Tim du Plessis en Naspers as teenaanwyser

Deel op

In Suid-Afrika is daar baie mense wat die heel tyd in die kristalbal kyk en die toekoms probeer voorspel. ‘n Mens sou kon sê dat politieke waarsêery omtrent die hooftydverdryf van joernaliste en meningsvormers is.

In vandag se Rapport kyk Tim du Plessis weer in die kristalbal en sien dat Suid-Afrika bestem is om “na die sentrum te verskuif”. Seg hy:

“Politici wat hul storie ken, weet die beste plek van waar jy regeer, is die sentrum. Jy kan van enige punt in die spektrum verkies word, maar as jy aan die bewind wil bly, is die sentrum die plek vir jou.”

roodt_fbfotoDaarna noem hy enkele internasionale voorbeelde op van politici wat van verlinks of dalk meer regs na die sentrum beweeg het, soos byvoorbeeld die Brasiliër Lula de Silva, asook Margaret Thatcher en Ronald Reagan. (Hy vergeet egter van Thatcher se beroemde opmerking: “Die middel van die pad is waar jy omgery word.”)

Dan haal hy sy en Naspers se groot held op: FW de Klerk! Iewers doen ‘n pamflet wat FW de Klerk in die laat sewentigerjare uitgereik het en waarin hy die Progressiewe Party se beleid kritiseer, steeds die rondte. Volgens Du Plessis het De Klerk egter “die sentrum verskuif toe hy die 1992-referendum oor die nuwe bedeling uitgeroep het. Met ’n meerderheid van twee derdes het hy die regses, wat hom tot in Februarie 1992 nog ernstig bedreig het, geneutraliseer, so veel dat hulle tot vandag toe geen faktor meer is nie.”

De Klerk het nie die sentrum verskuif nie. Sy intellektuele en politieke swakheid het veroorsaak dat hy eenvoudig aan die druk van die buiteland en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty toegegee het en uiteindelik is hy heeltemal uit die politiek geboender.

Dis ook nie waar dat “die regses” – waaronder Du Plessis waarskynlik enigiemand verstaan wat nie die huidige Amerikaanse, antiblanke multikul-ideologie onderskryf nie – “geen faktor meer is nie”.

Trouens, die SA blankes was nog nooit so regs as juis nóú nie! Selfs Cyril Ramaphosa wil graag met Afrikaners praat omdat dit hom kwel dat “versoening” besig is om skipbreuk te lei. Dit was maklik om die lede van die sogenaamde Boeremag op te sluit, maar dis nie so maklik om drie miljoen Afrikaners en seker nog ‘n miljoen Engelse hier en in die buiteland stil te kry nie. Hoewel die meeste van hulle vir die liberale DA stem, verskil hul eie sienings en dié van die DA omtrent honderd-en-tagtig grade van mekaar. Op die sosiale media en selfs die kommentaarafdelings van Nasperskoerante gons dit van ontevredenheid. Selfs Piet Kopdoek, wat niemand ernstig opneem nie, het op ‘n keer gesê dat “daar meer regse Afrikaners as linkse swartes is”. Op die internet en sosiale media, lyk dit regtig só!

In die ou dae is daar spottend oor liberale Engelse en Jode gesê: “Praat Prog, stem VP en dank God dat die Nasionale Party regeer.” Deesdae het ons die omgekeerde: mense praat ANC en onderwerping aan die bestel, maar stem DA en vóél regs, selfs verregs. Noem dit kognitiewe dissonansie. Trouens, ek skrik as ek jong blankes – Afrikaans én Engels – hoor praat. Die sogenaamde K-woord is omtrent die ligste van die terme wat hulle gebruik. Gegoede mense in Pretoria-Oos is gou om na genetika te gryp om die toestand in die land te verklaar. Hulle sê dinge wat Hitler of die Amerikaanse rasseskrywers uit die 1920s sal laat bloos. Ek het ‘n teorie dat apartheid ons liberaal gemaak het, want dit het ons teen die naakte werklikheid van Afrika-geweld, -hegbsug en -onbevoegdheid beskerm.

Die internet het ook ‘n omwenteling gebring en alles wat verbode is, van pornografie tot die bevraagtekening van die Jodeslagting tydens die tweede wêreldoorlog, is vrylik beskikbaar. Die beheer wat die hoofstroommedia soos Naspers of die SAUK in ons land uitgeoefen het, is daarmee heen. Pandora se doos is geopen, sodat inligting en menings vrylik sirkuleer.

