Die Stem: Ons moet eie kultuur en tradisies beja

Deel op

Pleks van klasseloosheid, verteenwoordig ‘n ongedifferensieerde samesyn die nuwe utopie wat aan ons voorgehou word.

Deel op

Leon Shreiber se poging in Beeld om Afrikaners wat graag Die Stem wil sing en Julius Malema se swart radikalisme as “spieëlbeelde” aan mekaar gelyk te stel, mag goeie propaganda wees, maar sneuwel sodra dit onder die vergrootglas kom.

As ons vergelykings wil tref, is daar eerder ‘n ooreenkoms tussen Schreiber se soort opgewarmde “smeltkroes”-denke en dié van die EFF. Malema het hom tydens ‘n onderhoud met Debora Patta as ‘n “Marxis-Leninis” beskryf. Sy sienings van ons geskiedenis is radikaal en strook met dié van Joe Slovo en Ruth First, wat glo dat die Suid-Afrikaanse verhaal een lang geskiedenis van diefstal deur blanke “setlaars” verteenwoordig.

roodt_dan_wikiSoos ons weet, is die marxisme ‘n internasionalistiese ideologie wat opgesom word deur die slotreël van Marx en Engels se Kommunistiese Manifes: “Werkers van die wêreld, verenig u!” Die hedendaagse multikulturalisme en Anglo-Amerikaanse imperialisme wat die bestaan van individuele volkere misken, is deelagtig aan dieselfde internasionalisme. Onlangs het die Amerikaanse meningsvormer en voormalige redakteur van die Wall Street Journal, Paul Craig Roberts, geskryf:

If we are honest and have the strength to face reality, we will realize that the Soviet Union did not collapse. It simply moved, along with Mao and Pol Pot, to Washington and London.

Pleks van klasseloosheid, verteenwoordig ‘n ongedifferensieerde samesyn die nuwe utopie wat aan ons voorgehou word. Dit is wat Schreiber met die cliché van ‘n “inklusiewe visie” bedoel. Dieselfde gemeenplaas word oor en oor aan ons in bier- en kola-advertensies oorgedra. Trouens, die skryfster en reklamekundige Sarah Britten het ‘n verdoemende PhD-proefskrif aan Wits geskryf waarin sy die rol van die SA Brouerye (tans SABMiller) by die skep van Suid-Afrika se “nuwe identiteit” aan die kaak stel: One Nation, One Beer: The Mythology of the New South Africa in Advertising.

Ons sien dus dat daar veel eerder ‘n verband tussen Schreiber se eie “inklusiewe smeltkroes”-denke en die revolusionêre marxisme van die EFF bestaan. Nóg Schreiber nóg Malema hou van ons land soos hy tans is en wil dit deur revolusionêre ingryping of sosiogeniëring verander.

Blykbaar is “konserwatisme” vir Schreiber ‘n vloekwoord, daarom dig hy dit vrylik toe aan almal wat hy wil kritiseer. Onderliggend aan die meeste konserwatiewe lewensbeskouings is egter die gedagte dat ‘n volk of gemeenskap oor die vryheid moet beskik om self sy aard en toekoms te bepaal. Patriotiese Afrikaners kies self om “Die Stem” te sing, sonder dat dit deur die staat of SA Brouerye of die grondwet op hulle afgedwing word.

Hoewel die huidige SA grondwet oor verskeie gebreke beskik, erken dit nogtans vryheid van assosiasie en vryheid van uitdrukking, wat dit vir mense moontlik maak om enigiets te sing wat hulle wil.

Dit is ook natuurlik dat Afrikaners weens algemene geweldsmisdaad en korrupsie minder met die huidige bewind identifiseer as met hul vertroude nasionale simbole, waaronder ‘n verruklike volkslied soos “Die Stem”. Trouens, tesame met die Franse “La marseillaise”, is “Die Stem” waarskynlik die mooiste volkslied ter wêreld. Suiwer om estetiese redes verdien dit om nog baie lank in die harte van mense te leef. Die huidige hibriede volkslied van Suid-Afrika skend die integriteit daarvan as kunswerk en dit was net die grysskoengenerasie van NP-politici wat daartoe kon instem dat dit as ‘n laslappie by die ANC se lied, “Nkosi Sikelel’ iAfrika” gevoeg word. Dis vir my op dieselfde vlak as die geboue deur van ons grootste argitekte soos die Skotse Afrikaner, Gordon Leith, wat tans in Johannesburg met filistynse argeloosheid gesloop word.

Die enigste mense wat teen die sing van “Die Stem” in die openbaar beswaar maak, is ‘n klein groepie verloopte Afrikaners en professionele klaers wat dit op hulself neem om Afrikaners te “betig” telkens as hulle van die kwasi-Amerikaanse spoor afdwaal. Hoe lank moet ons nog met dié steriele en voorspelbare jeremiades saamleef?

Aangesien Schreiber Duits magtig is, mag hy iets van Nietzsche weet, wat ook die na-oorlogse denke op die Europese vasteland geweldig beïnvloed het. Ons moet ophou om ons bestaande kultuur te probeer ontken ten gunste van die soort internasionalisme wat tans wêreldwyd soveel krisisse veroorsaak. Eerder behoort ons ons eeue oue tale en tradisies te “beja” soos Nietzsche gesê het en nie te skroom om te sing, te dans en te skryf nie.

Utopiese samesyn, soos klasseloosheid, lei juis tot konflik omdat dit sowel die individu as die gemeenskap van sy keusevryheid ontneem en hom in ‘n reënbooggevangenis (of -kroeg) inkerker.

Die onlangse ryke was almal koloniaal en verdrukkend van aard. As Statebondsland poog Suid-Afrika steeds om hom as ‘n nuwe klein empaaier daar te stel, maar dit het reeds misluk, lank voordat Afrikaners weer openlik “Die Stem” begin sing het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.