DRK se ‘boeremag’ verskyn

Deel op

Die hofsaak van twintig Kongolese burgers wat daarvan beskuldig word dat hulle beplan het om die president van die Demokratiese Republiek van die Kongo, Joseph Kabila se bewind omver te werp, begin Maandag in Pretoria.

Die groep, wat glo 7000 sterk is met internasionale steun, wou Kabila vang en verhoor. Een het glo na bewering gesê as die president deur ‘n dwaalkoeël getref word, sal dit nie ‘n verlies wees nie.

Hulle was onder aanvoering van Etienne Kabila Taratibu, wat beweer dat hy die regte seun van die ou president Laurent Kabila is. Die huidige Joseph is glo ‘n aangenome kind uit Rwanda.

Nog ‘n opposisielid, Etienne Tshisekedi, het die president ook daarvan beskuldig dat hy nie die ware seun van die vorige leier is nie.

Daar bestaan gronde vir sy agterdog, want Kabila se ma, Sifa, en sy broer en suster moes selfs ‘n getuie vir Joseph se geboorte in Fizi roep.

Joseph Kabila, het in ballingskap in Tanzanië sy kinderdae deurgebring, maar praat Frans met ‘n Engelse aksent. Die Kabila-gesin het in Dar es Salaam onder die beskerming van die destydse Tanzaniese president Julius Nyerere gewoon.

Ten einde die aandag van Mobutu se intelligensiediens te vermy, het hulle voorgegee om lede van die Fipastam te wees,’n klein etniese groep van suid-weste van Tanzanië.

Joseph het ‘n Rwandese vader en moeder, Christopher en Marcelline Kate Kanambe, uit Kampala, Uganda, volgens Etienne.

Praag het met karwagte in Johannesburg uit die DRK gesels wat dié sentiment beaam het en ontstoke is dat Suid-Afrika die huidige president ondersteun. Hulle meen president Zuma stel meer in sy konsessies in hulle land belang.

Die groep wat gevang is, is onder die vaandel van die Union des Nationaliste pour le Renouveau (Unie van Nasionaliste vir Hernuwing) verenig.

Die groep het na bewering beplan om ander senior amptenare in die DRK te teiken, insluitend die hoof van die Weermag, die minister van Binnelandse Sake en die president van die Sentrale Bank.

Die groep is 17 maande gelede in Suid-Afrika in hegtenis geneem, en die beweerde moordlys is op een van die verdagtes se rekenaar gevind, het RSG berig.

Die hofsaak sal na verwagting ses weke duur.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.