Die oplossing vir misdaad, ‘n paar wilde voorstelle?

Die oggendlug is skerp-vars, terwyl ek voor die rekenaar sit en werk. Die nuus dat ons land se vrye grond dalk nog 500 addisionele misdadigers moet dra in die gemeenskap is iets wat in my kop rondmaal. Dit kan net nie so aanhou nie. Daar moet êrens ‘n oplossing wees. Dis toe wat ek die aha-ervaring kry, soos vars oggendlug in die winter wat mens se kop kom oopmaak.

 

Die een groot probleem deesdae is dat geen misdadiger werklik aanspreeklik gehou word vir wat hy of sy doen nie. As hulle gevang word, en meer belangrik, suksesvol vervolg word is dit maar net een pad. Tronk toe met tralies wat toeklap agter die oortreder. Daar is hy veronderstel om te boet vir wat hy gedoen het, deur bloot uit die samelewing verwyder te word vir ‘n tyd lank. En dis net hier wat die probleem begin.

Tyd alleen maak nie alles reg nie.

Die verblyf daar bepaal grootliks of die stap suksesvol was aldan nie. En tans word die tyd wat die misdadiger agter tralies spandeer nie korrek aangewend nie. Wat die staat nie besef nie, is dat hulle met ‘n onuitputbare bron van arbeid sit en dat hulle dit nie aanwend vir die land nie. Inteendeel, hulle word in geen kapasiteit aangewend behalwe om ‘n las op die belasting betalers te word nie. Want hulle word geag as mense wat regte het, en behoede jou as jy sou durf waag om hulle regte aan te tas, want die volgende oomblik is die menseregtekommissie op jou.

Die antwoord is eintlik maklik. Daardie kriminele het deur hulle eie aksie hulle regte verbeur deur ander van dieselfde regte te ontneem. Dus is hulle na my mening nie geregtig op enige konsiderasie nie. Geen regte nie en bitter min voorregte, dis al wat hulle behoort te hê om op staat te maak. Hulle behoort nie eers geken te word in sake wat hulle omstandighede betref nie. Hulle moet doen soos hulle beveel word en dis al. As dinge ongerieflik raak moet hulle dit maar sluk, want dis wat hulle slagoffers moes doen.

En vir sover dit regte en geriewe aangaan behoort hulle slegs die basiese te hê soos kos en water (waarvoor daar van hulle geld afgetrek word), ‘n bed en ‘n dak oor die kop. Enigiets meer as dit is onnodig. Biblioteke, televisie en gereelde besoeke is alles voorregte wat die man bedank het toe hy sy misdaad gepleeg het. Die verskynsel dat mense studeer in die tronk is ook ‘n onding. Want die persoon is nie daar om vakansie te hou en sy graad klaar te vang nie, hy is daar omrede hy gestraf word, en gratis studie vir ‘n graad is nie in my oë gelyk aan straf nie.     

Dit is hier wat ‘n sisteem van restitusie behoort in te tree. ‘n Sisteem wat waarde aan arbeid heg en wat van die gevangene verwag om volgens sy wandaad arbeid te verrig om die staat en die een wat verontreg is deur sy werk te vergoed. En saam met dit kan mens sover gaan as om te sê dat hy nie eers geregtig is op voedsel sonder om daarvoor te werk nie. Dit kan verder uitgebrei word na dinge soos mediese behandeling en die onderhoud van die tronke waarin hulle hulself bevind.

Mens kan dalk hier die sisteem uitbrei om die misdadiger wel die voordeel te gee dat as sy familie die bedrag geld kan betaal wat aan sy sosiale skuld gekoppel word dat hy dan as vry man weer die buitelug kan inasem, maar ek dink nie dat dit sal gebeur nie, aangesien die oorgrootte meerderheid van hulle nie daartoe in staat sal wees nie. Daar kan byvoorbeeld gesê word dat as daar R 100 000 se goed gesteel is dat hy die waarde van R200 000 moet terugwerk, natuurlik met die inagneming van sy daaglikse voedsel en verblyf. Die tipe arbeid kan in verskeie velde aangewend word, van paaie bou tot landbou, daar waar dit op daardie tydstip die nodigste mag wees.

Sommige tonele uit die ou film “Cool hand Luke” kom hier in my gedagtes op. Die tyd van “chain gangs” waar almal ewe hard aan die pad help werk terwyl hulle aanmekaar vasgeketting staan, met een gewapende wag wat ogie hou en nie skroom om te skiet as iemand skielik “haasbloed” in sy sisteem ontwikkel nie. (Dis die neiging om te vlug as hy die kans het.)   

Of as hy ‘n groot familie het wat hom vreeslik mis kan hulle maar sy skuld kom help afwerk en hom sodoende gouer uit die tronk uit haal.

