Prof. Hein Willemse se halwe waarhede

Deel op

In sy rubriek van 7 Junie blik Hein Willemse terug op die Soweto-opstande van 1976 en gebruik dit as ‘n stok om Afrikaners mee te slaan. Die Afrikaanse taal verteenwoordig ‘n skandvlek, en die kitsoplossing wat gesuggereer word is om oor te skakel na Engels, maar tegelykertyd moet ‘n mens nie skaam wees oor Afrikaans nie (?). Gelukkig is Engels nie die taal van die boelie nie. Die 300 000 Keniane wat die Engelse vermoor het in die sestigerjare, asook die Australiese inboorlinge waarvan die Engelse 80 tot 90% uitgewis het, behoort seker tot een van die wêreld se groot nastrewenswaardige politieke ideale. Dalk moet iemand ‘n boek skryf oor die manier waarop die Engelse die swartes in Suid-Afrika behandel het in die periode vóór 1948 om die volledige beeld te kry.

Deel op

Inderdaad kan gestel word dat die kwessie oor Afrikaans as onderrigtaal op skool die mees voor die hand liggende oorsaak was van die Soweto-opstande, maar net soos met alles in die geskiedenis kan dit nie los beskou word van die nuanses en prosesse wat dit voorafgegaan het nie. Een daarvan was dat die meerderheid swartes nie teen Afrikaans op skool gekant was nie. Soveel soos 66% van die swartes in Suid-Afrika in die sestiger- en begin sewentigerjare was ten gunste van ‘n 50-50-verdeling tussen Afrikaans en Engels op skool. Slegs in die groter stede waar Engels die handelstaal was, het die swart bevolking Afrikaans verwerp. Die regering het oormoedig gereageer oor die sukses waarmee Afrikaans elders in die swart onderwyssisteem ingefaseer was en het gedink hulle sou dieselfde sukses bereik met die swartes in Soweto. Dit was nogal ‘n ernstige berekeningsfout gewees aan die kant van die regering, maar ten minste het hulle nie 60 000 mense gemartel en vermoor soos wat die Franse met die Algeriërs gedoen het nie. Gelukkig is Frans ook nie die taal van die verdrukker nie.

Die Soweto-opstande is naas taalbeleid, ook gevoed deur ‘n fenomeen waaroor die bekende politieke deskundige Alexis de Tocqueville geskryf het, naamlik ‘n rewolusie van stygende verwagtinge. Hierdie vorm van rewolusie vind plaas sodra ‘n mens se lewenstandaard en welvaart begin toeneem, maar die verwagtinge op ‘n beter lewe juis vinniger styg as wat die land se hulpbronne kan oplewer. Dit het ontstaan toe die regering besef het dat daar ‘n armoedeprobleem en uitsigloosheid in die townships heers, en het juis die blankes swaarder belas om die swartes ‘n toekomsperspektief te bied. Prof. Hermann Giliomee skryf hieroor in Die Afrikaners: ‘n biografie op bl. 519: "In 1975 is berig dat die lone van ‘n kwartmiljoen swartes in die nywerheid – dit was ongeveer die hele swart elite in die gemeenskaplike gebied – in die vorige jaar met gemiddeld 15 tot 20% gestyg het. Die beleidswending het reeds teen die middel van die 1970’s ‘n uitwerking begin toon. In die begroting vir 1975-1976 het die persoonlike inkomste van wittes met 7% gedaal, maar dié van die Asiërs het met 3% gestyg, dié van kleurlinge met 19% en dié van swartes met 11% […] Die regering wou swart eise om verbeterde onderwys en welsynsdienste bevredig deur die besteding aan wittes konstant te hou totdat groter gelykheid tussen die rasse bereik is."

Daarbenewens het in 1974 die diktatoriale bewind in Portugal tot ‘n val gekom, en die Portugese kolonies Angola en Mosambiek was die toneel gewees van ‘n behoorlik gewelddadige omverwerping van die koloniale moonthede. Die omverwerping van die magshebbers het ‘n belangrike inspirasiebron geword vir swart bewussyn onder die inwoners van Soweto, en baie swart leiersfigure het hierdie inspirasie benut om hul volgelinge verder teen die blankes aan te hits. Aangesien Afrikaners geen Europese land het om na toe te vlug soos die koloniste nie, moes hulle soveel as moontlik gehoor gee aan swart griewe en terselfdertyd sorg dat hul eie oorlewing op die lang termyn verseker sou wees. Om konflik te voorkom onder sulke omstandighede is vrywel onmoontlik.

Tog gewaar ek in prof. Willemse se betoog ‘n aspek van Afrika-politiek wat ons nie uit die oog moet verloor nie. Die indruk word voortdurend gewek dat Afrikaans, sowel die taal as politieke simbool die oorsaak is van al die voorafgegane ellende. Dis net ‘n kwessie van ‘herstel’ en dan is Suid-Afrika weldra ‘n goed geordende burgermaatskappy. Die vraag is egter: As die Afrikaners en koloniste elders in Afrika vir soveel probleme gesorg het, hoekom doen swart stamme voortdurend ‘n beroep op hulle om hul konflikte te besleg? Sodra konflik in die Ivoorkus begin oplaai, waarom vra die leiers die Franse of Belge vir militêre steun? Waarom het Lucas Mangope juis die AWB se hulp ingeroep om hom teen opstandige ANK-rebelle in 1994 te beskerm?

Die grootste ironie in prof. Willemse se betoog is egter die titel daarvan: "As die boelie se taal ook joune is". Hierdie titel is nog sag gestel vergeleke met die huidige regime se standpunt. Hoe is dit moontlik dat ‘n taal wat die huistaal is van ‘n klein minderheid in Suid-Afrika in almal se keelgatte afgedruk word? Wat moet die Engelstalige Xhosa-elite en hul handlangers weier ten einde Engels as enigste amptelike taal in te voer?

Die meerderheid Suid-Afrikaners sal sekerlik meer genoeë neem met ‘n betoog getiteld: "As die boelie se taal nie jou taal is nie". Met so ‘n titel mag ons dalk die waarheid verraai oor die ANK, maar natuurlik is ons soos gewoonlik weer te beskeie om prof. Willemse se party as ‘n groepie wêreldvreemde imperialiste af te maak.

пиджак без подкладки мальчику купитьФильчаков прокуратура харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.