Business Day-resensent loof Boerehaatboek oor ABO

Deel op

‘n Resensent in die Business Day wat deesdae al hoe meer anti-Afrikaans raak, het gister die nuwe boek deur Chris Ash, Kruger, kommandos & kak opgehemel vir die “nuwe perspektief” wat dit op ‘n “gemitologiseerde oorlog” bied.

NUUT!

Volgens Maarten Mittner, die resensent, “sal Steve Hofmeyr nie van die boek hou nie”, weens die pro-Britse standpunte daarin. Oor Rhodes sê Mittner:

krugerkommandos“Anders as die skurk waarvoor hy so dikwels voorgehou word, beskryf Ash Rhodes as veel meer van ‘n taktikus en subtiele strateeg as ‘n grondgryper, in weerwil van sir Leander Starr Jameson se ongelukkige inval in die Transvaal in 1896. Ash se siening, dat Rhodes en die mynmagnate nie die oorlog wou gehad het nie, het sekere akademici ontstel.”

Ash pak die skuld vir die oorlog op Paul Kruger en die “aggressiewe” Transvaal. Kennelik het hy niks gelees van Jan Smuts en Paul Kruger se verbete pogings in die tent by Bloemfontein in 1899 om Milner te oorreed om nie met sy oorlogsplanne voort te gaan nie. Selfs Smuts, wat later so anglofiel geraak het, het vermeld dat daar geen salf aan Milner te smeer was nie en dat hy die oorlog wóú ontketen, kom wat wil.

Die Afrikaanse historikus, Fransjohan Pretorius, het vroeër vandeesweek in sy resensie bevind dat, as gevolg van die vele mistastinge en gebreke in die boek “daar een waar woord in die titel” is. Pretorius skryf:

Die skrywer, ’n Skot, het hierdie boek geskryf omdat hy ’n weersin het in dronk, onkundige Afrikaners wat in kroeë aan hom vertel “hoe die Boere die Britte opgefoeter het en Boerevroue en -kinders in die konsentrasiekampe vermoor is”.

Dit is ’n alternatiewe geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog om sake reg te stel. Soos die subtitel dui: “Debunking the Myths of the Boer War”. Dat hy in die proses ’n spektakel van homself maak, gaan hom heeltemal verby.

Die historiese metode vereis dat die historikus sy bronne krities benader. Wat wou! Ash aanvaar kritiekloos Britse jingo-bronne voor 1902, soos Creswicke, H.W. Wilson en Rider Haggard, vir sy siening van die Boere, maar hy is skokkend beledigend teenoor gerespekteerde historici soos Rodney ­Davenport, Leopold Scholtz, Iain Smith, Bill Nasson en Thomas ­Pakenham.

Daar is 15 hoofstukke oor die verloop van die oorlog, die verskroeideaardebeleid, konsentrasiekampe, Boeregeneraals, die “superhuman”- Boer en swart betrokkenheid.

Sy vooroordeel en onvermoë om die kompleksiteit in die geskiedenis raak te sien, maak dat hy ’n prentjie skets van bose Boere en brawe Britte. President Paul Kruger het met sy “violent conquest” die Anglo-Boereoorlog veroorsaak, terwyl Britse imperialisme ’n welwillende krag was wat slegs gebiede geannekseer het wanneer die swart inwoners Britse beskerming teen die Boere gesoek het.

Die Boere word veroordeel dat hulle die Pedi aangeval het, maar die Britte mag dieselfde doen en bowendien Zoeloe, Griekwa en Basotho se grondgebied annekseer.

Die Britse Intelligensiediens mag sedert 1896 heimlik inligting in die ZAR insamel en ’n geheime verslag saamstel vir militêre doeleindes, maar die spioenasie van die Boere se Geheime Dienst in die Britse kolonies bewys Kruger het uitbreidingsoogmerke gehad. Die Boere het met hul inval in die Kaapkolonie gebiede geannekseer, wat hul uitbreidingsoogmerke bewys, maar dat dieselfde argument uitgemaak kan word vir lord Roberts se anneksasie van die Vrystaat en die ZAR, ontgaan die skrywer.

