Nog nabetragting oor Russel Botman

Deel op

Ter huldiging van Russel Botman is ‘n byeenkoms vir die universiteitsgemeenskap (2 deser) en een vir die publiek (5 deser) op die kampus gehou. Vir diegene wat met vakansie weg was, is daar ‘n verdere byeenkoms op 22 deser op die kampus gehou. In Belhar, die gebied waar Botman voorheen gewoon het, was daar op 3 deser ook ‘n huldigingsgeleentheid. Van geen vorige rektor van die Universiteit Stellenbosch (US) is daar op hierdie skaal afskeid geneem nie, klaarblyklik omdat al die voriges wit was en ook omdat nie een van hulle so polities aktivisties en militant soos Botman was nie.

Voorheen het ek hoofsaaklik reaksies tot 1 deser (Praag 13 deser) en enkele aspekte rakende die toekoms van die US (Praag 20 deser) bespreek. Die genoemde vier byeenkomste het hulle egter by uitstek geleen vir uitlatings wat ter afsluiting krities beoordeel behoort te word.

Tydens die byeenkoms op die 2de het ‘n bruin US-personeellid van Botman gesê: “Die beste manier waarop hy vereer kan word, is om die werk wat hy gedoen het om transformasie en inklusiwiteit te bevorder, voort te sit” (Die Burger, 3 deser, p 5). Dit weerspieël eintlik die aard van die meeste van die uitlatings; dus dat die klem eerder op Botman se politiek as op sy akademiese bydrae geplaas is. Vir ‘n rektor is dit sekerlik nie ‘n sterk of eerbare aanbeveling nie.

Soos verwag kon word, is die Belhar-byeenkoms (Die Burger, 4 deser, p 4) oorheers deur verwysings na die Belhar-belydenis, wat deur Botman internasionaal uitgedra is, bv tot in die Wêreldraad van Kerke. Die vader van hierdie teks, Jaap Durand, is een van dié wat die woord gevoer het. By Durand het die idee van dié belydenis ontstaan, terwyl Dirkie Smit die moeder van hierdie teks genoem kan word omdat hy die outeur van die aanvanklike formulering is. Blykbaar word Smit hiervoor vergoed deurdat hy steeds toegelaat word om elke Saterdag Die Burger se hoofartikel te skryf. Durand en Smit het saam ‘n hele geslag UWK-bevrydingsteoloë se gedagtes met verwysing na bv die aktivistiese skoorsoeker* Dietrich Bonhoeffer (1906-1945) vergiftig**. Dosente wat deur die “apartheidsregime” betaal is, het dus hulle studente tot opstand teen die staatsgesag aangehits. By hierdie samekoms was daar egter net lof vir Botman en die Belhar-belydenis en geen teken van die groot onmin wat dié belydenisgeskrif in die NG Kerk gesaai het nie. [*Lees bv Eric Metaxas se boek, Bonhoeffer (Nashville: Thomas Nelson, 2010, 608p). ** Byvoorbeeld, Nico Koopman verwys na die drie maniere waarop “onreg” volgens Bonhoeffer bestry moet word (Die Burger, 16 deser, p 11).]

Llewellyn MacMaster, die projekleier van die US se Sentrum vir Inklusiwiteit, wat die onlangse herrie oor Botman laat losbars het, was een van die sprekers in Belhar. ‘n Ander spreker, Peter Grove, het gesê: “Russel en sy generasie … moes in ‘n rassistiese orde in Suid-Afrika veg vir ‘n meer inklusiewe samelewing.” Durand het beweer sy student Botman “was die inspirasie vir die Belydenis van Belhar.” (Dit is heel moontlik ‘n oordrywing wat deur die geleentheid veroorsaak is.) Dit toon myns insiens tog in watter mate Botman van jongs af ‘n militante politieke aktivis was. Dit dui terselfdertyd op Botman se onvermoë om self dié belydenisteks te formuleer. In die Suid-Afrikaanse geskiedenis is dit nie ongewoon dat misleide wittes rigting en momentum aan nie-wittes se politieke aggressie gee nie. Dit was ook die geval met bv die ANC se vryheidsmanifes wat deur Rusty Bernstein geskryf is.

