Theuns Eloff hoof van Verwoerd se trust met R2 miljard

Deel op

Dr. Theuns Eloff, wat onlangs die tuig as rektor van die Noordwes-universiteit neergelê het, is tot voorsitter van Dagbreektrust verkies. Dit blyk uit onlangse berigte in die media. Daar word konserwatief geskat dat die Trust oor R2 miljard se likiede fondse in die vorm van kontant en aandele beskik.

Die kanse dat dié fondse egter in die belang van die Afrikaner aangewend sal word, is skraal. Oor die afgelope jare het Dagbreek konsekwent die Nasionale Party se beleid van versoening met die ANC, asook die “versmelting” van Afrikaners met kleurlinge om “Afrikaanses” te word, nagejaag.

Die aanwysing van Eloff versterk die beheer wat Potchefstroom, of dan trustees wat bande met die Potchefstroomkampus het, oor Dagbreektrust uitoefen. Mnr. Flip Buys van Solidariteit, ‘n ander trustee van Dagbreek, het insgelyks aan die Potchefstroomse Universiteit gestudeer en dien ook op die raad daarvan (tans NWU).

Die vorige voorsitter van Dagbreek, mnr. Danie Cronjé, was eers voorsitter van ABSA-bank. Maar ook hy was op ‘n stadium lektor in Monetêre en bankwese aan die Potchefstroomse Universiteit. Nog ‘n vorige trustee was prof. Carools Reinecke, wat ook op sy dag rektor van die PUK was. Dis onbekend of Reinecke steeds op die Trust dien.

Die oorsprong van Dagbreektrust word tans nie aan die groot klok gehang nie, maar die trust is waarskynlik dieselfde vereniging as dié wat dr. HF Verwoerd in die dertigerjare gestig het om die Johannesburgse dagblad, Die Transvaler, mee te begin. Ná verskeie samesmeltings, het Perskor tot stand gekom, met Dagbreektrust as Perskor se vernaamste aandeelhouer.

Uiteindelik is Perskor deur mnr. Terry Moolman van die Caxton-drukkery oorgeneem en tot vandag toe behoort sekere Perskor-titels soos The Citizen, Rooi Rose en ander aan Caxton.

Die bates waaroor Dagbreek tans beskik, is hoofsaaklik aandele in Naspers wat voortspruit uit ‘n ontbondelingstransaksie toe M-Net, waarin Perskor ‘n mede-aandeel gehad het, se aandele in Naspersaandele omskep is.

Toe Naspers se aandele minder as R500 werd was, het Dagbreek se aandeelhouding in Naspers reeds tot een miljard rand gestyg. Tans verhandel Naspers teen R1290 per aandeel, dus kan mens met redelike sekerheid sê dat Dagbreek se bates tot oor die twee miljard rand gestyg het.

Volgens Bloomberg is die dividendopbrengs op Naspersaandele tans 0,33% per jaar. Dit beteken dat Dagbreek se inkomste net uit dividende jaarliks R6,6 miljoen beloop, ongeag ander beleggings of deposito’s.

Die tolkprogram aan die Universiteit van Potchefstroom wat dit vir swart studente moontlik maak om ingenieurswese in Engels te studeer, is deur Dagbreektrust gefinansier. Dit mag strydig met die trustakte wees, aangesien die trust veronderstel is om Afrikaans te bevorder. Die trust argumenteer egter dat Engelse tolkwerk “help om die universiteit op die duur Afrikaans te hou”. Ná Adriaan Basson van Beeld se veldtog teen die Noordwes-universiteit en die aandag wat dit van die kommunistiese minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, ontvang het, is dit egter te betwyfel of die universiteit veel langer Afrikaans as voertaal sal kan behou.

Dagbreektrust ondersteun onder andere ook die webblad LitNet, wat deur prof. Etienne van Heerden van die Universiteit van Kaapstad, bedryf word. Die blad is bekend vir sy dikwels linkse en marxistiese standpunte. Verskeie aansoeke deur PRAAG vir projekte om Afrikaans te bevorder, is reeds deur Dagbreek afgekeur, onder meer omdat daar nie ‘n regstellende-aksie-komponent by sulke projekte betrokke was nie en dit daarom as “eksklusief” en nie “inklusief” nie geag is.

Ironies genoeg word die fonds wat dr. Verwoerd in die 1930s opgerig het, dus vandag gebruik om marxistiese denke in Suid-Afrika te bevorder.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.