Ses sinnetjies, die kruks van Afrikaners se probleem

deur Jan Viljoen

‘n Swart pamflet wat tans die rondte doen, bevat ses sinnetjies wat eintlik die kruks van die Afrikaner se probleem is.

Die sinnetjies gaan een van die dae moontlik weer vergete wees, maar die ses sinnetjies is die oorsprong, die omvang en die manifestering van die vervalle Suid Afrika waarin die Afrikaner homself bevind. Hierdie pamflet beskryf presies waar ons is en hoekom ons hier is.

In die pamflet – glo van SASCO – word swartes aangemoedig om die Universiteit van Noordwes terug te neem en om in die proses die Afrikaner en Afrikaans dood te maak.

Die pamflet spreek boekdele en elke enkele sinnetjie is vir ‘n baie spesifieke doel gekies en is so bewoord dat dit klink asof dit reguit uit die ANC se Freedom Charter kom. Die mense wat die pamflet geskryf het weet wat hulle doen, en daarom is dit vir my moeilik om te glo dat dit deur ‘n paar halfgeletterde kwotastudente gedoen kon gewees het.

Kom ons begin by die oproep tot geweld, die heel boonste sin en die sin wat gekies is om die aandag te trek naamlik, “ATTENTION COMRADES”.

nwukill

Ons is al ‘n bietjie meer as twintig jaar in Frikkie se Nuwe Suid-Afrika en daar is baie min van ons wat sal kan sê dat die mishoop van barbaarsheid en wetteloosheid waarin ons vandag verkeer, die utopie is wat Frikkie en sy trawante of NASPERS en sy mak werfbobbejane hulleself so angstig voor be-ywer het en wat hulle so bedrieglik belowe het. Ons lewe nou al twintig jaar of so onder die juk van die swart massas, en soos wat elke jonger generasie swartes hulle toetrede tot die samelewing maak, so word die eise en die afguns meer, die totale gevoel dat hulle al meer en meer geskuld word en dat hulle daarom op al meer en meer geregtig is sonder om ‘n teenprestasie te lewer word deel van hulle daaglikse mantra.

Hulle het begin agterkom dat Bantu Education baie meer as vandag se skoolopleiding vermag het, want met Bantu Education was daar voorsiening gemaak dat hulle teen hulle eie pas en in hulle eiesoortige omstandighede vordering kon maak. Hulle het nie nodig gehad om teen blanke kinders te moes kompeteer nie, en voordat iemand sê dat BE ‘n ondergeskikte skoolopleiding was, hou net hierdie bietjie insig ingedagte. BE het tydens die donker jare van apartheid meer swart miljoenêrs en professionele swartes opgelewer as wat die skoolopleiding van al die swart Afrika lande saam kon oplewer.

Dit is nie meer vandag so nie, want skoolopleiding in Frikkie se Nuwe Suid-Afrika het tot so ‘n aard verswak dat sommige lande op die swart kontinent hulle kinders eenvoudig net beter oplei. Maar ten spyte van, en nie as gevolg van die swak skoolopleiding nie, vaar blanke kinders deur die bank nog steeds beter as swart kinders. Vandaar die besef onder swart studente dat hulle nie vandag die mas kan opkom nie en dat enige omstandighede waar hulle nie op hulle eie fakulteite kan staatmaak om te kan kompeteer nie, as rassisties ge-ag kan en moet word. Die Universititeite skuld hulle een of ander vorm van nagraadse kwalifikasie want dit is wat nodig is om ‘n goeie werk te kan kry, waar ‘n mens baie geld per maand kan verdien en dan duur whiskies kan drink en elke dag Kentucky kan eet. Blanke kinders wat tot die Universiteite toetree het skynbaar nie ‘n probleem om kwalifikasies te kry nie, en dit is rassisties. Universiteite skuld hierdie kwalifikasies aan die swart studente, ongeag of hulle dit verdien en of hulle daarvoor gewerk het.