Omdat die meeste joernaliste in die hoofstroommedia links is, word die “sentrum” as iewers tussen kommunisme en ultraliberalisme gedefinieer. Regoor die wêreld voel die gewone publiek egter anders en oral is plaaslike of streeksnasionalismes aan’t opbloei.

Die Nasperskoerante se toekomswiggelary het nog altyd verkeerd geloop. Ongelukkig het dit hulle nie verhoed om geld te maak nie, want daar is nie eintlik ‘n alternatief nie en DSTV is hul groot geldmaker, tesame met die Hong Kong-aandele in Tencent. Net soos ‘n ryk man oor die politiek verkeerd kan wees, skiet Naspers konstant mis. Hul eie lesers kan dit insien en op Beeld se kommentaarblaaie vaar lesers openlik teen die linkse redakteur, Adriaan Basson, uit.

Nog voordat Zuma leier van die ANC in Desember 2007 geword het, het ek en Tim du Plessis eenkeer koffie gedrink in Melville. Toe ek vir hom sê Zuma gaan waarskynlik leier van die ANC en president word, het hy dit as vergesog bestempel. Kom ons gaan egter verder terug: toe Jaap Marais en ander in die tagtigerjare voorspel het dat die Kommunisteparty in die toekoms die land gaan regeer, het Naspers dit as “bog” afgemaak en ons verseker dat “die NP nooit tot so ‘n stap sal oorgaan nie”.

Toe die Nuwe Nasionale Party van Marthinus van Schalkwyk gestig is, het die Naspersmedia ons verseker dat daar nou ‘n “groot koalisie” gaan wees met samewerkende opposisie en dat die meeste blankes daarvoor gaan stem. Toe stem hulle in 1999 vir Tony Leon se “veg terug”-veldtog en die NNP verdwyn van die toneel af. Darem had Kortbroek tot onlangs nog ‘n joppie as minister van toerisme.

Uit die geskiedenis van Naspers se optimistiese voorspellings, kan ons sien dat geen daarvan bewaarheid is nie. Uiteindelik berus politieke ontleding nie op die kristalbal nie, maar op begrip van die faktore en kragte wat die uitkoms bepaal.

Henry Kissinger het reeds in 1978 voorspel dat die land “in 1995 aan die ANC oorhandig sou word”, weens die onbekwaamheid van sekere NP-ministers soos Dawie de Villiers, die rugbyspeler. Rugby was nog altyd ons ondergang. Rugbyspelers word hoofseuns en selfs leiers, want hulle is mos gewild. Dat Kissinger met een jaar van die merk af was, kan ons hom seker nie verkwalik nie. Hy was reg en die hele Naspers was honderdpersent verkeerd.

Die eerste ding wat ‘n mens oor multikulturele of multi-etniese samelewings lees, is dat hulle gewoonlik na die uiterstes toe polariseer. Ons sien dit in die Midde-Ooste waar die Likoedparty in Israel en Hamas in die Gasastrook tans met ‘n vernietigende oorlog besig is. Hamas verloor militêr, maar hy wen die propagandastryd, net soos die NP-regering militêr gewen het maar polities verloor het. Bygesê: ek glo nie dat Israel ooit ‘n FW gaan oplewer wat sommer holderstebolder aan Hamas sal oorgee nie. Lank daarvoor sal die Mossad of een of ander Joodse kidon hom vir seker gaan “uithaal”.

Naspers het ‘n probleem met die EFF wat nie mooi inpas in die prentjie van veelrassige harmonie wat hulle soos in die SABMiller-bieradvertensies verbete aan ons voorhou nie. Interessant is dat die EFF ook nou anti-Joods en anti-Israel begin raak. Malema het gister ‘n oproep gedoen dat mense Woolworths moet boikot omdat dit blykbaar produkte vanuit Israel invoer. Maar almal weet ook dat Woolworths oor ‘n Joodse bestuur beskik, dus sal die Moslems wat deesdae in Suid-Afrika teen Israel betoog, duidelik verstaan wat hier aan die gang is. Malema het ook beweer dat die DA “geld uit Israel kry”, waarmee hy die vinger na die party se Joodse donateurs en topbestuur wys. Duidelik skaar Malema hom aan die kant van die Palestyne en die Moslems, téén Israel en die Jode.