Edna van Harte het gesê: “Russel en die tokkelokke van die 1970s was lekker woelig as studente en aktiviste gewees.” Daardie “lekker woelig” het die afbrand van twee van die UWK se geboue ingesluit. Let op wat die ANC-politikus Lynne Brown hiervan sê: “Russel was reeds ‘n besonderse studenteleier by die UWK en dit het hom voorberei vir sy plek in die geskiedenis om die rektor van die US te word.” Enige mens met ‘n sin vir die akademie en beskawing kan maar net hoop dat dit nooit weer gebeur dat misdadige gedrag beskou word as geskikte voorbereiding vir die amp van rektor nie. Veral die US kan nie ‘n herhaling hiervan bekostig nie. Maar ek besef dat ‘n eienaardige waardestelsel in die nuwe Suid-Afrika gevestig is waarvolgens misdaad nie as ‘n diskwalifikasie vir selfs die hoogste pos beskou word nie. Maar dan is daar tog mense wat bly wonder waarom Suid-Afrika die misdaadmekka by uitnemendheid geword het.

Op 5 deser (p 13) het Die Burger berig dat politici soos FW de Klerk en Thabo Mbeki daardie dag die openbare begrafnisdiens sou bywoon. Op dieselfde bladsy is daar ‘n advertensie van die Universiteit Pretoria, sowel as een van die Universiteit Vrystaat, waarin Botman gehuldig word. Sulke advertensies is ongewoon en sou waarskynlik nie uit daardie twee oorde vir ‘n blanke rektor gekom het as hy ‘n deurwinterde en nie-aktivistiese akademikus was nie. Albei die genoemde universiteite het ‘n bruin rektor. Hierdie advertensies is myns insiens sowel etnies as polities geïnspireer.

Dit bring my by wat tydens daardie openbare begrafnisdiens gebeur het. Op die US-webwerf word Botman as ‘n “aktivis, vredemaker, teoloog, akademikus en denkleier” beskryf, dus eerder in politieke as akademiese terme. Sy publikasies handel oor “menseregte, versoening, menswaardigheid, maatskaplike geregtigheid en die Belydenis van Belhar,” dus weereens sterk polities gekleur. Die begrafnisdiens was hoogs multikultureel met min Afrikaans en die slippedraers was doelbewus inklusief, dus ‘n voorbeeldige mengsel van etnisiteite en geslagte. Die gepubliseerde huldeblyke is hoofsaaklik in Engels, insluitende dié van Nico Koopman, terwyl Johann Rupert s’n in Afrikaans is. Dié van Botman se kinders en sy broers en susters is almal in Engels, sodat daar geen twyfel kan wees oor Botman se taalvoorkeur nie. [Lees gerus die teks van Botman se Johan Combrink-gedenklesing om ‘n idee te vorm van die enorme kloof wat daar tussen Botman en Afrikaans en Afrikaners bestaan het (LitNet 29.06.2007).]

Die eerste vier koerantberigte oor die openbare begrafnis het op 6 deser in Rapport verskyn. Botman se skoonsuster het gesê “die boosheid is besig om die lig rondom hom te verdonker” (p 2). Daardie bose elemente is blykbaar wittes wat Botman se sug na transformasie en inklusiwiteit teengestaan het. Jonathan Jansen het lustig hierop voortborduur: “Russel het nie op sy self [eintlik: eie] doodgeval nie,” blykbaar bedoelende dat daardie slegte wittes vir Botman se dood verantwoordelik gehou kan word. “Jy [kan] nie ‘n wit gedomineerde universiteit 20 jaar na apartheid … hê nie … Die US sal moet besluit of hy wil bou op die nalatenskap van Botman en of hy wil bly in die verlede.” Jansen verwys dus goedkeurend na Botman se verswarting en verengelsing van die US (dieselfde gebeur onder Jansen se leiding aan die Universiteit Vrystaat). Hy opper egter geen beswaar teen die talle swart gedomineerde universiteite nie. Jansen “het ook gesê die US moet sy raadslede tug wat ‘uit die raad’ praat.” Dit verwys klaarblyklik na die US-raadslede wat die moed van hulle oortuiging het om Botman se inklusiwiteitsleer en ANC-verideologisering aan die US teen te staan.

