Michael le Cordeur en rasgegronde sportkwotas

Deel op

Michael le Cordeur is reeds aan Praag-lesers as opvoedkundige en kenner van Afrikaans bekend. Opvoedkunde is sy doseeropdrag aan die Universiteit Stellenbosch (US) en as taalkundige het hy in so ‘n mate uitgemunt dat hy die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad is. Hy het hom ook bewys as connoisseur van bruin kultuur, bv die mengeltaal Kaaps, die klopse en rieldans. Maar hierdie man is in sy eie oë so veelvlakkig soos ‘n goed geslypte diamant.

Op 12 deser het Le Cordeur nogeens ‘n forumartikel in Die Burger gepubliseer (p 11). Hierdie keer belig hy ‘n ander dimensie van sy deskundigheid. Hy “was 20 jaar by die administrasie van sport betrokke.” Sy frustrasie oor gewone mense se onkunde blyk uit hoe lank gelede (1997) hy reeds “‘n pleidooi om die speelveld gelyk te maak,” gelewer het. Dit is ANC-terminologie wat die teenoorgestelde beteken van wat gesê word. Le Cordeur en ander kamerade wil juis die speelveld ongelyk maak en dit word ten koste van blankes se belange gedoen. Tensy dit gebeur, kan nie-wittes in baie gevalle nie mededingend wees nie; op talle terreine, wat sport insluit.

Die aanleiding vir Le Cordeur se jongste artikel is ‘n brief van Bootjie van Mosselbaai wat op 26 Junie dit in Die Burger gewaag het om “net een vragie te vra”: Waarom is kwotas afdwingbaar by rugby maar nie by sokker nie? Le Cordeur assosieer rugby met blankes, spesifiek Afrikaners, en sokker met swartes. As ANC-aktivis voel hy hom dus geroepe om vir Bootjie tereg te wys. Le Cordeur het nie net in 1997 absolute helderheid oor hierdie saak gehad nie, want hy het glo ook in 2005 en 2010 opvolgartikels hieroor gepubliseer om aan ons gewone mense die waarheid te vertel. Wat volg is Le Cordeur se kenmerkende eensydigheid, gevoed deur bevooroordeeldheid. Danksy die heersende sug na politieke korrektheid verwag hy blykbaar dat hy sonder teenspraak sal wegkom met wat hy ook al kwytraak.

Glashelder en neerbuigend reageer Le Cordeur soos volg op Bootjie se vraag: “Die eenvoudige antwoord is dat sokker nooit ‘n uitsluitingsmeganisme gehad het nie.” Dit is soortgelyk aan die ANC-retoriek dat die vredesikoon Nelson Mandela nooit ‘n vlieg skade aangedoen het nie; dat hy net goed gedoen het en toe sluit die slegte wittes hierdie baasversoener sommer 27 jaar lank op. Dat Mandela ‘n geweldenaar was wat sy tronkstraf aansienlik kon verkort het as hy bereid sou wees om geweld af te sweer, word deur ANC-kornuite verswyg. Le Cordeur en sy mede-ANC-aktiviste gaan voort om te glo dat die absolute ontkenning van feite die beste manier is om andersdenkendes te oortuig. In die praktyk lewer hierdie strategie egter nie altyd die verlangde resultate nie.

“Omdat sokker van meet af aan ‘n multikulturele sport was, is kwotas onnodig.” Le Cordeur het sekerlik gehoop dat hy op hierdie blatante manier die debat gewen het. Die probleem is dat daar mense is wat die geskiedenis beter as Le Cordeur ken en dit nie probeer herskryf om eie politieke oogmerke te bereik nie. Willem Laubscher, Bettysbaai, skryf: “Voor die 1939-oorlog het klubs in die WP, soos Peninsula, Clyde en Hibernian, o.12- en o.16-spanne gehad. Alle spelers moes by die WP-sokkervereniging registreer” (Die Burger, 15 deser, p 14). Geboortesertifikate en voorkoms is gebruik om die etnisiteit van iedere speler te bepaal. Laubscher verwerp dus Le Cordeur se wilde bewering dat sokker nooit ‘n uitsluitingsmeganisme gehad het nie.

As neo- of skynswarte skaar Le Cordeur hom nie bloot by swartes en sokker nie. Hy neem daadwerklik standpunt teen blankes en rugby in. “Rugby, daarenteen, het bruin en swart spelers verbied om vir wit klubs en die Springbokspan te speel.” Na die politieke ramp van 1990/1994 het rasgebaseerde sportkwotas mode geword. Teen 1997 was kwotas, volgens Le Cordeur, (nog) nie beleid nie. “Dit was bedoel om slegs ‘n proses te wees totdat die speelveld in Suid-Afrika gelyk sou wees.”

Onderliggend aan Le Cordeur se standpunt is die ANC-dogma dat alle mense gelyk of wesenlik eenders is. Op alle gebiede, insluitende sport, moet die demografie weerspieël word. “Die doel [met kwotas] is om die demografiese wanbalans in die Suid-Afrikaanse nasionale spanne in die kortste moontlike tyd reg te stel.” As die demografie nie weerspieël word nie, word wittes en hulle rassebeleid, soos segregasie en apartheid, as die sondebokke geëtiketteer en nie-wittes as die benadeelde slagoffers voorgehou. Gerieflikheidshalwe word sokker nie aan hierdie demografietoets onderwerp nie. ‘n Mens mag mos nie in swart Afrika fout vind met bv die 100% swart Bafana Bafana in 2010 se Wêreldbekertoernooi nie. In werklikheid was dit ‘n doelbewuste ANC-gedienstige politieke skuif.

