Jongste inligting oor vlug MH17 wys Beeld se misleiding

Deel op

Deur Rutger Hoell.

Dit sal interessant wees om te verneem wat Leopold Scholtz en Erica Gibson te sê het oor die jongste inligting dat vlug MH17 uit Amsterdam deur die Oekraïne afgeskiet is, veral nadat Scholtz enkele dae gelede in Beeld die volgende beweer het:

Alles dui daarop dat die pro-Russiese rebelle in die Oos-Oekraïne die Boeing 777 van Malaysia Airlines, op pad van Amsterdam na Kuala Lumpur, neergeskiet het. Maar hulle het nie geweet wat hulle doen nie.

Dit wil eerder voorkom asof Scholtz nie geweet het wat hy doen nie. Volgens die jongste aanduidings is die “bewys” van ‘n opname wat die vinger wys na die rebelle, ‘n vervalsing en die tydstempel daarop toon dat dit ‘n dag voor die ongeluk vervaardig is.

Scholtz se verdere bewering dat die Boeing 777 deur ‘n Buk-lugafweerstelsel afgeskiet is wat deur selfverdedigingsgroepe gebuit is, is deur die meeste militêre kenners as onsin afgemaak en eerder ‘n brokkie wat agterdog wek oor ‘n professionele weermag se betrokkenheid.

Die kersie op die koek is egter dat Scholtz nie tussen verskillende insidente en datums kan onderskei nie. Hy moes die BBC se David Stern geraadpleeg het om vas te stel dat ‘n Antonof-26 op 14 Julie afgeskiet is op ‘n hoogte van 6500m, drie dae voor die passasiersvliegtuig neergeskiet is.

Hier is Scholtz se mistasting uit dieselfde smeerstuk teen “nasionaliste” in Beeld:

Onmiddellik nadat kontak met die Boeing verloor is, het ’n leier van die rebelle, “kolonel” Igor Strelkof, op Twitter gekraai: ‘By Torez het ons nou net ’n Antonof-26 neergeskiet. Ons het hulle tog gewaarsku: Moenie in ons lugruim vlieg nie.’

Die profiel van ene “kolonel” Igor Strelkof op VK, die Russiese Facebook, en sy sogenaamde inkriminerende twiet wat Scholtz aanhaal as die beste bewys van Rusland se betrokkenheid, is egter deur AP se voormalige joernalis in Moskou, Max Sneddon as ‘n vals profiel uitgewys.

Dit is dié soort van ongeërdheid oor naspeurbare feite wat ‘n mens verstom. Gibson se naïewe berig oor Russe wat aanmekaar vliegtuie afskiet, en sommer hul eie, is blykbaar vir die ANC geskryf. Scholtz, amper soos Gibson, huiwer nie om die verswarendste gevolgtrekking hiervan te maak nie:

Toe die nuus oor MH17 bekend word, is Strelkof se twiet vinnig verwyder.

Russiese lugdatarekords wys dat ‘n Oekraïense Su-25 vegvliegtuig die Malaysia Airlines Boeing 777 passasiersvliegtuig op die dag toe dit neergestort het in die ooste van die Oekraïne op 17 Julie, baie naby gevolg het.

Luitenant-generaal Andrei Kartapolov, hoof van stafoperasies van Russiese Weermag, het op ‘n nuuskonferensie Maandag, 21 Julie, gesê: “Rekords toon dat die Oekraïense vegvliegtuig die afstand van 3-5 km van die Maleisiese Boeing was.

“Die Su-25 kan op ‘n hoogte van tot 10 km vlieg. Dit is gewapen met P-60 lug-tot-lug missiele wat teikens kan tref op ‘n afstand van tot 12 km en betroubaar binne 5 km.

“Dit word bevestig deur die videomateriaal verkry deur die Rostovmoniteringsentrum. Ons wil graag weet hoekom die Oekraïense vliegtuig ‘n burgerlike roete op dieselfde vlugpad as die Maleisiese Boeing gevolg het,” het Kartapolov gevra.

Die Boeing het begin spoed verloor so 51 km van die grens met Rusland, het Rostov se lugverkeerbeheer gesê.

Ek dink ek sal Beeld in die vervolg vermy wat ernstige kwessies betref soos 192 mense uit ons stamland wat die ewigheid ingestuur word. Ons skuld daardie siele meer as goedkoop politiekery.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.