Die nuwe-Suid-Afrika-legitimiteitskrisis

Deel op

Sonder die Hertzog-regering van 1924 sou daar nooit ‘n oranje-blanje-blou-vlag of Die Stem gewees het nie!

Deel op

Die invloedryke Duitse regsfilosoof Carl Schmitt het van “uitsonderlike toestande” gepraat waartydens mag van hande verwissel: oorloë of politieke krisisse oor die algemeen. Die Franse noem hul huidige stelsel die “Vyfde Republiek”, aangesien daar sedert die Revolusie van 1789 al vier vorige republieke was wat om een of ander rede ten einde geloop het. Die Vyfde Republiek het tydens die Algerynse oorlog op 4 Oktober 1958 begin.Suid-Afrika ervaar tans ‘n legitimiteitskrisis wat tot so ‘n uitsonderlike toestand mag lei.

Dan RoodtTot dusver het ons ten minste vier ander uitsonderlike toestande gehad. Die eerste was tydens die 1790s toe die Patriottebeweging onder Kaapse Afrikaners teen die Kompanjie se heerskappy begin beswaar maak het. Ons voorouers is juis deur die Franse Revolusie geïnspireer en het daarom in die nag geheime pamflette versprei en op selfregering begin aanspraak maak.

Ná die tweede Britse besetting in 1806 het die Groot Trek plaasgevind, wat insgelyks op ‘n verwerping van die “wettige gesag” van Brittanje neergekom het. Selfs die NG Kerk het die Trekkers onder sensuur geplaas en geëkskommunikeer.

Die Rebellie van 1914 was ingelyks ‘n legitimiteitskrisis, maar het nie tot ‘n uitsonderlike toestand gelei nie, aangesien die Botha-regering wel die mag behou het.

Maar in 1922 het daar ‘n staking en opstand van werkers aan die Rand plaasgevind wat gewelddadig deur die Smuts-regering onderdruk is. Dit het tot die magsverlies van Smuts en die pro-Britse faksie in ons politiek aanleiding gegee, met Hertzog wat in 1924 aan bewind gekom het. Sonder daardie Hertzog-regering sou daar nooit ‘n oranje-blanje-blou-vlag of Die Stem gewees het nie!

Gedurende die 1980s is ‘n ongekende propaganda-oorlog vanuit die buiteland teen Suid-Afrika gevoer, tesame met buitelandse inmenging in die vorm van steun vir stedelike terreur en guerilla-oorlog teen die land. Natuurlik was die Angolese of Grensoorlog ook aan die gang.

Ten minste vier state het destyds teen ons opgeruk: Die voormalige Sowjetunie, Kuba, Oos-Duitsland en Swede. Vanweë die eksterne druk het Afrikaners al hoe meer verdeeld geraak, met die HNP en KP wat van die NP afgestig het. Op die ou end het FW de Klerk en die hele kabinet teen PW Botha se leierskap gemuit. Nie lank daarna nie het die NP gekapituleer teenoor die eksterne ANC en SAKP-leierskap wat deur die vier buitelandse magte, asook die globale Angel-Saksiese media ondersteun is.

Die chaos van die vroeë negentigerjare was ‘n klassieke geval van ‘n legitimiteitskrisis wat tot ‘n uitsonderlike toestand en magsoordrag lei.

Dog, hoewel die ANC intussen sy militêre en institusionele mag binnelands gekonsolideer het en steeds in die buiteland gewild bly, ervaar sy bewind tans ‘n tipiese Afrika-legitimiteitskrisis. Daar heers wydverspreide korrupsie, nepotisme en magsmisbruik op alle regeringsvlakke. Nie net deligitimeer dit die stelsel nie, maar die staat verloor ook beheer oor sy burgers. Misdaad is geheel en al buite beheer. In sommige voorstede is elke huis al beroof. In vele ander lande sou die regering reeds deur betogings en ‘n versetsbeweging oorweldig gewees het.

Waarom gebeur dit nie in Suid-Afrika nie? In die eerste plaas is die bevolking, veral Afrikaners, baie vredeliewend en wetsgehoorsaam. Daar aanvaar hulle selfs gesag wat nie meer wettig is nie. Swartes betoog wel makliker en brand geredelik geboue af, maar in die verlede – vóór 1994 – is hulle juis deur Swede, Nederland en ander state betáál om dit te doen!