Jansen is lid van die bruin mafia wat in die jare sewentig aan die UWK studeer het. Voor die 1990/1994-dwaasheid was bruin rektorskap ‘n rare verskynsel. Soos Botman dink Jansen heeltemal verkeerdelik dat ‘n rektor sy eie ideologiese bagasie sonder weerstand aan die hele universiteitsgemeenskap mag opdring. Die man besef nie dat ‘n universiteit veronderstel is om die vrye uitruiling van alle idees toe te laat en ‘n rektor daarom ideologies neutraal behoort te wees nie. Soos Botman wil Jansen sy amp klaarblyklik maksimaal ter bevordering van ANC-ideologie misbruik. Geen wonder dat Chris (Boetman) Louw vir Jansen na sy intreerede as rektor ‘n wolf in skaapsklere genoem het nie.

Jansen het in 2005 beweer “dat die aandrang op Afrikaans ‘n verbloemde manier van Afrikaners is om oor die verlies aan mag en invloed te betoog.” Hermann Giliomee het hierop geantwoord: “Die taalkwessie gaan nie oor mag soos Jansen dink nie, maar oor regverdigheid” (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, 2013, p 115). By Botman se diensaanvaarding as rektor in 2007 het Jansen aan hom ongevraagde raad gegee deur te beklemtoon “dat Botman aan niewittes ‘n groter aandeel aan die Universiteit moet gee en nie aan taal nie” (p 157). Hieruit spreek Jansen se anti-Afrikaanse en anti-Afrikaner-sentiment myns insiens baie duidelik. [Maar Jansen het selfs verder gegaan. Kyk Jacob Rooi se artikel hieronder.] Jansen se onbegrip van wat rektorskap behels, het vroeër vanjaar weer eens geblyk toe Jansen eerstejaarstudente in Bloemfontein toegespreek het en aan hulle opdrag gegee het om nie-rassisties en nie-seksisties te wees en dat enigeen mag bid en liefhê soos hy wil (Die Burger, 20 Januarie, p 13). Myns insiens is dit studente se goeie reg om teen bv homoseksualiteit gekant te wees.

Die tweede berig op die 6de is dié deur die redakteur, Waldimar Pelser (Rapport Weekliks, p 6). Hy noem dat hy een van diegene is wat meen “dat Afrikaans ‘n stewige vasstrapplek op ‘n kampus of twee moet hê.” Dit is myns insiens ‘n te wankelmoedige standpunt. Die vastrapplek wat Afrikaans moet hê, moet dié van enigste onderrigtaal wees. Afrikaans moet dus nie onderrigtaalstatus met Engels deel nie, want dan verloor Afrikaans sy vastrapplek eerstens in die praktyk en tweedens moontlik heeltemal op die lange duur. Verder moet Afrikaans as enigste onderrigtaal nie net op “‘n kampus of twee” aangetref word nie, maar op minstens twee kampusse of, soos voorheen, verkieslik aan hele universiteite.

Dit is loutere en vermetele twak dat al die kampusse en universiteite wat deur blankes opgebou is deesdae deur verswarting en verengelsing gekenmerk word. Blade Nzimande, die kommunistiese minister van hoër onderwys, het onlangs gesê: “Ek wil beklemtoon dat ons nie langer Afrikaanse, Zoeloe- of Tswana-universiteite het nie” (Die Burger, 23 deser, p 2). Daarmee erken hy dat Jannie Marais se stigtingsvoorwaarde van die US, dat dit ‘n Afrikaanse universiteit moet wees, reeds verkrag is. Let ook daarop dat Nzimande Afrikaans eerste noem, omdat die vernietiging van Afrikaans as onderrigtaal vir hom ‘n prioriteit is. Kontrasteer dit met RW Johnson se bevinding in sy boek, The African University? (Cape Town: Tafelberg, 2012), dat Nzimande aktiewe ondersteuning verleen aan pogings om die Universiteit KwaZulu-Natal te verzoeloe.

Pelser skryf darem: “Hoe kan ons bekostig om daarna te streef dat alle kampusse presies dieselfde moet lyk en klink? Dit is tog nie diversiteit nie?” Die punt is dat Botman en diesulke lippediens aan diversiteit bewys, maar in werklikheid inklusiwiteit as hefboom misbruik om bv kultuur- (insluitende taal-) verskille te ontken en dan sodanige werklike verskille onder die vaandel van eenheid en nasiebou sover moontlik probeer uitwis.