Mens kan hier selfs ‘n addisionele sisteem voorstel. Indien ‘n persoon ‘n misdaad gepleeg het en die gemeenskap van die persoon se aksies geweet het, die gemeenskap dalk ook verantwoordelik gehou kan word. En waar daar dan ‘n soort boete op die gemeenskap gehef kan word. Vir hulle “aandeel” in die misdaad omdat hulle nie die daad gestop het of die persoon aangegee het by die owerhede nie.  

Dan sal daar die situasies wees waar mens nie dit kan vervang wat geneem is nie, soos lewe en gesondheid. Dit maak dinge so ‘n entjie moeiliker. Daar sal die keuse moet begin inkom van doodstraf of lewenslank werk vir iets wat hy nie kan terug gee nie. Persoonlik is ek voorstaander van doodstraf. Daar bestaan wel ‘n ander opsie, en ek dink dit kan ook baie van ons probleme oplos as dit reg benader kan word.

Die eerste opsie vir die misdadigers sal wees om goudmyners te word, maar dit sal nie die vorm van “veilige” werk wees wat in georganiseerde mynbou aangetref word nie. Hulle sal die plek van die sogenaamde “zama-zama’s” inneem, ‘n werk wat in elk geval op onwettige wyse gedoen word, deur onwettige werkers, diewe, as mens dit so eenvoudig stel. Die tipe straf kan dan meer as een voordeel inhou. In die eerste plek sal die persoon wat homself die straf op die hals haal risiko dra, en in die tweede plek sal die persoon konstruktief besig gehou word op so manier dat die land en die samelewing voordeel trek uit sy aksie uit.

Die voordeel van die tweede punt sal veroorsaak dat daar heelwat myne wat tans as amper onontginbaar beskou word, weer oopgestel kan word sodat die goud wat in moeilik ontginbare are is ook uitgehaal kan word. ‘n Verdere voordeel van hierdie tipe mynwerk is dat die myn nie teen astronomiese koste bedryf hoef te word nie, maar teen die minimum koste, amper net genoeg krag om die waaiers aan die gang te hou wat genoeg vars lug ondergronds moet inpomp.

Hoewel die konsep van mynwerk onder die omstandighede dalk uiters wreed en barbaars van my mag klink is dit een manier om van die arbeid wat sit en sleg wees in die tronke gebruik te maak. En as die “bleeding hearts” brigade daaroor wil kla, moet hulle dink aan die ander opsie – doodstraf – kort en kragtig.   

Die ou dae van slaweskepe klink dalk nie na so slegte idee nie, siende dat ons op die donker kontinent woon. Ek glo dis nie onmoontlik om met min moeite so paar groot vragskepe om te bou na tronkskepe nie, wat dan gebruik kan word om gevangenes en hulle families (opsionele ekstra) te neem na elders ver van hier.  

Die buiteland moet hier intree en dan voor ‘n keuse gestel word, indien hulle vir die persoon se regte meer omgee as vir die van die slagoffer van die misdaad moet hulle dan bereid wees om die persoon as burger van hulle regsisteem oor te neem, waarna hy dan met sy hele uitgebreide familie op ‘n skip gesit word en gepos word na die land wat gesê het dat sy regte onaantasbaar is. Indien hulle nie bereid is om ons probleempie oor te neem nie, (wat natuurlik die standaard antwoord sou wees) moet die persoon tereggestel word sonder dat daar enige geweeklaag is oor die persoon se reg tot lewe wat hom ontneem word.

Siende dat Australië sy ontstaan te danke het aan die Britte se wonderlike gewoonte om misdadigers per skip na die wilde, woeste land te stuur, dink ek dat Brittanje dalk net die aangewese plek sou wees om ons van die kriminele elemente te verlos, aangesien hulle so verlig was om ons ou beleid van doodstraf te kritiseer.
Verder is Brittanje ook die een om te bedank in ‘n groot mate vir die gemors wat ons nou mee moet sit. Misdaad sonder keer. Dus is dit niks minder as regverdig dat hulle help dra aan die las waaronder hulle ons geplaas het nie.

Ek dink dat selfs Amerika ook ‘n deel van die skuldlas behoort te dra, net vir hulle histeriese geraas oor ons kwansuis so onderdrukkend was. Maar veral omdat hulle ook van ons grootste kritici is wat betref die stygende misdaadsyfers. Terwyl hulle met geen werkende oplossings vir ons probleem na vore kan kom nie. En dit van ‘n land wat in ‘n paar van die deelstate self nog die doodstraf toepas.

Ek besef dat wat ek hierbo noem verbeeldingsvlugte is, maar dat daar wel meriete aan is kan nie ontken word nie. Wel, tot ons iets beters as die huidige sisteem het kan ons maar net hoop dat dinge êrens vorentoe sal verbeter.

на тетивахОлександр Фільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.