Metrorail moes inderhaas elf treinstasies tussen Philippi en Nyanga op die Kaapse Vlakte sluit weens oproerige pendelaars.
Intimidasie en geweld deur gefrustreerde reisigers is aangemeld nadat duisende gestrand is omdat vandale sinjaalkabels by ‘n sleutelkruising gesteel het.
Sowat 80 treine in die gebied is erg ontwrig, en die skade word op byna twee miljoen rand geraam.
Busdienste sal Donderdag Kaapse pendelaars na hulle werk vervoer.
Duisende pendelaars sal na verwagting die hele Donderdag vertragings beleef.
Die Wes-Kaapse minister van vervoer, Donald Grant, het die dade van vandalisme skerp veroordeel.
‘n Woordvoerder van Metrorail, Riana Scott, het bevestig dat die polisie die misdaad ondersoek. Scott sê die kabels wat gesny is, is multilynkabels en tot 37 dunner kabels is binne in een groot kabel saamgevoeg.
Sy sê hulle reken dat dit sowat twee-en-‘n halfmiljoen rand sal kos om dit te vervang.