Jacob Rooi is die “bruin stem” by Rapport. Johann Maarman vervul ‘n soortgelyke funksie by Die Burger. Al is Maarman (in sy eie woorde) ‘n “Victor Verster-alumnus” en bekend vir sy verering van UDF/ANC-terreur en sy anti-blanke uitsprake, is hy onlangs tot adjunk-redakteur bevorder. Daarby funksioneer hy as filter vir die menings van lesers wat vir publikasie toegelaat word. Voorheen was ‘n ander bruine, Heindrich Wyngaard, die briewe-redakteur. Op hierdie manier verseker Die Burger dat hoofsaaklik polities korrekte menings en pro-bruin standpunte gepubliseer word.

Rooi het feitlik vanselfsprekend die geleentheid gekry om oor Botman te skryf (Rapport Weekliks, 6 deser, p 23). Die “institusionele kultuur” aan eens wit en Afrikaanse universiteite moet glo verander. Dit moet inklusief word. Dit is immers wat Leon Wessels en kie onlangs ook oor die Potchefstroom-kampus bevind het. Daar moet gesorg word dat almal tuis op getransformeerde kampusse voel. Dit word gedoen deur ‘n proses van gelykverklaring, dus deur werklike, wesenlike verskille te ontken. Die ongemak wat transformasie by diegene wat tradisioneel op die kampus hoort (naamlik die wittes) veroorsaak, word geïgnoreer. Al die maatreëls wat getref word, het as doel om die inkommers, wat verswelgend aan die inrigting opgedring word, te bevoordeel, dikwels (bv wat taal betref) ten koste van die tradisioneles. Wat ook doelbewus misgekyk word, is dat geen druk vir gedwonge transformasie op tradisioneel swart universiteite uitgeoefen word nie.

Rooi haal Dan Kgwadi, die nuwe rektor van die Noordwes-universiteit, aan waarvolgens dit gevaarlik sou wees “om een kultuurgroep op ‘n universiteit te bewaar ‘en dit oorwegend so te probeer hou’.” Kgwadi kyk selektief na hierdie saak. Op Potchefstroom mag een kultuurgroep nie die septer swaai nie, omdat hierdie kampus tradisioneel wit en Afrikaans is. Op ‘n ander kampus, Mafikeng, mag ‘n ander kultuurgroep, wat swart is en Engels as onderrigtaal verkies, egter ongesteurd voortgaan om alles te oorheers.

In sy artikel noem Rooi die US “die intellektuele huis van apartheid.” Ook dat Botman, “die eerste swart US-rektor”, hierdie universiteit getransformeer het “van ‘ons’ plek tot ‘almal se plek’.” Rooi noem dat Afrikaners, myns insiens tereg, aanspraak op eienaarskap van die US maak. Maar daar is klaarblyklik geen simpatie met die pyn wat die Botman-ontheemdingsproses by blankes veroorsaak nie. Rooi se klaarblyklik etnies-gedrewe simpatie lê by Botman. Geen kritiek word uitgespreek teen Botman se suiwer rasgebaseerde ideaal dat die US in sy eeufeesjaar (2018) minstens die helfte nie-wit moet wees nie.

Die teenkanting teen sy planne kon glo tot Botman se dood bygedra het. Jansen se verdagmakery is dus deur minstens Rooi gesluk. Jansen dink dat Botman aan ‘n gebroke hart gesterf het. Jansen: “Wat is die betekenis van Russel se dood? Ons moet die vraag vra, want die rassestryd by voormalige wit universiteite is besig om sy tol te eis.” Volgens Jansen is dit dus nie ‘n kultuur- of taalstryd nie, maar ‘n rassestryd. Oor die uitpluk van hierdie rassekaart behoort Jansen myns insiens sonder ophou opgehel te word. Ons protes moet soortgelyk wees aan Botman en Jansen se volgehoue kritiek op blankes oor apartheid. Jansen oefen ook openlik druk uit vir die aanstelling van ‘n Botman-epigoon as volgende US-rektor: “As Stellenbosch gaan terugval onder nuwe leierskap, terug in die verlede, gaan dit groot probleme in ons land veroorsaak” (Die Burger, 7 deser, p 2). Dit kom neer op ‘n kwalik verbloemde dreigement.

