Die wrak van ‘n passasiersvliegtuig van ‘n Algerynse lugdiens is in Mali opgespoor. Dié vliegtuig het Donderdag vermis geraak. Dit blyk dat Julie ‘n donker maand vir lugrederye is, nadat ‘n vliegtuig in Taiwan ook verongeluk het.
Die Franse regering het Vrydag ‘n krisisvergadering saamgeroep om die ramp te bespreek, alhoewel amptenare vroeër gesê het “weerstoestande” het dalk ‘n rol gespeel het in die vliegtuig se verdwyning.
Die Franse minister van binnelandse sake, Bernard Cazeneuve, het gesê swak weerstoestande is die “beste hipotese” maar hulle weet nie wat die oorsaak kon gewees het nie.
Die Franse sekretaris van Vervoer, Frédéric Cuvillier, sê dit is byna seker dat die vliegtuig nie “afgeskiet” is nie, en daar is dalk oorlewendes.
Die koördineerder van rampbestuur in Ouagadougou sê die wrak is 50 kilometer noord van die Burkina Faso-grens in die Gossi-streek van Mali gevind.
Die Franse lugmag het dadelik twee vegvliegtuie gestuur om te help met die soektog toe die straler vermis geraak het. Mali, Algerië en Niger het aan die soektog deelgeneem.
Die vliegtuig met 116 mense, onder wie 51 Franse burgers, het tussen Burkina Faso en Algerië vermis geraak. Die bemanningslede was Spanjaarde.
Die Franse president Francois Hollande het dadelik sy beplande lugreise na La Réunion, Mayotte en die Comores afgestel nadat die nuus bekend geraak het.
Volgens Hollande het die vliegtuig van sy roete afgewyk, maar dit was glo weens die weerstoestande. Hy het nietemin gesê dat Frankryk “alle militêre middele tot sy beskikking sal inspan” in die rampbestuur.