Liberation before education het nie beter studente opgelewer nie, dit het swakker skoolopleiding tot gevolg gehad en dit skep ‘n reuse probleem. Wit studente neem die voortou op elke vlak en die swart massas staan hulpeloos en toekyk hoedat die sisteem net nie vinnig genoeg tot hulle oproep gehoor wil gee nie. Wat nou nodig is, is om die sisteem te verander, nie om die gesindheid te verander of deursettingsvermoë aan die dag te begin lê nie, of om te besef dat nagraadse kwalifikasie nie iets is wat jy kry net sodat jy ‘n goeie werk kan kry nie; dis iets wat jou toekom slegs as jy die inherente vermoë het en die toets en eise wat dit aan jou stel met sukses kon voltooi. Kortom, dit kom jou slegs toe as jy dit verdien.

Om die sisteem te dwing om selfs vinniger te verander is daar dus drastiese stappe nodig. ‘n Ommekeer is nodig om die stelsel te verander, ‘n rewolusie dus. Suid Afrika het nog nie die rewolusie gehad waarop daar voor 1994 gehoop is nie, nie omdat die Mandelagod oorgeneem het nie, of omdat Frikkie en sy trawante ons land so skaamteloos en bedrieglik weggegee het nie om die swart massas te paai nie, maar omdat die Afrikaner destyds fisies, geestelik en ekonomies te sterk was en hulle net nie oor die vermoë beskik het om ons in ‘n rewolusie of gewapende opstand te kon verslaan nie. En ons is nog vandag nog steeds. Die rewolusie moet op een of ander manier afgedwing word en die generasies swartes van vandag, so militant, blatant skoorsoekerig, alwetend, agressief en domonnosel wat nooit die skerp kant van die Afrikaner beleef nie, raak by die dag meer oortuig dat hulle die Afrikaner met geweld kan verslaan. Iets wat hulle voorouers kon regkry nie.

Volgens die huidige generasies swartes is die Afrikaner min of meer ‘n verslaande en oorwonne volk, en hulle oproepe tot vergelding en magsvergrype raak elke dag meer dringend en uitdagend. Daar is ‘n nodigheid dat die militante agressie wat voor ’94 geheers het, tot alle prys behou moet word en dat dit selfs versnel moet word, want die laaste van die Afrikaner is nog nie uit Frikkie se Nuwe Suid-Afrika verdryf nie, en ons het nog te veel oor waarop die swart massas graag hulle gretige hande wil lê.

Om die rewolusie en die militansie aan die lewe te hou, is dit dus nodig om die taalgebruik van die terroriste van pre-’94 te gebruik want dit het toe gewerk en dit sal vandag weer werk. Daarom is dit van uiterste belang om die eerste sin, die oproep tot geweld, met “Attention Comrades” te begin. Om studente as “comrades” aan te spreek skep onmiddellik die indruk dat daar weer ge-struggle moet word en dat hulle almal deel van die nuwe struggle uitmaak.

Die ou strategie word gebruik om die nuwe rewolusie tot lewe te roep. Die eerste sin is dus nie om dowe neute so verwoord nie, anders kon die skrywers van die pamflet bloot die woord “attention” of “attention fellow students” gebruik het. Maar om die woord “comrades” te gebruik, dui op ‘n oproep tot militansie, so reg uit die Karl Marx-manifes van hoe om ‘n rewolusie byeen te kry. Die eerste sin skep dus al klaar die toestand van dit wat gaan volg.

Dan kry ons die volgende sin, “Time to take back the NWU.” Hierdie sin spreek boekdele, en dit impliseer dat die Universiteit van Potchefstroom by die massas gesteel is. Ons gaan nie in die geskiedenis van Potchefstroom Universiteit ingaan nie, bloot omdat dit nie nodig is nie, daarom sal ek net hierdie enkele sin uit Wikipedia aanhaal, sodat ons darem ten minste weet waar ons staan.

