Pukke betoog terwyl onweerswolke saampak om universiteit

Deel op

Gister het ongeveer 3000 PUK-studente op die kampus betoog (blykbaar die eerste keer in die geskiedenis!) ten gunste van Afrikaans en nie-inmenging deur Beeld se Melville-linkses of die kommunistiese minister van hoër onderwys, Blade Nzimande.

Studente was versigtig om hul verbintenis tot “nie-rassigheid” en “nie-seksisme” te verklaar terwyl hulle terselfdertyd die behoud van hul grondwetlike reg om in Afrikaans onderrig te ontvang, bepleit het. Die gebrek van ‘n institusionele versetskultuur was egter taamlik helder aangesien die minderheid swart studente wat saam betoog het, meer gemaklik was om te toitoi en te sing.

Die multikulturele aanskyn van die betoging was egter nie nie genoeg die etiket van “regs” af te weer nie. ‘n Groep bekend as die Transformasienetwerk vir Hoër Onderwys (Higher Education Transformation Network) het vooraf ‘n verklaring uitgereik waarin die “regse betoging” verwerp word.

Volgens die Transformasienetwerk verteenwoordig die studente se memorandum:

“…’n treurige aanklag teen die vlak van indoktrinasie by NWU Potchefstroom. Dit is amper ondenkbaar dat regse studente hul onkunde, onsensitiwiteit en vooroordeel so openlik kan openbaar. Gegewe die berg getuienis wat van die teendeel spreek, klink hul bewering van steun vir grondwetlike waardes soos gelykheid, vryheid en menseregte hol. Dis helder dat dié eienaardige dokument nie van ‘n studenteliggaam met geldige besware afkomstig is nie.”

Die Transformasienetwerk vir hoër onderwys het in Junie ‘n hofsaak teen Willie Spies en die alumnusraad van Tukkies gewen waarin hulle beweer dat daar diskriminasie by die UP bestaan omdat daar nie genoeg swart gesigte op die alumnusraad bestaan nie. Die saak sal nou verder in die gelykheidshof voortgesit word. Dit wil voorkom asof die Transformasienetwerk, wat uit ‘n groep swart regsgeleerdes meesal met staatsdiensposte bestaan, van elders befonds word om Afrikaners by die oorblywende Afrikaanse universiteite vanuit alle bestuurs- en ander poste te verdryf om sodoende geheel en al die mag op sulke kampusse oor te neem. Daarom verkeer die PUK ook in hul visier.

Die Transformasienetwerk spits hom op universiteite toe, terwyl Section 27, wat deur George Soros befonds word, hofsake teen Afrikaanse skole maak of swart studente by sulke skole opsweep om klagtes van rassisme teen Afrikaneronderwysers te maak.

Die PUK-studente se memorandum word hier onder volledig geplaas soos dit op die Studenteraad se Facebook-blad gepubliseer is:

MEMORANDUM
OORHANDIG AAN DIE VISEKANSELIER VAN DIE NOORDWES-UNIVERSITEIT
DEUR DIE STUDENTERAAD VAN DIE POTCHEFSTROOMKAMPUS
OP 24 JULIE 2014

Vir té lank is daar besluite geneem oor ons, maar sonder ons.

Vir té lank word aantygings soos: “diskriminerend”, “pro-ontgroening” en “onvermoë om te verander” aan die lewe gehou deur stilswye of deur uitlatings van Bestuur sonder om ons in die saak te ken. Ons word daarvan beskuldig dat ons instinktief ʼn verdedigende houding inslaan wanneer hierdie aantygings om ons nekke gehang word. Hierdie poging om ons monde te snoer, sal nie verder slaag nie; ons sal nie langer swyg oor onwaarhede oor ons nie!

Studente by gister se betoging op die Potch-kampus
Studente by gister se betoging op die Potch-kampus

Ons verteenwoordig die studente van die Potchefstroomkampus en almal vandag hier bymekaar. Ons staan vir ʼn aktiewe en deelnemende studentelewe en waarborg studentiteit aan elkeen van die nagenoeg 20 000 kontakstudente van die Potchefstroomkampus. Ons voetspoor in die plaaslike gemeenskap getuig van ons gesindheid en toewyding – met meer as 80 projekte en die insameling en effektiewe toedeling van ʼn miljoen rand per jaar maak ons ʼn wesenlike verskil in ons gemeenskap.

Besef eens en vir altyd dat ons die Grondwet van RSA steun – nie ontgroening nie! Ons koester ʼn samelewing geskoei op die grondwetlike waardes van gelykheid, vryheid en menswaardigheid. Ons bevestig dat ons hierdie waardes onderskryf, en dat ons wil ervaar dat Bestuur dit ook teenoor ons uitleef.

Dit is vir ons as studente ʼn belediging dat daar – sonder die nodige korreksie – meer aandag geskenk word aan eensydige berigte in die media, en die dagblad Beeld in besonder, as dat die Bestuur na die NWU se eie studente se stem luister en ondersoek instel na wat werklik onder ons leef en wat ons proaktief dóén.

Die Studentestem word blatant geïgnoreer!

In die lig van die bogenoemde eis ons:

  1. Die daarstelling van ‘n Forum vir gesprekvoering tussen die Visekanselier en die verteenwoordigende studente van die Potchefstroomkampus en wat spesifiek daarop fokus om wanpersepsies te identifiseer en uit die weg te ruim. Hierdie Forum moet onder andere bestaan uit politieke organisasies wat op progressiewe liberale beleid gemik is. Die Forum moet binne 10 dae ná ontvangs van hierdie skrywe gevestig word.
  2. Effektiewe transformasie wat die voortbestaan van Afrikaans as onderrigtaal op die Potchefstroomkampus sal verseker, binne ‘n meertalige en multikulturele konteks, met inagname van die demografie van die Afrikaansprekende bevolking van Suid-Afrika in die geheel en wat ook verteenwoordigend is van die breë Suid-Afrikaanse samelewing. Duidelike teikens moet teen einde November 2014 vir die volgende 5 jaar opgestel word wat transformasie binne hierdie konteks in die breë studente- en ook koshuislewe sal verseker.
  3. Transformasie soos hierbo gestel moet dan by uitstek nie fokus op ‘getalletransformasie’ soos meestal in politieke retoriek aangevoer word nie, maar moet fokus op die verandering van denkwyses, weerlê van wanpersepsies en die skepping van ‘n multikulturele eenheid op die kampus, waarbinne verskeidenheid dog die andersheid van elke individu waardeer en gerespekteer word. Daar word vereis dat akademiese sowel as sosiale programme in plek gestel word wat hierdie kwessie sal aanspreek, om sodoende ‘n studentemassa te vorm wat ‘n verskil kan maak in Suid-Afrika. Hierdie eis moet ook deel uitmaak van die gesamentlike teikens en plan wat teen einde November 2014 gefinaliseer moet word.
  4. Toegang vir alle studente tot die NWU-Potchefstroomkampus as ‘n meertalige kampus, met behoud van die grondwetlike reg om Afrikaans as onderrigtaal te behou terwyl toegang bevorder en Engels en Setswana ontwikkel word.
  5. Fermer optrede deur Bestuur teenoor die media ten opsigte van onbillike beriggewing ten einde ons studente se integriteit en die geloofwaardigheid van ons kwalifikasies te beskerm.
  6. Dat Bestuur die onwetenskaplike werkwyse staak om uitlatings te maak oor die studentelewe en oor studente sonder om hulle van die nodige feite en inligting by die studente as primêre bron hieroor te vergewis.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.