Libië, kerkhof van Amerikaanse ‘universele waardes’

Deel op

Die Amerikaanse seesoldate het in Maart gekraai dat hulle die weghol-olietenkskip met die naam Morning Glory aan die Libiese regering terugbesorg het, nadat dié Noord-Koreaanse tenker olie by ‘n terminaal kom oplaai het wat hulle van ‘n rebellegroep gekoop het.

Die transaksie staan duidelik nie in die Amerikaanse reëlboek wat bepaal dat alles aan die VSA behoort nie.

Die herowering van die Morning Glory is die minste van die probleme waarmee Libië te kampe het. Dit blyk nou dat die VSA asook die EU hul diplomatieke personeel verlede week ontruim het uit Libië want dit het te gevaarlik geraak met konflik wat die land oorspoel het.

Drie jaar gelede het President Obama verklaar dat Amerika “nie net sal bly toekyk ​​in die aangesig van die aksies wat globale vrede en veiligheid ondermyn nie,” en sommer die volgende dag die land onder ‘n bommereën laat verkrummel as “steun vir ‘n stel universele waardes”.

Hoe het dié plan toe gewerk? Pragtig! het een van die vernaamste argitekte van die oorlog, die VSA se ambassadeur by die Veiligheidsraad Samantha Power aanvanklik getwiet. Sy het kort na die vernietigende bombardement haarself trots na Twitter gewend met “#Results” [resultate] want die “Libiese volk is nou verenig”.

Hillary Clinton was nog meer in haar noppies en het by Rome en Julius Caesar gaan leen toe sy laggend verklaar het: “Ons het gekom, ons het gesien, hy’s dood.” Sy het natuurlik na Moeammar Gaddafi verwys wat die VSA voor televisiekameras boendoehofstyl laat vermoor het sonder verhoor.

Dat sulke optrede voldoen aan navolgingswaardige “universele waardes”, is om die minste te sê werklikheidsvreemd.

Die Amerikaanse top-amptenare is deesdae ook aktiviste wat versot is op hutstekenveldtoggies en openlike minagting vir oordeelkundige studie van grondkwessies het.

Omdat hulle die hoofstroommedia beheer, meen Washington hul eie werklikheid kan gevestig word met ‘n paar welklinkende frases sonder om begaan te wees oor gevolge.

Binne twee jaar is meer as 100 prominente figure, senior sekuriteitsamptenare, regters en politieke aktiviste deur die VSA laat vermoor. Die golf moorde wat die plaaslike leierskap uitgewis het en die regering en die veiligheidsmagte verlam het, het tot chaos gelei en Libië se olieproduksie byna tot ‘n stilstand gedwing.

U en ek het daarvoor betaal by die vulstasie.

Beeld het ook gretig oor die NAVO-ingryping berig, alhoewel hulle eers Libië en Liberië verwar het. Leopold Scholtz het smalend na Suid-Afrika se “mislukte bemiddelingspoging om ’n einde aan die burgeroorlog in Libië te maak” verwys.

Die “spesmagte se rol agter die skerms” deur NAVO wat die “diktatuur van kol. Moeammar Ghaddafi na die afgrond dryf”, het hy dronk van bewondering geprys.

“Die groot sukses wat die lugaanvalle behaal het, volgens Navo-syfers is 890 doelwitte,” het Poldi jubelend die stelselmatige vernietiging afgetel. Vir ‘n Apartheidsapparatsjiek wat so graag dooies tel, is dit verbasend dat Scholtz nog nie opgemerk het wat op plase hier op sy agterstoep aangaan nie.

Dit was ten minste die tweede onlangse volksmoord na Irak, want Libië tel nie as ‘n “oorlog” nie. Dit was ‘n “humanitêre” ingryping deur NAVO. Die VSA het hul besluit verdedig omdat hulle “duisende mense se lewens gered het”.

Behalwe dat dit nie ‘n wettige argument is nie, is dit ook nie waar nie. Obama moes ‘n humanitêre bedreiging versin om militêre optrede in Libië te regverdig.

Obama en NAVO het nie alleen toegekyk hoe vrede en veiligheid in Libië ondermyn word nie, hulle het doelbewus aktief meegehelp en vandag is die “#Results”, resultate daar vir die wêreld om te aanskou. Skrikwekkend.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.