“Potchefstroom University developed out of the Theological School of the Reformed Churches in South Africa (Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in Afrikaans, abbreviated as GKSA), which was founded on 29 November 1869 in Burgersdorp, Cape Province.” (Toevallig op my familie se familieplaas staan die klipkerkie as gedenkteken vandag nog steeds. So entjie met die grondpad af, verby die grondtennisbaan waar die boere in my kleintyd altyd kom tennis speel het.)

Die blote feit dat dit nie waar is dat die Universiteit by die massas gesteel is nie, is nie van toepassing nie. Dit is slegs nodig om dit te sê, want dit rui die emosies onmiddelik op en ons weet dat massa-emosie ‘n verskynsel is wat maklik gebruik kan word om ‘n skare idiote tot uiterste geweld te kan opsweep. As die spul eers in ‘n massakranksinnigheid geraak het, word alles voor die voet afgebreek, vernietig en geplunder, soos ‘n skool pirhanas op ‘n vreettog.

Die sin is dus gekies vir sy waarde om die massa op te sweep. Dit is presies dieselfde taktiek wat Malema gebruik; om sy massas met leuens en retoriek op te sweep en opgesweep te hou. Hierdie is ‘n ou foefie wat regdeur die wêreld gebruik is om rewolusies en omverwerpings van orde en wettigheid te berwerkstellig, en dit verbaas my nie dat hierdie retoriese leuen gebruik word om die emosies van die nuttige idiote te manipuleer, sodat die individue in een enkele redelose dier kan verander nie.

Kyk wat sê die ANC se freedom charter. … “that our people have been robbed of their birthright to land, liberty and peace by a form of government founded on injustice and inequality;” Alles is skynbaar gesteel en die persepsie moet ten alle koste lewend gehou word. Die magte agter die ANC het jare terug al die taktiek gebruik om die massas met retoriek op te sweep, soos wat Malema vandag nog steeds doen en soos wat die skrywers van die PUK-pamflet ook doen. Die sin impliseer dat die Afrikaner alles wat hy het van die vreedsame swartes gesteel het en dit impliseer verder dat die swartes dit kan terugvat, met geweld indien nodig want die geweld was eerste teen hulle gepleeg. Dit verontskuldig hulle dus indien hulle tot geweld oorgaan en dit is al wat hulle nodig het om ‘n geweldsorgie te pleeg. Volgens die sin is geweldadige optrede regverdig omdat die onreg eerste teen hulle gepleeg het, en verder is dit nodig om die Universiteit terug te vat want dit is histories hulle s’n. Die skrywers van die pamflet weet dat dit ‘n leuen is, en verder weet hulle ook dat dit nie tot die voordeel van die swart studente is dat die Universteit in ‘n swart mishoop van wanbestuur en korrupsie verval nie. Die doel is slegs om die Universiteit te vernietig sodat dit nie meer Afrikanerstudente kan oplei nie en sodat dit nie meer ‘n Afrikaner-bate is nie. Die leuen is dus nie tot voordeel van die swart studente nie, dit is uitsluitelik tot nadeel van die Afrikaner. Dit bevestig verder die vermoede dat hierdie pamflet nie deur halfgeskoolde swart studente geskryf is nie, maar deur iemand wat konflik wil veroorsaak om Afrikanerbates te vernietig.

Dan kom ons by die sin, “KILL the Boer.”, met die woord “kill” in hoofletters, met ander woorde ‘n opdrag. Ons hoef nie veel te sê oor hierdie sin nie, behalwe dat dit bewys dat die pamflet nie soseer teen die Universiteit gemik is nie, maar teen die hele Afrikanervolk, en let wel, slegs die Afrikaner. Nie die Jood, of die Engelsman of enige ander volksgroep nie, slegs die Afrikaner, anders sou daar gestaan het, “Kill the Whites.” Maar dit is teen die vernietiging van die Afrikaner gemik en slegs die Afrikaner.

