Hoofman verhuur erwe teen R100 aan plakkers ná geslaagde grondeis

Deel op

Volgens berigte is ‘n hoofman by Carolina in die Oos-Transvaal besig om erwe teen R100 elk aan plakkers te verkoop nadat hy landbougrond deur middel van ‘n grondeis bekom het.

Die kaptein van die Mhlongo-stam, Reuben Ndlovu Dlangamandla, wat nou glo “met mense boer”, is besig om gewone boerdery in die omgewing geweldig te ontwrig omdat veediefstal en brandstigting besig is om ongekende afmetings aan te neem.

Boere praat van “miljoene rande” se skade wat hulle reeds gely het as gevolg van mielies en beeste wat gesteel word, asook die veld wat aan die brand gesteek word.

Dlangamandla het vanaf 11 Augustus 2013 die plaas Kromkrans in ‘n informele nedersetting omskep, maar hou vol dat dit “nooit ‘n plaas was nie”.

“Ons gee nou blyplek aan mense wat nêrens het om te bly nie,” sê die kaptein en “eiendomsontwikkelaar”.

Verskeie boere in die omgewing vrees dat “Suid-Afrika dieselfde paadjie as Zimbabwe kan loop” indien die situasie toegelaat word om voort te duur.

Mnr. Danie du Plessis, streeksvoorsitter van die TLU in die provinsie, sê dat die Mhlongo-stamhoof nooit by die departement van landbou, bosbou en visserye aansoek gedoen het om die grond onder te verdeel nie. Daarom is sy grondskema onwettig.

Tans verkry die 200 plakkershutte op die plaas almal water by een boorgat. Daar is geen riool nie en “mense gaan in die veld toilet toe”.

Blykbaar is Kromkrans wel voorheen as ‘n winsgewende plaas bedryf toe dit nog in privaat besit was. ‘n Vorige hoofgrondeisekommissaris, Thomazile Gwanya het in ‘n jaarverslag uit 2003 vermeld dat Kromkrans “vir landboudoeleindes, soos weiding, veeboerdery en gewasseproduksie” aangewend gaan word. Kennelik het dit nie gebeur nie.

Dlangamandla se “ontwikkeling” beloop reeds 650 erwe, waarvan 200 reeds beset word. Die plakkers behoort ook nie aan die Mhlongo-stam aan wie die grondeis toegeken is nie.

Twee weke gelede het ‘n brand in die plakkerskamp uitgebreek wat na sewe plase in die omgewing versprei het en R1 miljoen skade aangerig het.

“Iewers moet dit stop, want ons kan nie nóg koste absorbeer nie,” meen een van die boere wat geraak is. “Brande verwoes grondgehalte en neem jare om te herstel.”

Van die plakkers se honde maak jag op boere se skape. Dit het selfs in ‘n soort casino ontwikkel, want plakkers gaan weddenskappe op die honde aan om te kyk wie se hond die meeste skape kan vang. Daar word tot R20 000 op ‘n hond verwed.

Boere verloor tot 13 skape in een nag, terwyl ten minste een boer sedert Januarie 400 skape in onwettige stroop- en jagtogte kwyt is.

ANC-amptenare swyg soos die graf oor die situasie op Kromkrans.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.