As Le Cordeur egter as selferkende sportkenner hom verwerdig om onbevooroordeeld na sport te kyk, sal hy sien dat swartes dwarsoor die wêreld nie uitmunt in sporte soos swem, tennis, gholf en fietsry nie. Swartes vaar dikwels beter as wittes in bv naellope. Pas het dit geblyk dat selfs in internasionale sokker die wittes steeds baas is. Pleks van (omstrede) lyste op te stel van die sportsoorte waarin onderskeidelik wittes en nie-wittes uitmunt, volstaan ek met hierdie onomstootlike feit: Mense verskil indiwidueel en etnies en hierdie verskille kan nie sonder meer aan ‘n bepaalde rassebeleid toegeskryf word nie. Fikile Mbalula, die minister van sport, se minstens 60% nie-wittes/swartes in bv die Suid-Afrikaanse swemspan gaan nie roem aan hierdie droewe land besorg nie. Mense sonder natuurlike swemtalent gaan in hierdie proses eerder versuip. (Le Cordeur noem mos dat sportkwotas ‘n proses is.) Met dooies kan daar nie ‘n nasie gebou word nie.

Geykte ANC-retoriek word deur Le Cordeur sonder meer herhaal, bv: “Suid-Afrika is die mees ongelyke land in die wêreld.” Is die toestand in alle lande deeglik nagegaan? In watter opsigte is Suid-Afrika die ongelykste? As dit waar is, is dit noodwendig die skuld van die blankes en hulle rassebeleid? Kom ongelykheid (bv intellektueel) nie ook doodgewoon/natuurlik by mense dwarsoor die wêreld voor nie?

Tot wanneer moet Le Cordeur se benadeeldes bevoordeel en wittes in dié “proses” benadeel en bv “beskikbare hulpbronne” gedeel word? “Totdat Suid-Afrika … waarlik gelyk is in elke faset van die lewe.” Dit is werklik en letterlik ongelooflik dat ‘n dosent met ‘n doktorsgraad so ‘n stelling kan maak. Baie mense (insluitende kinders) met ‘n bietjie gesonde verstand sal dadelik insien dat ‘n situasie waarin almal “waarlik gelyk is in elke faset van die lewe” nooit plaaslik of in enige ander land bereik kan word nie. By implikasie sê Le Cordeur dat regstellende aksie en sportkwotas (as ‘n onderdeel daarvan) gekom het om vir altyd te bly.

Bootjie van Mosselbaai vra tereg aan Le Cordeur: “Wanneer gaan die speelveld gelyk wees?” (Die Burger, 21 deser, p 10). Die kunsmatig geskepte “gelyke speelveld”, oftewel wanbalans, geld reeds so lank ten koste van blankes dat ‘n “gevoel van verontregting, diskriminasie en rassisme” by hulle gewek is. Bootjie noem “dat ons spansport tot middelmatigheid gedoem kan word indien die resultaat van die kwotabeleid nasiebou kan bevorder.” Die nasionale sokkerspan weerspieël sekerlik nie “die reënboognasie” nie.

Uit Le Cordeur se teks blyk dat hy op kenmerkende wyse nie-wittes/swartes as goed en blankes as sleg voorstel. Hy is sekerlik ook sterk ten gunste van politieke inmenging in sport. Maar was dit nie hy en ander UDF/ANC-aktiviste wat in die jare sewentig op die UWK-kampus (ek en hy daar) saam met internasionale sportorganisasies teen politieke inmenging kapsie gemaak het nie? Was dit nie hy en ander kamerade, soos Russel Botman, wat betoog het vir die afskaffing van alle rassediskriminasie nie? Waarom sou hy dan deesdae aan die Botman-US blatante rassediskriminasie by studente-toelating, die toekenning van studiebeurse, die aanstelling en bevordering van dosente, ens, goedkeur? Is dit nie dalk omdat die beleid nie-wittes bevoordeel en wittes benadeel nie? Is Le Cordeur se aanstelling aan die US, soos dié van myns insiens glad te veel ander mede-bruines, nie (deels) aan hierdie anti-akademiese beleid te wyte nie? Hy en sy etniese genote word bevoordeel. Maar omdat meriete deur rassistiese en seksistiese oorwegings oordonder word, is die vraag of sodanige beleid in die belang van die US as akademiese inrigting is.

Die gelyke speelveld waarna Le Cordeur verwys, is in werklikheid die teenoorgestelde, naamlik ‘n gefrabriseerde en hoogs ongelyke speelveld wat doelbewus teen die blankes gelaai is. Die punt wat ek wil stel, is dat Le Cordeur se standpunt oor hierdie speelveld sedert 1997 dieselfde gebly het. Daarteenoor het hy sedert die jare sewentig sy deuntjie oor politieke inmenging in sport en die afskaffing van alle rassediskriminasie verander. Die rede hiervoor is myns insiens opportunistiese bevoordeling van homself en sy etniese genote wat van bruin tot generies swart uitgebrei is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.