Nie dat dit veel sal help om te probeer proklameer dat jy ‘n liberale Engelsman is wanneer die geweld teen jou as persoon gepleeg word nie, want wanneer massasotlikheid eers beheer van die skare geneem het, raak die vernietigingsdrang iets wat alleen met ewe veel teengeweld gestop kan word. Dan is dit altyd lekker om te sien hoedat die spul mekaar doodtrap om te probeer wegskarrel, elkeen ewe skielik vir homself, en elkeen ewe skielik ewe veel onskuldig in die geweld van flussies. So die doodmaak word teen ‘n groep, die Afrikaner, verkondig en nie teen studente nie en dit bewys dat die totale aanslag teen die Afrikaner verskerp word en elke geleentheid word benut om die Afrikaner te probeer vernietig.

Dit bring ons by “KILL the Racist.” Weer ‘n opdrag. Om die woord rassis in ‘n sin te gebruik is om die argument te wen, of om die aksie wat teen “rassiste” gemik word te regverdig. Soos wat dit deesdae gaan, danksy Naspers en die media se voorliefde van gonswoorde wat nie uit volksgeheue mag verdwyn nie, want om as ‘n rassis gebrandmerk te word is ‘n oortreding skynbaar erger as moord. Die terme “rassis”, “Boer” en “Afrikaner” is natuurlik onderling uitruilbaar. Dit verleen dus regverdiging aan die aksie, sou dit plaasvind, om die rassistiese Afrikaner uit te moor, want deur slegs net ‘n Afrikaner te wees verdien jy dus die geweld teen jou.

Ons moet onthou dat die gemiddelde swart student nie noodwendig die room van die studentemassa is nie. Hierdie tipe taalgebruik en opsweping is gerig op diegene wat vatbaar is daarvoor. Dit kos nie veel inspanning van ‘n paar beswaarde swart enkelinge nie om in ‘n een tierende organisme te verander wat daar en dan van alle rede afsien.

Dan kom ons by “KILL Afrikaans.” Nie “Stop Afrikaans,” of “Reduce Afrikaans” of “Out with Afrikaans” nie, maar om die taal dood te maak. Om dit te vermoor. Regte rewolusietaal en ‘n taal waarmee die politiek en die sogenaamde demokrasie in Suid Afrika te gemaklik mee omgaan. En ook ‘n taal wat heeltyd net teen een bevolkingsgroep gemik word. Waar in die ganse wêreld moes een klein minderheid al ooit gedweë staan en toekyk en elke dag in die publiek moes aanhoor dat hulle vermoor moet word?

Selfs die Presidente van die land, die Mandelagod inkluis het dit op een of ander stadium bepleit. Die blote absurditeit en totale surrealitiet van die situasie en hoe ons dit elke dag gedweë aanvaar sou lagwekkend wees as dit nie so ‘n ongelooflike bedreiging ingehou het nie.

Maar ten minste is daar nog rugby, en af en toe, soos wat ek in ‘n vorige skrywe gesê het, een of ander vorm van minderwaardige erkenning wat ons weer stertswaaiend na ons swart oorheersers toe laat terugkruip. Of eintlik moet ek sê, soos wat Naspers dit wil hê ons moet doen. Nee, Afrikaans moet vermoor word, dit is al waarmee die komende rewolusie tevrede gaan wees, tesame met die totale uitwissing van die Afrikaner en alles wat vir hom kosbaar en dierbaar is. Hierdie pamflet gaan nie soseer oor die Universiteit van Potchefstroom nie, hierdie pamflet is ‘n teken van hoe donker dit nog vir die Afrikaner in sy eie land gaan word.

Ons sal iets anders as Kumbaja om die kampvuur moet begin sing. As ons sogenaamde leiers dan nie in staat is om ons in die regte rigting te lei nie, moet ons van hulle begin ontslae raak. Die tyd begin aanbreek waar ons nie meer die luukse het om sotlike leiers en hulle brose ego’s te probeer pamperlang nie. As jy nie die vermoë het om ‘n verskil te maak en jou groep op die regte manier en in die regte rigting in te lei nie, moet jou groep van jou ontslae raak en vir hulle ‘n leier gaan soek wat wel iets werd is.

