Help ons om praag op te gradeer!

Deel op

Beste praag-leser,

Vanoggend het die webblad nie minder as drie keer nie onbeskikbaar geraak. Die eerste twee kere rondom vyfuur vanoggend was daar geheueprobleme en die derde keer het ‘n lêer in die databasis korrup geraak, moontlik weens oorverhitting.

Gelukkig kon ons dit telkens gou genoeg herstel. Die derde keer was ‘n groter tegniese uitdaging wat ons darem binne ‘n halfuur of so te bowe kon kom. Maar dit vermors kosbare tyd en energie.

Daarom het ons nou tot die stap oorgegaan om binne die volgende paar dae na ‘n nuwe, groter en sterker bediener te verskuif. Met splinternuwe programmatuur sal alles vinniger én veiliger werk. Om alles op te stel, asook al die data vir ongeveer 20 000 artikels in ‘n oorsese land van een rekenaar na ‘n ander oor te kopieer, is egter ‘n delikate oefening wat ons tot laatnag gaan besig hou. Ons begin van nuuts af aan met ‘n leë hardeskyf!

Die nuwe bediener sal ons in staat om soveel meer vir al ons lesers en ondersteuners te kan doen, met allerlei nuwe voordele en toegang tot inligting en vermaak.

Met die hoofstroommedia wat toenemend polities korrek en onder invloed van die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty staan, is praag vir ons almal ‘n onontbeerlike bron van inligting, menings en debat. Ons vermoed dat ‘n groot deel van die Suid-Afrikaanse media sedert 1994 deur binne- en buitelandse inligtingsdienste geïnfiltreer is; oor die afgelope paar dae was dit byna komies om te sien hoe hulle die amptelike Britse en Amerikaanse regeringsinligting en teeninligting oor Israel en die Oekraïne-tragedie klakkeloos weergee! Drie senior intelligensie-amptenare van die VSA-regering het vandeesweek presies dieselfde terme gebruik as wat in Beeld en Die Burger staan. Dis sekerlik nie toevallig nie.

Die hoofstroommedia in ons land het openlike propagandaspuite vir die ANC en die oorlugsugtige Anglo-Amerikaanse wêreldryk geword. Dit word nie eens meer weggesteek nie. Paul Craig Roberts verwys na die BBC as die British Brainwashing Corporation, maar hy het nog nie die media in óns land gesien nie!

Daarenteen, vergelyk die twee praag-blaaie met die beste van die internetmedia in oorsese lande wat die waarheid uitsnuffel en boekstaaf. Ons Engelse blad word ook wyd in Europa en in die VSA gelees. Ons stelsel is so aanpasbaar dat ons enigiets kan aanbied, van teks en foto’s tot klank/potgooie en video. Dit laai besonder maklik en vinnig op selfone en tablette ook af, selfs op verafgeleë dele van die platteland. Spoed is vir ons belangrik, vandaar die eenvoud en minder foto’s wat ons deesdae plaas.

Disqus stel lesers in staat om self deel te neem en inligting, asook skakels, foto’s en video’s te plaas. Geen van die hoofstroomblaaie se kommentaarafdelings laat soveel vryheid met skakels, beelde en video op Disqus toe nie.

Dus, as u nie reeds ‘n maandelikse debietorder uitgeneem het om ons te ondersteun nie, maak gerus nou so. Help ons om in dié see van vyandelike propaganda ‘n vlammetjie van hoop brandend te hou. Dit mag selfs lewens red, want as daar volle beheer oor inligting in ons land heers, sal ons eenvoudig een vir een uitgewis kan word sonder dat ‘n haan ooit daaroor sal kraai. Almal weet dat die SA revolusie nou eers ná 20 jaar op dreef begin kom, net soos in Zimbabwe vanaf 2000 gebeur het.

Neem ‘n oomblik en vul die vormpie hier in. As u enige vrae of voorstelle het, kontak ons by inlig[by]praag.org. As u nie tyd het nie, stuur in elk geval vir ons ‘n e-pos en ons sal ‘n plan maak om die inligting per e-pos of selfs telefonies by u te bekom.

Dr. Dan Roodt
Eindredakteur

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.