Hy veroordeel gevalle (en maak asof dit deur historici verswyg word) waar die Boere private eiendom plunder, die wit vlag misbruik en dumdumpatrone gebruik, maar hy swyg oor soortgelyke Britse optrede.

Onkundig is die opmerking dat die Transvalers lank voor die Jameson-inval met ’n bewapening gekom het (en dus bewys dat Kruger die oorlog veroorsaak het). Na regte het die ZAR-regering ná die Jameson-inval ontdek dat 41% van sy burgers geen gewere besit nie, die res was verouderd. Tóé eers het die ZAR-regering sy burgers op groot skaal begin bewapen.

Ook sy hantering van die konsentrasiekampe is deurspek met feitefoute, vooroordeel en onkritiese gebruik van bronne. Voorspelbaar vereenselwig hy hom met Elizabeth van Heyningen se geloof in die Britse Blouboeke (gepubliseerde regeringsdokumente) en haar standpunte oor die konsentrasiekampe (“die meerderheid inwoners was bywoners”). Ash se versuim om S.B. Spies se Methods of Barbarism? te raadpleeg, maak sy aannames verdag. Skouerophalend verklaar hy: “To this day people die of natural causes in hospitals.” Hy begryp nie dat die sterftes in die eerste plek voorgekom het vanweë die gebrekkige administrasie van die Britse leërleiding nie. Emily Hobhouse se rol om die bestaan van die kampe en die haglike toestande in Brittanje te openbaar, en só die weg tot die aanstelling van die Dameskomitee en die gevolglike verbetering van die kampadministrasie te open, is ook vir hom geen begrip nie.

Ash se argument dat Britse soldate eweseer aan siekte gesterf het as die inwoners van die konsentrasiekampe, hou nie steek nie – feit is dat 14 000 uit 450 000 Britse soldate aan siekte oorlede is, teenoor 28 000 sterftes uit 110 000 inwoners in die wit konsentrasiekampe. Hy beweer die wit kampinwoners se rantsoene was beter as dié van die Britse soldate – maar kampinwoners het ná verhoogde rantsoene in Maart 1901 elk ’n half pond (dikwels oneetbare) vleis per dag gekry, teenoor die Britse soldaat se twee pond vleis.

Die Boere se “moenie” en die Britte se “mag maar” duur voort: Boere-simpatiseerders soos Olive Schreiner is verblind deur hul irrasionele haat vir die Britse ryk, maar die Britse jingo’s se haat en minagting vir die Boere is volkome in orde. Boere wat die wapen aan Britse kant opneem, is verstandig, maar Britte wat die Boerekant ondersteun, is “treacherous and ­loathsome renegades and extremists”. Tereg wys Ash daarop dat Boeregeneraals soos Cronjé, Snyman en Erasmus power was, maar hy weerhou kritiek op ewe-vrotsige Britse generaals, soos Buller aan die Natalse front, ­Clements en Colvile (wat hy ophemel en wie se van hy verkeerd spel).

Sonder bewyse (en verkeerdelik) voer hy aan dat die meeste bittereinder-Boere die armste en mees ongeskoolde burgers was, “essentially White Trash”. Baie van hulle was “a less pleasant bunch” en “common criminals”, en hul aktiwiteite “pure banditry”. En die Boere se guerrilla-optrede? “As long as they stayed hidden and managed to shoot a po­liceman, murder some Africans or blow up a railway line now and again, the conflict dragged on.”

Met die herskrywing van die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat tans onder die ANC-bewind aan die gang is, moet nie net Joe Slovo en sy Kommunisteparty, of ANC-Winnie Mandela en haar halssnoerbendes nie, maar ook Rhodes, Milner, Roberts en Kitchener, as helde uit die stryd tree.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.