Uitgaande van die veronderstelling dat Jansen oor waardigheid beskik, het die FW de Klerk-stigting by monde van Dave Steward “gesê om ‘regsgesindes’ vir Botman se dood verantwoordelik te hou is ‘onwaardig’ van hom” (Die Burger, 16 deser, p 2). Jansen “het ook onder meer in ‘n rubriek geskryf sommige histories wit universiteite gebruik Afrikaans as alibi om nie te transformeer nie. En hoe meer Botman vir transformasie gedruk het, hoe meer is hy genadeloos deur regse alumni van die US beskinder.” Jansen het gewaarsku dat “kampusse wat hoofsaaklik wit is, in die lig van ons onlangse aaklige rassistiese verlede moreel onaanvaarbaar, demografies onregverdigbaar en opvoedkundig gevaarlik” is. Wat Jansen dus sê, volgens Steward, “is dat al ons universiteite – ongeag hul geskiedenis of geografiese ligging – hoofsaaklik swart moet wees.” Na dese kan daar myns insiens selfs minder twyfel wees oor Jansen se militante anti-Afrikaans-, anti-Afrikaner- en anti-blanke-gesindheid.

Christo van der Rheede is lid van wat ek die bruin mafia van UWK-oudstudente noem. Ek het reeds verwys na sommige van sy uitlatings waarmee hy na Botman se dood vorendag gekom het (Praag 13 deser). Vir Van der Rheede was dit egter nie voldoende nie. Hy is immers ‘n groot aanhanger van Botman en die ANC se inklusiwiteitsleer. Van der Rheede het opsluit ‘n artikel geskryf wat deur Rapport (Weekliks, 6 deser, p 7) gepubliseer is. As ANC-aktivis het Van der Rheede dit teen “worst-case scenarios”, asook teen wat Frans Cronjé onlangs geskryf het, want Van der Rheede het besluit dat ons almal “behoort te verenig om die land na nuwe hoogtes te neem.” “Doemprofete” se “manewales help om koerante te verkoop.” Sommige van hulle “stook … anti-regeringssentimente” en dít mag volgens Van der Rheede nie gebeur nie. Cronjé “demoniseer” glo “die regering van die dag.” Dit lei tot polarisering en “die vervlakking van elke Suid-Afrikaner – wit en swart – se hoër roeping: nasiebou.”

Van der Rheede skryf sonder om hom los te maak van sy amp as uitvoerende hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut. Namens AHi-lede bied hy ‘n blink maar uiters naïewe scenario as teenvoeter vir Cronjé s’n aan.”Bied die toekoms nie dalk baie meer hoop as ons vir ander ook dit gun wat ons onsself gun nie? En dit is die beste?” Dus huisvesting, dienste, ens, sonder dat betaling of ander teenprestasie deur “ons” van “hulle” vereis word. Dit bied glo “‘n stewige grondslag vir sosiale kohesie.” Volgens Van der Rheede se insig funksioneer bv die regstel en “kernstaatsinstellings” in die nuwe Suid-Afrika goed. Munisipaliteite presteer nie so voortreflik nie, gevolglik sy maklike raad dat ander daarby “betrokke” moet raak. “Wit en swart [moet] op plaaslike vlak agter ‘n gedeelde visie vir die dorp … verenig.” Vanselfsprekend erken hy nie dat dit rampspoedig was toe die lokasie beheer oor die dorp verkry het nie. Voorts hou hy van “bemagtigingsaksies” en “vaardigheidsoordragprogramme.” Arm skole moet ook bygestaan word. Sy model is “‘n korporatief waarin swart en wit ‘n gelyke belang het;” dus ooreenkomstig die ANC se wens dat die helfte van blanke plase aan nie-wittes oorgedra moet word.

Waarom dit gaan, is dat wittes, wat welvaart geskep het, minstens die helfte van wat hulle het welwillend en gratis aan nie-wittes moet oordra, terwyl daar nie blyke van ‘n snars waardering, dankbaarheid of erkentlikheid van die kant van Van der Rheede of ander ANC-kamerade is nie. By implikasie erken Van der Rheede die groot gehalteverskil tussen wittes en nie-wittes (veral swartes) by welvaartskepping; iets wat dwarsoor die wêreld aangetref word en dus nie aan die nalatenskap van apartheid toegedig kan word nie. As ANC-aktivis ontken Van der Rheede egter hierdie ooglopende waarheid. Hy blyk ‘n entoesiatiese ondersteuner van die ANC se gelykheidsleer te wees. Ons moet glo “mobiliseer om die kunsmatige grense van etnisiteit en kultuurverskille af te breek.” Die ooglopende groot etniese en kultuurverskille is egter die kernrede waarom ‘n Suid-Afrikaanse nasie onmoontlik werklikheid kan word. Pleks van dit onder oë te sien, verhef Van der Rheede nasiebou tot iedere Suid-Afrikaner se roeping. Dit gaan my verstand te bowe dat Afrikaner-sakelui, wat oor dekades en eeue gearbei het om hulle welvaart te bestendig, tot hulle ooglopende nadeel Van der Rheede aan die stuur van die AHi kan duld.

