Boere in die Mosselbaai-omgewing in die Suid-Kaap is op die uitkyk vir ‘n gewonde leeu wat in die gebied op vrye voet is.
Dit volg nadat vyf leeus Woensdag by die Gondwana Natuurreservaat ontsnap het, het RSG berig.
Twee is doodgeskiet, terwyl nog twee gevang en na die reservaat teruggeneem is.
Die polisie het intussen bevestig dat hulle ‘n saak ondersoek waar vee reeds doodgemaak en beseer is.
Boere is ook bekommerd oor die veiligheid van hul gesinne en werkers wat moontlik nie van die rondloper-leeu bewus is nie.
Snuffelhonde sal vanmiddag help soek na die gewonde dier.