Univ. van Texas volhard met regstellende aksie na nuwe uitspraak

Deel op

Nadat die Amerikaanse Hooggeregshof, daardie land se ekwivalent van ons Grondwethof in die saak Fisher v University of Texas, Austin, beslis het dat regstellende aksie deur middel van rassekwotas onwettig is, het die universiteit egter ‘n nuwe uitspraak in ‘n laer hof verkry wat dit wettig.

Die Amerikaanse Appèlhof vir die Vyfde Kring het Dinsdag bepaal dat die universiteit mag voortgaan om ras as ‘n maatstaf by die toelating van studente te gebruik. Hiermee is die blanke student, Abigail Fisher, se jare lange stryd teen rassekwotas by dié universiteit weereens omgekeer.

Die rektor van die Universiteit van Texas, Bill Powers, is “baie in sy skik” met die uitspraak en het soos volg daaroor uitgelaat:

“Hierdie beslissing sal verseker dat ons kampus, ons staat en die hele nasie sal baat by die uitwisseling van idees en gedagtes wat plaasvind wanneer studente wat in alle opsigte divers is in die klaskamer bymekaarkom, asook by kampusaktiwiteite en in alle aspekte van die kampuslewe.”

Fisher, wat intussen aan ‘n ander universiteit moes gaan studeer omdat sy as blanke nie by Texas in haar tuisstaat toelanting kon verkry nie, sê sy beplan om teen die beslissing te appelleer, selfs al beteken dit dat sy na die hoogste hof, die Hooggeregshof, moet teruggaan.

“Dis teleurstellend dat die regters wat my saak aangehoor het nie die Hooggeregshof-uitspraak van verlede jaar gevolg het nie,” sê sy. “Ek bly daartoe verbind om met die hofsaak voort te gaan selfs al beteken dit dat ek weereens na die Hooggeregshof toe moet appelleer. Dis ‘n skande daar daar oor die afgelope ses jaar honderde aansoekers by die Universiteit van Texas weggewys is weens die universiteit se rasse- en etniese voorkeure.”

Volgens die uitspraak vandeesweek is die regstellende aksie wat die Universiteit van Texas in sy toelatsingsbeleid toepas, “eng gedefinieer”, maar die instelling beskik nie oor ander metodes om “diversiteit” te verhoog nie, nadat die Hooggeregshof verlede jaar in Junie daaroor uitspraak gelewer het.

Twee uit die drie regters in Fisher v Fisher v. University of Texas at Austin, voel dat hulle “oortuig is” dat Texas noodwendig ras “holisties” moes gebruik in hul toelatingsprosedure. Die hof voel ook dat die ander howe reeds konsensus daaroor bereik het dat universiteite ras mag gebruik om diversiteit te bewerkstellig en  om gelyke geleenthede te bevorder as die alternatiewe selfs ‘n groter gebruik van ras mag vereis.

Die Kring-regter Patrick Higginbotham het die meerderheidsuitspraak onder meer soos volg regverdig:

“Die agtergrond van ons pogings hier sluit egter die werklikheid in dat die aanvaarding van toelaatbare beleid met die doel om ‘n gewenste rasse-uitkoms te bereik, die grens tussen kwotas en die holistiese gebruik van ras onder spanning plaas. Ons het dié grens nou vasgestel. Om die Universiteit van Texas se plan te verwerp, is om die ontwikkelende beginsels van neutrale regstellende aksie te verwar.”

Die derde regter, wat egter van die ander twee verskil, meen dat Dinsdag se uitspraak die nuwe streng ondersoekstandaard “systap” en dat Texas geen getuienis aangebied het dat hul program wettig of geregverdig is nie.

“Omdat die universiteit sy diversiteitsdoelwet op enige sinvolle wyse gedefinieer het nie – pleks daarvan gebruik dit bloot die term ‘kritiese massa’ – is dit heeltemal onmoontlik om te bepaal of sy gebruik van rasseklassifikasie eng gedefinieer is,” sê die regter wat nie saamstem nie, Emilio Garza.

Sherrilyn Ifill van die NAACP
Sherrilyn Ifill van die NAACP

Terwyl konserwatiewe groepe oor die algemeen hul teleurstelling met die nuwe uitspraak uitgespreek het, het Sherrilyn A. Ifill, voorsitster en regsadviseur van die NAACP-regsverdedigingsfonds, gesê dat die beslissing “behoort te staan as ‘n verklaring van die ononderbroke belangrikheid en wettigheid van regstellende-aksie-pogings wat aansoekers om toelating tot hoër onderwys holisties evalueer, asook vir die beginsel van stare decisis”.

* NAACP, die National Association for the Advancement of Coloured People, Amerika se grootste swart aksiegroep

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.