Europa teen die muur

Deel op

deur Karel Combrinck

Min sou die lande van Europa weet dat toe hulle die Europese Unie gestig het of daartoe toegetree het, hulle begin het om hulself in ‘n hoek te verf. Vandag bestaan die Unie uit 27 lidlande met verskillende vlakke van ekonomiese ontwikkeling en lewenstandaarde. Die grootste probleem is egter dat die lidlande hulle magte so te sê volledig aan die Europese Unie oorgedra het en hoewel dit in beginsel die lidlande is wat die wette en beleidsrigtings van van die Europese Unie bepaal, is daar soveel deelnemers met uiteenlopende belange dat indiwiduele lidlande se seggenskap byna net nog teoreties is. Die werklike beheer lê by die burokrate in Brussel.

‘n Goeie voorbeeld van die situasie waarin lande van die Europese Unie hulle bevind, is die huidige onstuimigheid onder Franse vrugteboere wat hulle produkte by die tonne in paaie en strate stort omdat die Spaanse vrugteboere hulle produkte teen laer pryse in Frankryk verkoop. Daar is absoluut niks wat die Franse regering hieraan kan doen nie. Die vrye beweging van mense, kapitaal en goedere is een van die hoekstene van die Europese Unie en die burokrate in Brussel sal nooit toelaat dat die Franse regering hulle vrugte­ en ander boere subsideer ten einde hulle mededingend te maak nie.

Die Franse regering sou bv. die boere kon help deur hulle sosiale­ en werkloosheidsbydrae te verminder. Dis die soort foefie waartoe hulle goed in staat is. Maar Brussel is hiervoor uitgeslape genoeg om spesiaal op die uitkyk te wees vir Franse verneukery en sou so ‘n stap gou herken as ‘n bedekte vorm van subsidie en ‘n stokkie daarvoor te steek. Kortom, daar is niks wat die Franse regering kan doen om die situasie te beredder nie.

En dit is maar net een voorbeeld. Die totaliteit van die Franse ekonomiese­ en nywerheidsaktiwiteit word geraak. Waar die Franse regering voorheen kon intree om bepaalde sektore sporadies met staatshulp uit die pekel te help, kan hulle dit nou nie meer doen nie. Brussel laat dit nie toe nie. Die gevolg is dat ‘n reeks nywerhede, staalfabrieke, skeepswerwe, motorfabrieke ens. sluit, aan buitelandse belange uitverkoop, of net die land verlaat. Onlangs is die groot Franse maatskappy Alsthom, aan General Electric verkoop. Dis ‘n enorme onderneming wat te make het met nywerhede van strategiese belang soos die vervoersektor, treine, kragsentrales ens. Dit lei natuurlik tot groter arbeidloosheid en ‘n krimpende belastinginkomste. Belastings kan hulle nie verhoog nie, want dit sou die klein en middelslagnywerhede doodsmoor wat reeds in die moeilikheid is en die grootste werkgewers in Frankryk is. Boonop sit hulle met die «probleem» dat omtrent enige iets wat hulle doen of sê die Front National se saak bevorder. (Darem iets positiefs!)

Nog ‘n goeie voorbeeld is die maatskappy SNCM wat die skeepsverkeer tussen die Franse vasteland en Korsika behartig. Die maatskapy gaan die afgelope maande reeds gebuk onder vernietigende (kommunisties ­geïnspireerde) stakings. Langs die pad het die Franse staat die maatskappy finansieel bygestaan om hulle deur die krisis te help. Noudat die maatskappy halfbankrot is weens die stakings «eis» Brussel dat SNCM die subsisies ten bedrae van miljoene euro’s aan die staat terugbetaal. Onnodig om te sê, is dit so te sê die genadeskoot vir die maatskappy.

Watter betrekking het dit nou op die situasie in Suid­-Afrika? Suid­-Afrika is, soos Europa, ook multinasionaal van aard. Al die entiteite waaruit Suid­-Afrika bestaan, is deur die Engelse imperialisme binne kunsmatige grense saamgedwing, die twee Boererepublieke, Zoeloeland, die Transkei, ens. Hierdie uiters uiteenlopende groepe hoort nie bymekaar nie, is kultureel onversoenbaar en moes nooit saamgevoeg gewees het nie. Hulle sou wel vreedsaam langs mekaar kon woon. Dis waarvoor dr Verwoerd gewerk het. Maar die halfkommunistiese, halfchristelike, halfdemokratiese «internasionale gemeenskap», gelei deur hulle volledig perverse media wou dit nie.

In Europa is daar nou, soos u natuurlik reeds weet, ‘n sterk verset besig om pos te vat teen die Europese gedrog onder beheer van ‘n gesiglose burokrasie in Brussel. Hiervan is die Front National in Frankryk miskien die bekendste. Hulle is sat van ‘n Europese Unie wat hulle bevolkings verarm, hul ekonomieë smoor, hulle bevolkingsamestelling met ongebreidelde immigrasie versteur en hulle taal en kultuur verdring. Daarby is die Europese Unie, ten spyte van sy bevolking van 500 miljoen of wat ook al, ‘n volkome tandelose bulhond wat op die wêreldtoneel ongeveer geen gewig dra nie. Waar hulle nog iets verrig, is dit met toestemming of in opdrag van die Amerikaners en dan is dit meesal ‘n totale mislukking soos bv. in Libië. Ons wag nou net dat hulle in die Oekraïne, in navolging van die Amerikaners, ook ‘n gemors moet maak.

Die skrif is aan die muur vir vormlose en siellose konglomerate en die dag moet en sal kom dat die Suid-­Afrikaanse gedrog ook uitmekaar val.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.