R500m: Muvhango se tenderpreneur-families is eg!

Deel op

In Suid-Afrika is die werklikheid altyd vreemder as fiksie. In die swart SAUK-sepie Muvhango baklei familielede oor frontmaatskappye en tenders wat hulle vir mekaar gaan toeken.

Nou blyk die “fiksie” eg te wees, want so pas het die ouditeur-generaal bekendgemaak dat meer as R500 miljoen se munisipale tenders aan maatskappye toegeken is waarin munisipale werknemers en raadslede oor aandele beskik. Dit is onwettig vir maatskappye waarin raadslede of werknemers ‘n belang besit om tenders te bekom.

Kimi Makwetu, die ouditeur-generaal, het verder bekendgemaak dat meer as R100 miljoen se tenders aan die naaste familie (eggenote, kinders en ouers) van raadslede en munisipale werknemers toegeken is. In so ‘n geval is dit nie onwettig vir “familie” om tenders te bekom nie, maar hul verwantskap aan die tendertoekenners moet volgens tersaaklike wetgewing verklaar word.

“Die toekenning van tenders aan werknemers en raadslede kwel ons omdat dit verhoed kon word as basiese beheermeganismes van krag was en sulke mense hul belange verklaar het,” het Makwetu gesê.

“By 19 munisipaliteite het werknemers nie hul belange verklaar nie, met R70 miljoen se tenders, terwyl verskaffers by 27 munisipaliteite dit ook nie gedoen het nie.”

Dié aankondiging volg kort op die hakke van die R1,4 miljard-skandaal waarby Brian Hlongwa, hoofsweep van die ANC in Gauteng, betrokke is. Twee maatskappye wat vir kontrakte by die Gesondheidsdepartement getender het, het onder meer ‘n huis van R7,2 miljoen vir Hlongwa in Bryanston, Johannesburg, gekoop.

Wat die Gauteng-provinsie betref, het die ouditeur-generaal nie spesifieke bedrae verwys nie, maar wel genoem dat daar onder die R466 miljoen se onreëlmatige uitgawes tenders was wat aan maatskappye toegeken is waarin raadslede, werknemers en verwante amptenare oor ‘n aandeelhouersbelang beskik.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.