Onderbroekvlag by elke skool kos R34 miljoen

Deel op

Die ANC-bewind gaan 22 193 landsvlae by elke skool laat aanbring teen ‘n koste van R34 miljoen. Skoolkinders gaan ook gedwing word om Nkosi Sikelel’ iAfrika te sing en om “patriotiese gevoelens” teenoor die ANC te ontwikkel.

Dit het verlede week aan die lig gekom tydens die begrotingsrede van die departemant van kuns en kultuur wat in Mei vanjaar gelewer is. Die “projek” om ‘n vlagpaal by elke skool te laat oprig duur reeds nege jaar, maar tot dusver het “kepêssitie”-probleme dit verhoed om verwesenlik te word.

Dit blyk dat ‘n maatskappy genaamd “NF Branding” sy ervaring in die “Vlag-in-elke-skool-projek” as “ervaring” op sy webblad noem. By navraag het praag verneem dat dié maatskappy, wat in Wynberg, Johannesburg, geleë is, voorheen as “National Flag” bekendgestaan het. Die maatskappy het reeds miljoene rande verdien uit die nuwe vlag wat die land in 1994 gekry het en by polisiestasies en ander staatsgeboue landwyd aangebring moes word. Die vlae by skole verteenwoordig dus ‘n verdere “meevaller” vir NF Branding.

Die adjunkminister van kuns en kultuur, Rejoice Mabudafhasi het haar verlede week só uitgelaat:

“Ons is bewus daarvan dat ons jeug nie die geskiedenis van dié land ken nie, veral hoe dit gebeur het dat ons vryheid verkry het. Nou het ons dié vlae maar hulle kan nie die kleure ontleed nie, dis iets wat net pragtig is… Elke skool behoort die Suid-Afrikaanse vlag te vertoon and ons het vasgestel dat ons 22 193 vlae regoor die land gaan aanbring.”

Volgens Sapa het Mabudafhasi gesê dat “die veldtog verlede maand begin het toe vlae aan ‘n laerskool en ‘n opleidingskollege in Kimberley oorhandig is”.

Watter bedrae reeds op die projek uitgegee is, is nie duidelik nie, want in die 2005/2006-finansiëlejaar is daar R10,2 miljoen deur die destydse minister, Pallo Jordan, daarvoor begroot. Jordan het in 2005 gesê dat daar 29 000 vlae versprei sou word. Volgens hom was dit egter ‘n “duur projek” en sou dit “ingefaseer word en inkoop vereis van beide die provinsiale regering en die privaatsektor aangesien die aankoop van die vlae en vlagpale ‘n duur onderneming is”.

In September 2005, is die projek amptelik deur Jordan en die toentertydse onderwysminister, Naledi Pandor, by ‘n laerskoel in Mitchellsplein bekendgestel. Toe is belowe dat “al 29 000 skole in die land oor die volgende vier jaar van vlae voorsien” sou word.

Die daaropvolgende minister van kuns en kultuur, Lulu Xingwana, het aan aan ‘n vergadering van ministers en LUR’e gesê dat haar departement “sy werk voortsit om bewustheid, kennis en begrip van nasionale simbole te kweek… deur ons volgehoue werk rondom die vlag-in-elke-skool-veldtog”. ‘n Jaar later het Xingwana tydens die voorbereidings vir die Wêreldbekersokker in 2010 gesê dat haar departement sal “voortgaan om vlae by skole dwarsdeur die land te versprei”.

Die huidige woordvoerder van die departement van kuns en kultuur, Sandile Memela, ontken dat die vordering oor die afgelope nege jaar bietjie stadig was, in weerwil van die miljoene rande wat reeds daarvoor begroot is. “Ons het reeds reusetreë vooruit gegee om by ons doelwit uit te kom om vlae in skole te laat wapper,” meen hy. “Vanjaar sal al 22 000 skole met vlae gedek word.”

Die oplewing in die vlagkwessie by skole geskied te midde van die polemiek rondom Die Stem wat deur Steve Hofmeyr op Nelspruit ontketen is, asook kritiek op die ANC wat deur “patriotisme” ondervang moet word. Die bedryfshoof van die SAUK, Hlaudi Motsoeneng, wat gelieg het dat hy oor ‘n matrieksertifikaat beskik, het onder meer ‘n beroep op “patriotiese joernalistiek” gedoen. Die ANC-LP, Lindiwe Maseko, het insgelyks ‘n beroep op die nasionale uitsaaier gedoen om Nkosi Sikelel’ iAfrika twee keer per dag uit te saai.

Die ANC-minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, oorweeg dit ook om geskiedenis as vak in skole verpligtend te maak, waardeur die ANC sy eie politieke verhaal deur onderwysers sal laat doseer.

In sy kommentaar, het dr. Dan Roodt van PRAAG gesê:

“Ons ondersteun Steve Hofmeyr een honderd persent in sy standpunt dat Die Stem onafhanklik van ander liedere gesing moet word as uiting van Afrikanerkultuur en -patriotisme. Afrikaanse skole behoort soos tydens die hele twintigste eeu Die Stem gereeld saam met hul skoolliedere te sing en onder geen verpligting te verkeer om enige ander lied of vlag te eerbiedig nie.”

Roodt het ‘n beroep op die ANC-bewind gedoen om die “uitsonderlikheid” van die Afrikanergroep in Suid-Afrika te erken en verdraagsaamheid teenoor Afrikanersimbole aan die dag te lê. “Ons erken dat ons deur Umkhonto we Sizwe oorwin is en dat ons vorige leiers onvoorwaardelik oorgegee het. Nietemin bepaal die internasionale reg en die Geneefse Konvensies dat ‘n besetter of oorheerser nie oor die reg beskik om volkere onder sy beheer se kultuur, taal of nasionale identiteit af te breek en te verguis nie.”

Volgens Roodt kan die onderwysdepartement “geld bespaar” deur nie vlae by Afrikaanse skole aan te bring nie. Sulke skole behoort toegelaat te word om self te besluit watter vlag hulle by die skool wil vertoon, indien enige.

“Solank as wat daar onder ‘geskiedenis’ in ons land slegs die biografie van Nelson Mandela, wat deur ‘n Amerikaner, Richard Stengel geskryf is, verstaan word, mag dit nie ‘n verpligte vak op skool raak nie,” het hy voortgegaan. “In elk geval is die sogenaamde ‘nuwe geskiedenis van Suid-Afrika’ deur marxistiese historici versin en daarom ‘n anachronisme wat saam met die Berlynse Muur moes vergaan het.”

Roodt het ‘n beroep op Afrikaanse sangers, skrywers, filosowe en geskiedkundiges gedoen om nog meer te doen om die bewussyn van Afrikanergeskiedenis te verhoog. “Bok van Blerk en Steve Hofmeyr het reeds ‘n reusebydrae gelewer. Die internet is egter ‘n goeie medium om geskiedenis aan ons jeug oor te dra, solank daar ‘n samehangende verhaal oor ons vertel word, vanaf volksplanting tot oorgawe. Daar is te min ontleding en begrip van ons verhaal binne die groter geostrategiese verskuiwings in die wêreld,” het hy gesê.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.