Ope brief aan alle PUK-studente

Deel op

Liewe PUK-student,

Baie geluk met julle geslaagde betoging gister. Dit was baie ordentlik en gedissiplineerd, anders as sommige ander betogings in ons land waar daar op pad ‘n paar motors aan die brand gesteek word, klipgooiery plaasvind en die gewone verwoesting gesaai word.

roodt_dan_wikiDis so effens ‘n woord uit die ou Suid-Afrika, “klipgooiery”. Nie dat daar nie in die nuwe Suid-Afrika ewe veel klippe gegooi word, letterlik en figuurlik nie. Reeds is daar ‘n klip of twee in julle rigting geslinger en is julle “regses” genoem. Want sien, as ‘n mens hoegenaamd vir Afrikaans iets wil doen of jou taalregte wil opeis, sal daar mense wees – veral ook ‘n sekere Johannesburgse koerant met daggarokende joernaliste wat in Melville bly – wat jou as ‘n “regse” of fascis of Nazi gaan tipeer.

Ja, ek weet, ek weet, volgens julle memorandum “steun” julle “die Grondwet van RSA – nie ontgroening nie! Ons koester ʼn samelewing geskoei op die grondwetlike waardes van gelykheid, vryheid en menswaardigheid.”

Feit is egter: julle, net soos ek – al het ek nooit destyds vir die NP gestem nie – dra die smet van die vorige propaganda-oorlog wat rondom Suid-Afrika gewoed het, saam. Óf ons moet aanvaar dat ons vir altyd en vir ewig verloor het, óf ons moet begin opstaan. Ek hou van julle etiket #saljyopstaan, want dit staan reeds in die teken van so ‘n opstand in die volle sin van die woord.

Weet dat ek en baie ander Afrikaners van alle geslagte saam met julle staan en voel in hierdie stryd! Dis ons almal se opstand. As ons dié stryd verloor, is dit so min of meer verby met ons, want daar sal van Afrikaanse universiteite, van ons kultuur, van ons mense, net mooi niks in dié droewe land oorbly nie.

As daar enigiets is wat ek of enigiemand anders vir julle kan doen, moenie huiwer om my op Twitter, Facebook of enige ander manier te kontak nie. Ek en ander stry en betoog al omtrent 20 jaar lank vir Afrikaans. Beeld en haar susterskoerante het my al alles onder die son genoem: ‘n verregse, ‘n Nazi soos julle (hoewel ek nog nooit die saluut gegee het nie), ‘n fascis, ‘n puris, ‘n taalbul, ‘n apologeet vir apartheid, ‘n rassis, ‘n baie dom persoon en selfs “gay” (hoewel ek 100% heteroseksueel is). As jy vir Afrikaans opstaan, is enige etiket of belediging goed genoeg!

Want sien, dis ‘n woorde-oorlog. Die span wat die ander span die swartste kan smeer, wen. Leuens, halwe waarhede, valse voorstellings, dít alles is wapens in die stryd. Julle het reeds iets daarvan ervaar. Ongelukkig is ons Afrikaners mos ordentlik, dus van nature verloorders as dit by slegsê en propaganda kom. Ons is eerlik en reguit. Goeie eienskappe in die lewe, maar geen goeie eienskappe as dit by die propaganda-oorlog kom nie.

Daarom, vir wat dit werd is, hier is ‘n paar wenke en ‘n bietjie, noem dit maar: opbouende kritiek.

Besef dat die ander kant, dis nou die mense wat ons land so min of meer met die hulp van die Nasionale Party van ons afgevat het en toe alles begin plunder het, van die staat, die munisipaliteite, Eskom, tot by SAL, die SAUK, Transnet, die ou Weermag, die Reserwebank, noem maar op, ons almal beheer met woorde en begrippe. Dit strek van die woordbom “apartheid” tot by oënskynlik positiewe begrippe soos transformasie, gelykheid, grondwetlike waardes en dergelike meer.

Daarom, indien ons in opstand is, moet ons geen sentimeter toegee in ons diskoers nie. Sien dit as ‘n hofsaak wat jy (óns) vir die res van jou (ons) lewe gaan veg. Ons opponente is elke dag daarop uit om ons skuld te bewys. Dis “oorlog met ander middele”, ‘n semantiese oorlog. Elke erkenning van ons skuld en selfs die herhaling van die vyand se terme, tel teen ons. Sodra ons toegee dat daar hoegenaamd iets soos “transformasie” moet plaasvind, het ons negentig persent van ons saak verloor.