Wat Tim du Plessis en sy base by Naspers verseg om in te sien, is dat daar geen sentrum in Suid-Afrika bestaan nie, omdat daar geen middelgrond tussen die kulture of die belange is nie. ‘n Tyd lank het die hoofstroommedia die mite geskep dat daar ‘n “konsensus” in ons land bestaan oor die geskiedenis, oor Mandela en hoe sleg apartheid was. Die gefabriseerde mite van die ANC se heldhaftige “vryheidstryd” onder aanvoering van Sint Mandela, was die setel van ons gemeenskaplike nasionale identiteit. Ook die DA lê hom natuurlik by dié mite neer. Weg is die koue oorlog, of die Kerkstraatbom, die bomme in die Wimpy’s, tesame met Winnie se halssnoermoorde en die openlike Boerehaat en oproepe tot volksmoord waaraan die ANC en SAKP hul skuldig gemaak het.

Die Afrikaner – volgens Naspers is alle Afrikanermans wat met blanke vroue trou “regs” – is besig om stadigaan uit sy winterslaap te ontwaak. Daarom begin ons weer Die Stem uit volle bors sing, op Afrikaanse universiteite aandring en vind ons geweldsmisdaad aanstootlik. Natuurlik het Naspers al keer op keer die dood van die Afrikaner voorspel. Vanuit hul hoofkantoor te Heerengracht 40, Kaapstad, het Naspers reeds keer op keer die einde van die Afrikaner in die kristalbal gesien, met Karen Zoid se Engfrikaanse musiek iewers in die agtergrond. Hulle het selfs ‘n nuwe term uitgedink om ‘n amorfe nuwe multikul-nasie te beskryf wat in hul etniese laboratorium ontspring het: die “Afrikaanses”.

Dis natuurlik ‘n foutiewe term, want ‘n “Afrikaanse” is bloot ‘n vroulike Afrikaner, net soos ‘n mens praat van “student” en “studente” of “joernalis” en “joernaliste”. Hulle moes dit eerder “Engfrikaanses” genoem het, want diegene wat tot hul nuwe stam behoort, kan gewoonlik nie Afrikaans sonder Engelse woorde besig nie en is vrot van Anglo-Amerikaanse dogma. Die Afrikaner, daareenteen, se band met Europa en die volkere waaruit ons ontstaan het en honderd jaar gelede sy aan sy met ons geveg het, is onvernietigbaar. As die Afrikaner enigiets is, is hy nie-Engels. Daar is ‘n paar van ons wat so sterk Afrikaner is, ons is Eurokaners, begeester met eeue se denke, wetenskap, filosofie, kuns en letterkunde wat deur ons ou-nuwe taal gedra word. Selfs Engeland is vir ons te primitief, wat nog te sê die half-Engelse bevolking in dié land wat vanuit die bieradvertensies vir ons hul identiteit uitgrinnik.

As iemand altyd verkeerd is, kan jy hom as ‘n teenaanwyser gebruik. Dis die geval met Tim du Plessis en die meeste van Naspers se meningsprekers. Wanneer hulle iets voorspel, gaan die teenoorgestelde gebeur.

Die proses van polarisering na die uiterstes toe is reeds in Suid-Afrika aan die gang. Oorlede Z.B. du Toit het in sy boek Die nuwe toekoms voorspel dat twee sterk swart partye in Suid-Afrika slegte nuus vir blankes gaan wees, omdat hulle mekaar onderling tot radikalisme gaan aanhits en gaan oorbie in antiblanke beleid. Dis sienderoë besig om tussen die Ekonomiese Vryheidsvegters en die ANC te gebeur.

Ons kan dus verwag dat Suid-Afrika die pad van ‘n Zimbabwe gaan stap, met al hoe meer radikale maatreëls teen blankes, waaronder veral die konfiskering van blanke bates. Volskaalse volksmoord is nie uitgesluit nie, want die dekades lange haatveldtog wat daar in Suid-Afrika se hoofstroommedia teen die Afrikaner gevoer is, het ‘n vlak van etniese spanning in die land geskep wat moeilik ontlont gaan word. Naspers se Engelse koerant, City Press, verkeer op die voorpunt van die Boerehaatveldtog en as die EFF-vegters uiteindelik in die voorstede met R4’s op ons gaan losbrand, gaan dit óók Naspers se skuld wees.

Soos Mao gesê het: “‘n Revolusie is geen teeparty nie.” Daardie politieke analfabeet, FW de Klerk, het nooit Mao Zedong gelees nie. Daarom gaan ons aanstons die ekstremisme van egte kommunistiese regering ervaar.

Suid-Afrika kan nie anders as om al hoe verder links en antiblank te raak nie. Tim du Plessis se beskamende hoop op die teenoorgestelde, bevestig dit. Ongelukkig.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.