Tot 60 000 betoog in Kaapstad teen Israel-geweld

Deel op

Terwyl die Joodse gemeenskap in Johannesburg in die South African Jewish Report spog oor die 10 000 mense wat hy verlede Saterdag ten gunste van Israel kon mobiliseer, het waarskynlik die grootste optog nóg in Suid-Afrika gister in Kaapstad plaasgevind toe tussen 30 000 en 60 000 mense na die parlementsgebou opgeruk het om steun aan Palestina te betoon.

Die reuseskare het liedere gesing en plakkate geswaai om te eis dat die geweld in die Gasastrook gestaak moet word.

“Ons skat dat daar meer as 30 000 mense is wat aan die optog deelneem, maar dit kan soveel as 50 000 wees,” het Richard Bosman, hoof van veiligheid en sekuriteit aan die Kaapse munisipaliteit, aan Sapa gesê. Volgens sommige beramings was daar egter 60 000 mense.

Die begoging is deur die National Coalition for Palestine (NC4P) georganiseer. Die koalisie bestaan uit meer as 30 godsdiensorganisasies, burgerlike instellings, vakbonde en politieke partye.

Boikot teen Woolworths

NC4P het vroeër vandeesweek in ‘n verklaring “beslissende optrede van die Suid-Afrikaanse regering geëis teen die Israeliese aanvalle, moorde, verdrywings en die vernietiging van die Gasastrook”. In ‘n ander mediavrystelling sê die beweging sy steun aan die BDS-boikot van Woolworths toe.

'n Deel van die skare in Kaapstad tydens gister se betoging
‘n Deel van die skare in Kaapstad tydens gister se betoging

“Ons ondersteun die oproep van die Boycott, Divestment and Sanctions-beweging (BDS) om alle maatskappye wat met die staat van Israel handel dryf, te boikot. Die Nasionale Koalisie vir Palestina het daarom ‘n landwyde aanbeveling uitgereik dat alle Woolworths-winkels in Suid-Afrika onmiddellik geboikot moet word. Die oproep om ‘n boikot geskied vanweë Woolworths se standvastige ondersteuning vir die Israel-apartheidstaat en kom ná diepgaande navorsing en ondersoek na die stand van handelsbedrywighede tussen die kettingwinkel en die Israelse staat. Inkomste uit die verkoop van Israelse goedere befonds oorlogsmisdade teen Palestyne. NC4P doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om vreedsame betogings voor alle Woolworths-winkels in Suid-Afrika te hou.

Die koalisie het ook ‘n beroep gedoen vir ‘n internasionale ondersoek na die optrede van die Israelse weermag in die Palestynse gebiede.

Volgens berigte is meer as 1 900 mense reeds dood sedert Israel verlede maand met Operasie “Protective Edge” begin het in ‘n poging om Hamas vir die afvuur van vuurpyle te straf en om die infrastruktuur van die Gasastrook te vernietig.

Die Verenigde Nasies sê nagenoeg 1 350 van die oorledenes was burgerlikes, waaronder honderde vroue en kinders.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.