Dan is daar nog dinge soos “nie-seksisties” en “nie-rassig”. Dit behoort tot die Sowjetunie. Joe Slovo, die leier van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty wat bomme in ons stede en in Wimpy-restaurante laat afgaan het, het dit uitgedink. In Johannesburg is ‘n straat se naam verander en na hom vernoem. Dis al te veel. Moenie hom verder vereer deur sulke clichés te gebruik nie. Dieselfde geld vir “multikultureel” en “meertalig”. Die eerste is ‘n illusie en die tweede is om die witvlag oor Afrikaans te hys. Jy hys hom net nie heeltemal nie, net so halfmas. Vergeet van meertaligheid, die halfmaswitvlag. Wees eerlik: Is daar enige universiteit in Suid-Afrika wat “meertalig” is? Nee, daar is net Engelse universiteite en ‘n paar Afrikaanse universiteite wat onder druk van die owerheid besig is om te verengels. Dis ‘n geveg tussen Afrikaans en Engels, net soos die Anglo-Boereoorlog, tussen die Empaaier en die Republiek. Moenie dit kompliseer nie, dan gaan ons net verloor.

Wees krities, bevraagteken alles. Lees ook wat ek en ander op die PRAAG-webblaaie skryf. Ons kyk baie anders na Suid-Afrika. Ons glo lankal nie meer in die ANC en SAKP se propaganda nie. Daar is ‘n magdom feite wat hul gerieflike rympie oor ons geskiedenis weerspreek. Daar is ook ‘n groter stryd wat buite ons grense in die noordelike halfrond en in die Midde-Ooste woed. Dit raak ons hele beskawing. Raak insgelyks dáároor ingelig.

Vir ons almal is dit moeilike tye, want ons word oorheers. Die professore en universiteitsbestuur by die PUK is almal skrikkerig. Bang om hul werk te verloor. Bang om in die linkse media met klippe gegooi te word, woordklippe soos “rassis”, “fascis”, “Nazi”.

Goddank, julle betoging daar op Potch wys dat julle nie bang is nie. Blade Nzimande, ons kommunistiese minister van hoër onderwys, kan dalk ‘n ondersoek aanvra. Hy kan julle name eis en die universiteit sal dit verskaf, net soos hulle altyd maak, gehoorsame Afrikaners. Want hy is mos die baas. Die rooi en die swart base heers oor ons. Julle kan selfs geskors word. Dit het al gebeur, dat ‘n student geskors word omdat hy sy mening durf uitspreek het. Of ‘n plakkaat geswaai het.

Intussen het ons nog so ‘n klein bietjie spraakvryheid. Gebruik dit, soos julle reeds maak. Ook die sosiale media. Raak aktief op Facebook en veral Twitter. Sommige van julle doen dit reeds, maar dis die plekke waar ons ons sê mag sê, anders as in die koerante of op TV.

Dis ook nie nodig om polities korrek te wees nie. Dis goed dat daar gister swart studente saam met julle betoog het. Voordat die ANC op die toneel verskyn het, het wit en swart in dié land goed klaargekom. Ons Afrikaners is verdraagsaam en medemenslik, nog altyd.

Daar sal egter ‘n tyd kom wanneer ons ook sélf sal moet opstaan. Nie saam met ander nie, maar selfstandig, onafhanklik van ander. As Afrikaners en selfs, durf ons dit sê, as blankes. Daardie dag is nie ver nie, want hoe minder skuldig ons voel, hoe minder ons deur die vloekwoorde en slagspreuke en holle dreigemente en leuens van die vyand verkneg word, hoe meer selfvertroue sal ons hê om ook óns regte en vryheid op te eis.

Kyk bietjie na wat Steve Hofmeyr gedoen het. Hy het op Nelspruit ‘n paar volksliedjies gesêr. Toe sing hy sommer Die Stem ook. Saam met 45 000 mense. Daaroor is hy amper gekruisig! Die einste Beeld het hom so sleg gesê dat die see hom nie kon afwas nie. Beeld hou nie van die PUK nie, hulle hou nog minder van Steve, en dan hou hulle seker die heel minste van enige Afrikaner wat Die Stem sing.

Dis dalk iets wat julle moet oorweeg. Om gereeld Die Stem te sing. Op die kampus, in die koshuise, in die kroeë en kafees. Dis ‘n mooi lied. Dit sê iets van wie en wat ons is, en waar ons vandaan kom. Twintig jaar gelede het drie klein landjies in Noord-Europa, Letland, Estland en Litaue, van kommunisme vry geword bloot omdat hulle verbode volksliedere begin sing het. Gaan google dit bietjie. Hulle het mekaar se hande vasgehou en gesing, honderde duisende van hulle. Daarteen was die tenks en die soldate nie bestand nie.

Nooi sommer ‘n Beeld-verslaggewer uit om dit te kom afneem as julle Die Stem sing. Miskien kry die redakteur ‘n hartaanval as hy dit sien en dan is ons van hom ook ontslae.

Ons is trots op julle! Ons staan sáám met julle in jul stryd vir ons taal en om nie verder deur ou Rooi Blade en sy Beeld-mbongi gelem te word nie.

Ek verstout my om te sê: ons hele volk staan agter julle. Hier en in Australië, in die Midde-Ooste, in Kanada en waar ons ons ook al bevind, die boorlinge en die ballinge, almal sáám!

Met vriendelike groete,

Dan Roodt

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.