Die Burger het op die 7de (p 2) oor Botman se openbare begrafnis berig. Conrad Sidego, die bruin DA-burgemeester van Stellenbosch, het opgemerk dat Botman nou in die Onderpapegaaiberg-begraafplaas “in die geselskap van” bv DF Malan lê. Die ironie is dat Malan hom daar duld terwyl Botman nie wou hê dat die US se studentesentrum Malan se naam dra nie. Maar Botman se roudiens is in die DF Malan-gedenksentrum gehou, sodat Botman, voorlopig altans, hierdie veldslag verloor het, al het hy die oorlog vir ‘n swarter en verengelste US in groot mate gewen. (Die veldslag/oorlog-vergelyking kom in Rooi se bogenoemde artikel voor.) Die US se gebou vir lettere en sosiale wetenskappe was voorheen as die BJ Vorster-gebou bekend. Die US se gebou vir rekeningkunde en statistiek het eens as die HF Verwoerd-gebou bekend gestaan. In albei gevalle is die veldslae ooreenkomstig Botman se wense gewen. Daarenteen is anti-Afrikaner-elemente vernoem, bv die sentrum vernoem na Beyers Naudé in die fakulteit teologie en dié vernoem na Desmond Tutu in die mediese fakulteit. ANC-kornuite mag vernoem word, terwyl geboue vernoem na wit eerste ministers glo teen visuele transformasie indruis.

In 2011 het Christo Viljoen vir Pieter Kapp as president van die US-konvokasie opgevolg. In Die Burger van 7 deser (p 8) lewer Viljoen die eienaardige pleidooi dat die US-taalstryd uit die openbare oog gehou moet word. [Die US-raadslid en pro-Afrikaans-stryder, Piet le Roux, het Viljoen tereg direk teengespreek (Die Burger, 12 deser, p 7).] Dié debat moet volgens Viljoen verkieslik net op die kampus plaasvind. Viljoen het dit teen onbesonne uitlatings oor Afrikaans, soos dié van Edwin Hertzog (Praag 20 deser) Anders as Hertzog (kyk bv G Boonstra, Kaap, se brief op dieselfde bladsy) meen Viljoen tereg dat akademiese uitnemendheid vanselfsprekend met Afrikaans as onderrigtaal moontlik is. Vir sy strategie van openbare geheimhouding het Viljoen die ondersteuning van Botman geniet. Dit is myns insiens ‘n gevaarlike adder om te koester.

Openbare steun het die potensiaal om wondere vir Afrikaans te verrig. Kapp se boek, Maties en Afrikaans (2013), verskaf waardevolle, gesaghebbende inligting aan die publiek oor hoe daar bv gekonkel is om Afrikaans aan die US af te skaal, asook oor hoe groot die gaping tussen die amptelike taalbeleid en die toepassing daarvan in die praktyk is (Praag 6 April). Geheimhouding geskied ten koste van die heil van Afrikaans. Baie van die donateurs en ander Afrikaners sou immers nie graag wou hê dat die publiek eers jare na die tyd (toevallig) agterkom dat die US (volkome) verengels het nie.

Ilse Bigalke, daardie aarts-oorverligte maar nogtans sogenaamde “onafhanklike kommentator”, gaan in haar rubriek (Die Burger, 8 deser, p 8) gal af oor Steve Hofmeyr dit durf waag het om Die Stem te sing. Sy assosieer hierdie lied met “‘n bestel wat vir misdade teen die mensdom verantwoordelik was … Want ‘Die Stem’ en die ou vlag is dié simbole van daardie bestel wat onder meer mense vermoor het, ander sonder verhoor aangehou en gemartel het, mense met dwang uit hul eie huise verjaag en gemengde paartjies vervolg het.” Sy noem vanselfsprekend nie dat die ANC, insluitende die ANC-regering, dieselfde doen nie, met dié uitsondering dat deurmekaarboerdery, in die naam van inklusiwiteit, aangemoedig word.

