Minister sê swart en blanke skole mág maar saamsmelt

Deel op

Die ANC se plan om die oorblywende staatskole met ‘n meerderheid blanke kinders en wat gewoonlik in Afrikaans bedryf word, te saboteer, het ‘n stap nader gekom toe die minister van basiese onderwys gister gesê het dat die provinsies oor sulke magte beskik.

Volgens Angie Motshekga, die betrokke minister, “het provinsies die mandaat om hul eie provinsies en dus hul eie skole na goeddunke te bestuur, as gevolg van die skeiding van magte”.

Die LUR vir onderwys in Gauteng, die provinsie waarin die meeste Afrikaners en blankes woon, het voorheen verklaar dat hy skole in die voorstede en in die lokasies wil saamsmelt om “beter integrasie” te bewerkstellig.

Die LUR,  Panyaza Lesufi, beskik reeds oor ‘n “tegniese span” wat hom gaan adviseer oor hoe beter “maatskaplike kohesie” bereik kan word deur voorstedelike leerlinge en onderwysers te dwing om met lokasieskole te integreer.

Terwyl Suid-Afrika sedert 1994 omtrent alle Amerikaanse metodes van rasse-integrasie toegepas het, is “bussing” of om leerlinge van verskillende rasse met busse aan te ry om saam skool te gaan, nog nie toegepas nie. Dit wil nou voorkom asof die Gautengse LUR vir onderwys tot dié stap sal oorgaan.

Deel van die plan is om die “hulpbronne” van voormalige, Afrikaanstalige model-C-skole, wat gewoonlik deur die ouers onderhou word, nou deur lokasieskole te laat “benut”.

Die Amerikaanse meningsvormer en voormalige redakteur van die Wall Street Journal, Paul Craig Roberts, het onlangs in sy kommentaar oor die krisis in die Oekraïne en die VSA se rol daarin, gesê:

“As ons eerlik is en oor die moed beskik om die werklikheid in die oë te kyk, sal ons besef dat die Sowjetunie nie in duie gestort het nie. Dit het eenvoudig, tesame met Pol Pot, Washington en Londen toe getrek.”

Die vorige minister van onderwys, Kader Asmal, het reeds deur dieselfde metodes van Sowjetagtige sosiogeniëring die Afrikaanse universiteite verengels en ontwrig. Afrikaanse skole gaan blykbaar nou aan dieselfde verengelsing en aftakeling blootgestel word, ter wille van die revolusie.

Blykbaar het sulke planne in die Wes- en Oos-Kaap egter nie so goed gewerk nie en is “baie probleme” met die uitvoering daarvan ondervind, het minister Motshekga gesê.Maar indien Gauteng met sy samesmeltingsplan wil voortgaan, sal die nasionale departement van onderwys egter ‘n “eenheid” daarstel om provinsiale departemente met samesmeltings by te staan.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.