merwe, sê Noakes se aanbevelings kan hartsiekte, diabetes en osteoporose vererger en gal- en nierstene veroorsaak.

Van der Merwe is ’n ereprofessor in endokrinologie aan die Universiteit van Pretoria en stigter van die Netcare Bariatriese Sentrum by die Unitas-hospitaal.

“As jy familiale hipercholesterolemie (FH of oorerflike hoë cholesterol) het, is daar ’n werklike gevaar dat jy ’n ongunstige cholesterolprofiel sal ontwikkel,” sê sy.

FH word deur ’n genetiese faktor veroorsaak wat lei tot ’n hoë (“slegte”) cholesterolvlak. Dit is veral algemeen onder Afrikaners, waar daar ’n 1:70 voorkoms is teenoor ’n 1:500 voorkoms in die wyer gemeenskap.

Een pasiënt se totale bloedcholesterolvlakke het meer as verdubbel (van 5,1 tot 12,9) nadat sy haar statien verruil het vir Noakes se dieet.

Maar toe die 39-jarige vrou teruggekeer het na ’n normale dieet en weer haar medisyne begin gebruik het, het haar cholesterolvlak gedaal tot 7,3.

Afrikaners word dus gewaarsku teen Noakes se dieet. ​Statien is besonder belangrik vir genetiese FH.

“Statien maak ’n geweldige verskil in die risiko vir hartsiekte in diegene met FH aangesien hulle nie hul cholesterolvlakke deur leefstyl kan beheer nie,” sê prof. David Marais, hoof van lipidologie aan die Universiteit van Kaapstad.

“Navorsing toon dat mans met onbehandelde FH op gemiddeld 43 sterf en 85% van hulle nie 60 haal nie.”

Noakes erken dat die LKHV-dieet cholesterolvlakke in ongeveer een uit elke drie mense opjaag, maar meen dit nie as ’n gesondheidsrisiko nie.

In plaas van cholesterol blameer Noakes insulienweerstandigheid (IW) vir hartsiekte.

Noakes glo dat die meeste mense vandag aan IW ly en dat dit hulle sal baat om koolhidrate te vervang deur versadigde diervette.

Noakes se teorie oor cholesterol is teenstrydig met huidige mediese sienings oor koronêre hartsiekte wat onderskryf word deur internasionale gesondheidsliggame soos die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Hart- en Beroertestigting.

“Die hele konsep van insulien-weerstandigheid wat die wortel van alle kwaad is, spruit uit swak insig in metaboliese en biochemiese bane,” sê Van der Merwe.

Een kardioloog wat nie sy naam genoem wou hê nie, het gesê hy voel jammer vir Noakes wat homself duidelik in ‘n hoek geverf het met sy kwaksalwery.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.