Geen betoging of opstand geskied ooit spontaan nie en veral ook nie die publisiteit wat agterna daaraan gegee word nie. Meer mense sterf tans gewelddadig as ooit onder die NP-regering en tog bly die buitelandse media heel kalm oor Suid-Afrika, anders as in die tagtigerjare toe selfs ‘n paar brandende buitebande iewers as die “begin van revolusie” voorgestel is.

Omdat die ANC en SAKP deur middel van propaganda aan bewind gekom het, verstaan die organisasie dat hy beheer oor die media moet uitoefen. Vandaar dus die taamlik openlike manier waarop gesorg word dat die SAUK en sy bestuur deur ANC-lojaliste gevul word.

Wat Afrikaners betref, verseker die Naspersgroep ook “denkbeheer”. Al hoe minder Afrikaners word toegelaat om in die groep se Afrikaanse koerante te skryf en op KykNET te verskyn! Bruines, swartes en selfs Engelssprekendes geniet as meningsvormers voorkeur in die Naspersmedia.

Brood en sirkusse – panem et circenses soos die Romeine dit genoem het – is ‘n ander manier waarop die staat poog om sy kwynende legitimiteit te behou. Vandaar die staatstoelaes wat uitbetaal word en wat vir die ANC stemme moet verseker, asook sy konstante inmenging in sport, wat in die meeste lande as ‘n privaataangeleentheid beskou word. Slegs in die voormalige kommunistiese Oos-Europa is sport so konstant deur die staat oorheers.

Om te keer dat die legitimiteitskrisis in ‘n volskaalse politieke krisis of noodtoestand oorslaan, sal die ANC en sy meelopers steeds poog om propaganda aan te wend. Vandaar ook die Mandela-kultus wat selfs noudat die Groot Xhosa dood is, lewendig gehou moet word met jaarlikse “Mandela-dae”, die onthulling van standbeelde op elke denkbare en ondenkbare plek, en so meer.

Ongelukkig is dit so dat regeringskrisisse in Afrika veel langer vedra word as op ander vastelande lande. ‘n Vervallende staat kan dus dekades voortduur en indien daar nie van buite af ingegryp word nie, kan ‘n heerser en sy naaste familie of sy party oënskynlik onbepaald aan bewind bly. Robert Mugabe se Zimbabwe is so ‘n geval, maar daar is vele ander voorbeelde daarvan in Afrika.

Die onbekende faktor in Suid-Afrika is die internet. Meeste mense, veral Afrikaners, beskik deesdae oor redelike goeie en selfs hoëspoedinternetverbindings. Terwyl staatsgesag van die tradisionele media soos radio, TV en koerante afhanklik is, woed die aftakeling daarvan op webwerwe en in die sosiale media.

Twitter is reeds een van die mees invloedryke media en almal, van staatshoofde tot sokkersterre en joernaliste poog om hul invloed daar te laat geld. Hoewel Naspers en ander media ‘n veldtog teen Steve Hofmeyr voer, veg hy op Twitter, waar hy met een twiet 106 000 mense kan bereik, moedig terug.

Persoonlik verskaf dit my nogal genoegdoening dat ek die meeste liberale joernaliste, ook van die kapitaalkragtige Engelse media, op Twitter uitstof wat ons aantal volgelinge betref.

Oor die afgelope paar dae is ek besig om die redaktrise van een van die giftige anti-Afrikaanse en antiblanke webblaaie op Twitter in te haal en sal haar waarskynlik binnekort verbysteek. Haar invloedryke webblad word vanuit die buiteland en taamlik duistere bronne (buitelandse veiligheidsdienste?) gefinansier, maar praag staan nie vir hulle terug nie.

Tans beskik ek oor 9 300 volgelinge op Twitter, wat elke dag met omtrent 30 toeneem. Volg my op Twitter en help my om die 10 000-kerf te bereik:


Die stryd op die internet sal uiteindelik bepaal of hierdie stelsel sy natuurlike gang gaan en vanself in duie stort, en of dit nog jare en dekades lank zombie-agtig gaan voortduur.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.