Bouval

Bouval

Waar eens gewoel en gewerskaf
is, staan nou gras, geel soos kakie
knapsekêrels ‘n olieboom of twee
‘n akkedis huiwer en skarrel weg

Dakloos gloei die wit mure nogtans
teen twaalfuur in die snikheet son
swart krake rank na bo en onder
soos versteende plante naamloos

Geskend die grafstene iewers teen
die randjie, graniet en kruis weggedra
herwin vir ‘n beter doel as om
die verdwene stamlede te gedenk

Die windpomp het verroes
die dam is leeg en gebars
die leë krip ‘n simbool van gebrek
aan sowel skaapskare as herder

As die son laatmiddag water trek
verdonker geleidelik elke venstergat
en iewers glim spatsels lig
soos oë agter grynsende maskers

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.