En verder moet ons sogenaamde leiers nou begin besef dat die Afrikanergroepe nie hier is sodat elke groep sy leier kan verafgod en sy persoonlike mishoop beskerm nie. Dis tyd om die groepe in een groterwordende groep met ‘n gesamentlike visie te begin saamsnoer, en daar is net een manier om dit te doen. Dit is om jou eie oogklappe ‘n bietjie wyer te maak en die groter prentjie te begin raaksien, want alleen gaan ‘n klomp verskillende groepies nie die toets deurstaan nie. As jy dit nie wil of kan doen nie, gee die leisels vir iemand wat toenadering tot ander groepe kan soek, wat raakpunte eerder as verdeelpunte tussen die groepe kan raaksien, sodat daardie een die groep na ‘n beter posisie toe kan lei. As jy dit nie kan of wil doen nie, hoort jy in dieselfde kamp as verleiers soos Naspers. Ons verbeel ons dat ons jare se tyd het om iets te doen en dat iemand anders dit in elk geval sal oplos. Die tyd om verward rond te kyk het opgehou. Leiers moet begin lei, in die regte rigting.

Ek kan hoor hoedat mense vra, maar hoe sou jy dit gedoen het? Dis maklik, ek is nie ‘n leier nie, maar ‘n mens hoef nie ‘n kok te wees om te weet dat iemand se kos lekker is nie, so ek kan sien wat gedoen moet word. Begin ten minste by die begin, en kry groepe wat naby aan jou groep is eerste om te probeer bepaal wat julle namekaar toe kan bring. Begin om rolle en funksies vir die onderskeie groepe, onder die sambreel van ‘n gesamentlike inklusiewe liggaam af te baken. Trek groepe in en behou hulle identiteite as dit moet, maar reik hande uit. Doen dit eers en wanneer daar kohesie is, bring jou ondersteuners, al is dit skoppend en skreeuend in die proses in. As hulle nie hou van waarmee jy besig is nie, moet of hulle of jy die groep verlaat sodat iemand anders kan kyk of hy die mense kan oortuig. Afrikaners is hardkoppig en onafhanklik, maar het nog altyd na wyse en sterk leiers geluister. Die tyd het aangebreek dat ons wyse en sterk leiers begin ondersteun. Ons oorlog gaan nie teen halfgeskoolde kinders op ‘n vergete Universiteit wees nie, hulle gaan slegs die kanonvoer wees. Ons oorlog gaan teen ‘n baie slinkser en agterbakse gebroedsel wees en alhoewel almal dit kan insien kan ons blykbaar nie die vrymoedigheid en wil bymekaarskraap om in die regte rigting te begin trek nie.

Dit bring ons by die laaste sin, “Uhuru Anakuja.” Vryheid is aan die kom. Die swart massas in Suid-Afrika se gemiddelde lewensduur is baie hoër as die res van Afrika, maar skynbaar is die vlak van beskawing wat hulle in Frikkie se mislukte land verduur, nie goed genoeg nie. Hulle wil nog vryer wees, vry van die Afrikaner se ekonomie, vry van wette en reëls wat sy kreatiwiteit aan bande lê, vry van relatiewe eens goeie mediese sorg, vry van moraliteit en vry om te vat en te gebruik wat hy wil. Hierdie vryheid gaan skynbaar ‘n onuitputlike bron van genietinge en oorvloed van wêreldse genot beteken. Almal gaan na hartelus kan steel, moor en roof terwyl die leiers in die minderwordende oorvloed van die koloniale tydperk baai. Wanneer dit op is gaan die werkilikheid begin posvat. Wanneer die een diktator na die ander van al hoe meer geweldadige metodes gebruik begin maak om aan ongebreidelde mag te probeer vasklou, gaan die werklikheid van Frikkie se Nuwe Suid Afrika tot selfs die gehardste vrygewordende begin deurdring. Maar dit is nie my probleem nie.

My probleem lê daarin om te probeer keer dat dit nie gebeur nie, want hierdie sogenaamde vryheid gaan slegs ten koste van die Afrikanervolk en ons eens geliefde land gebeur.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.