Afrikaans en Afrikaners as ANC-vraagstuk

Deel op

Dit is bekend dat FW de Klerk bekommerd is oor hoe sy mandaatlose, dus onwettige, politieke oorgawe namens die blanke kiesers en die oordrag van daardie mag aan die swart meerderheid histories beoordeel gaan word. Hy het sekerlik baie rede om ongerus te wees. Deel van sy strategie is om die FW de Klerk-stigting as sy beeldpoetser te gebruik. Jare gelede is genoem dat De Klerk, as deel van sy voordele as oud-staatshoof, meer uitgawes as PW Botha en Nelson Mandela van die staatstesourie terugeis. ‘n Mens kan maar net hoop dat die koste van beeldpoetsing nie ‘n terugbetaalbare uitgawe is nie.

Dave Steward funksioneer reeds baie jare lank as die uitvoerende hoof van die FW de Klerk-stigting. Steward kan dus namens De Klerk reageer; ook wanneer dit ongewens, bv onbeskeie, sou wees as De Klerk vir homself in die bres tree. Dikwels het sodanige openbare verklarings nie veel meer as lastigheidswaarde nie en hulle ontvang gewoonlik min blootstelling in die pers. Sulke uitsprake kan nie op gesaghebbendheid aanspraak maak nie, want die ironie is dat De Klerk nie net die blanke kiesers se politieke mag in die niet laat verdwyn het nie, maar ook homself van al sy mag gestroop het.

FW se voet
FW se voet

Ek wil nogtans die aandag op een van Steward se jongste skrywes vestig. Dit is met die volgende opskrif gepubliseer: “Afrikaans is deel van SA vraagstuk” (Die Burger, 31 Julie, p 14). Daardie opskrif het my genoop om die teks te lees. Soos gebruiklik word daar gehamer op hoe wonderlik die grondwet is. As daarvolgens gehandel word, sou alles glo omtrent onverbeterlik wees. Hierdie hoogs onvolmaakte wet word telkens aan ons voorgehou as die item waarvoor ons eerbiedig dankbaar teenoor De Klerk moet wees. Die blankes se mag en selfrespek is hulle ontneem en toenemend ook hulle beskawing, kultuur, taal en veiligheid. Maar daar word nogtans van ons verwag om vir daardie stukkie papier, wat al hoe meer omseil word, waardering te hê.

As die grondwet die potensiaal het om ons welsyn te beskerm, waarom staar die verlies van die helfte van blanke boere (en later moontlik van alle blankes) se bates ons in die gesig? Verder, sedert die ramp van 1990/1994 word die land feitlik ongehinderd deur miljoene inkommers oorstroom. Die grondwet verhoed dit nie en politieke partye verwys polities korrek nie na hierdie tydbom nie. Hierdie inkommers, meesal swartes uit Afrika, gaan uiteindelik burgerregte kry. Die grondwet sal dus al hoe makliker deur swartes met ‘n tweederde meerderheid na willekeur verander kan word. Ek dink nie ons hoef vir De Klerk hiervoor ewig dankbaar te wees nie.

Die aanleiding vir Steward se skrywe is die kommunistiese minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, se stelling dat daar nie Afrikaanse universiteite is nie; net Suid-Afrikaanse universiteite. Steward se veels te gedienstige reaksie is:”Nzimande is natuurlik reg … Niemand verkondig enkelmedium-universiteite … nie.” Maar ek bepleit juis enkelmedium-universiteite omdat hulle die mees praktiese en mees ekonomiese inrigtings is. Ek dink ook dat die Universiteit Stellenbosch (US), wat na sy stigting in 1918 Engels uitgefaseer het, dit ‘n eeu later weer kan en behoort te doen.

“Dit is … duidelik prakties en billik dat minstens een uit die vier universiteite in die Wes-Kaap, wat hoofsaaklik Afrikaans is, Afrikaans as sy hooftaal van onderrig gebruik.” Om op ‘n Afrikaanse universiteit in die Wes-Kaap aan te dring, is inderdaad billik. Dit is myns insiens egter kortsigtig om te spesifiseer dat dit “hoofsaaklik Afrikaans” moet wees. Die ANC-regering befonds universiteite op ‘n eentalige grondslag. Geld vir uitgawes wat deur twee- (of die Botman-US se meer-) taligheid veroorsaak word, moet deur die universiteit self gevind word. In daardie sin verval Steward se “duidelik prakties”.

Steward se “hoofsaaklik Afrikaans” is ook onprakties. Afrikaans moet dan met Engels as onderrigtaal meeding. Dan word Engels al hoe meer die hoofonderrigtaal, soos gesien kan word aan al die eens enkeltalige Afrikaanse universiteite. Daar is by my geen twyfel nie dat Engels reeds die hoofonderrigtaal aan die US is, al word hierdie feit verdoesel en Russel Botman heeltemal misplaas postuum deur veral bruin ANC-kamerade as ‘n wafferse Afrikaanse taalbul geloof. (Dieselfde word met Jakes Gerwel gedoen.) Jonathan Jansen, wat graag voorgee het dat die Universiteit Vrystaat (UV) danksy parallelmedium-onderrig ‘n volledig tweetalige inrigting is, voorsien deesdae dat die UV ‘n eentalige Engelse instansie gaan word. Jansen “believes it will ultimately be resolved in favour of English, as a matter of practicality” (Donna Bryson, It’s a Black-White Thing, Cape Town: Tafelberg, 2014; Amazon Kindle, location 2171); sekerlik met kameraad Jansen se seën.

Volgens Steward is Afrikaans en Afrikaners ‘n vraagstuk vir die ANC omdat dié hom nie deur die grondwet laat lei nie, maar eerder deur sy eie ideologieë, waarvan die nasionale demokratiese rewolusie, Afrika-hegemonie en demografiese verteenwoordiging voorbeelde is. Die gevolg is dat dit vir die ANC gaan om Afrikaan-bevryding en Afrikaan-nasiebou en daar nie werklik ruimte vir minderhede se etnisiteit en kultuur gelaat word nie. Steward haal ‘n ANC-beleidsdokument soos volg aan: “Ons nasie se bevestiging van ons wese as Afrikane nie met die heerskappy van een kultuur of taal bo ‘n ander verband hou nie, maar dat dit verband hou met die erkenning van ‘n geografiese werklikheid en die ontwikkeling van ‘n bewussyn wat deur kolonialisme onderdruk is.” Verskille/diversiteit word dus deur gelyk- of eendersverklaring, oftewel swart mag, verswelg.

Steward kom tot die volgende gevolgtrekking:”Nzimande se vasberadenheid om kulturele en linguistiese eenvormigheid aan ons universiteite op te dwing is ongrondwetlik.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.