Die minister van hoër onderwys en sekretarisgeneraal van die SA Kommunisteparty, Blade Nzimande, het gister gesê dat daar “nie meer iets soos Afrikaanse- of Zoeloe- of Tswana-universiteite bestaan nie”.
Hy het dié opmerking tydens sy begrotingsrede oor hoër onderwys gemaak. Verder het hy uitgevaar teen “netelige kwessies soos rassisme (waaronder die Noordwes-Universiteit), asook diskriminasie wat op geslag, MIV-status, Vigs of klas gegrond is”. Sy departement het ook ‘n “maatskaplike insluitingsbeleid” aangekondig waardeur sulke kwessies “gekonfronteer” gaan word.
Die departement van hoër onderwys wil die aantal studente van die huidige 953 373 tot 1,1 miljoen in 2019 uitbrei. Teen 2030 word beplan dat daar 1,6 miljoen studente sal wees.