Bigalke sluit haar rubriek soos volg af: “Suid-Afrika het nie aktiviste vir verdere verdeeldheid in ons samelewing nodig nie, maar aktiviste vir versoening, nasiebou en inklusiwiteit. Een van hulle was prof Russel Botman.” Kortom, volgens Bigalke is Hofmeyr ‘n slegte en Botman ‘n goeie aktivis. Dat Botman as rektor “versoening, nasiebou en inklusiwiteit” ten koste van egte akademie nagejaag het, word hom nie toegereken nie.

Jasper Nieuwoudt, Vanrhynsdorp, skryf oor Bigalke se uitlatings: “Al wat jy nou regkry, is om nuwe vuur onder die verdelingspot te stook … Die bestel wat tans regeer, is eweneens aan die allerverskriklikste wandade uit die verlede skuldig, en daar is steeds die ‘kill the Boer’- en ‘gryp die gesteelde grond’-brigade” (Die Burger, 14 deser, p 8). Nieuwoudt se raad aan Bigalke is om nie vloeremoere oor ander se manewales te gooi nie.

Selfs na sy dood en steeds in ‘n akademiese omgewing sou Botman konsekwent in die eerste plek politieke aktivis bly. By die ontvangs van ‘n eredoktorsgraad in Aberdeen, Skotland, sou hy op die 8ste verwys het na die geval Irene Grootboom (1969-2008), wat gesterf het voordat sy ‘n huis van die staat kon ontvang. Die Burger (9 deser, p 4) verwys na Grootboom as “die plakkerskamp-heldin van Wallacedene,” maar versuim, soos Botman, om te noem dat miljoene wit Suid-Afrikaners ook gesterf het sonder om ‘n gratis huis te ontvang. Botman se volledige teks is op die US-webwerf gepubliseer, asook in Die Burger (By, 12 deser, p 3).

Op die 21ste het die US-raad vergader (US-webwerf 23 deser). Die meerderheid raadslede kon blykbaar nog nie vrede maak met Die Burger se voorbladsyberig van 23 Junie waarin die moontlikheid van ‘n mosie van wantroue in Botman genoem is nie. Daar word geweeklaag oor die skade wat die US se beeld gely het en dat Botman se nalatenskap aangetas is. Raadslede wat na bewering die gedragskode oortree het deur hulle anti-Botman-gesindheid openbaar te maak, word afgedreig of ten minste geïntimideer; blykbaar om hulle vroegtydig met die oog op die aanstelling van die volgengde rektor te probeer neutraliseer. Die meerderheidsgesindheid in die US-raad dui tans nie daarop dat akademiese gehalte die deurslaggewende faktor by die aanstelling van die volgende rektor gaan wees nie.

Op die 22ste is die vierde huldigingsbyeenkoms vir Botman gehou (US-webwerf 22 deser). Mense soos Nico Koopman en Leopoldt van Huyssteen, die waarnemende rektor, het die woord gevoer. Van Huyssteen meen dat die US op die Botman-koers moet bly. Ook dít stem my tot droefheid, maar ‘n mens moet die konteks waarin hierdie byeenkoms en die jongste US-raadsitting plaasgevind het, in gedagte hou. Met verloop van tyd kom daar dalk groter akademiese realisme en soberheid. Die US as akademiese inrigting smag daarna. Die US sou myns insiens kwalik ‘n volle tweede Botman-termyn akademies-eerbaar kon oorleef.

Botman was giftig teenoor die Afrikaner gesind. Dit blyk bv uit ‘n aanhaling deur Espie Olivier, Oudtshoorn, uit Die Burger (13.12.06). Botman het in 2004 die volgende vraag aan die NGK-sinode gestel: “Is daar nog plek vir Afrikaans en vir die NGK?” (Die Burger, 11 deser, p 10). Al was Botman uitgesproke gekant teen hierdie kernwaardes van die Afrikaner is hy nogtans daarna in 2007 as US-rektor aangestel. Die US-tenkskip sal omgedraai moet word, sodat hy weer op koers na akademiese aktiwiteit (onderrig en navorsing) in Afrikaans kan kom. Op die kampus moet daar ook weer ruimte vir die ontwikkeling van Afrikaner-leiers geskep word. Moontlik bied dit die heel beste manier om aan die onverkwiklike Suid-Afrikaanse werklikheid van bv onbeskaafdheid, ondoeltreffendheid, agteruitgang, verval, korrupsie en ander misdaad te ontsnap.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.