Musiek en speel, die resep vir moord

ImageNá die sinnelose moord van ‘n medeskolier eergister in Krugersdorp het ek gewonder hoe lank dit sou neem vir die koerante om weer die blaam vir geweld op musiek en speletjies te plaas, en soos gewoonlik het hulle nie teleurgestel nie.

Dit was nie die eerste keer dat ek op die nuus gelees het dat videospeletjies en sommige tipes musiek geblameer word vir die geweldadige optrede van kinders en jeugdiges nie.

Wat wel interessant was in Beeld vanoggend was die feit dat die musiek waarvan die jong moordenaar duidelik ‘n groot aanhanger was dan ook gekoppel is aan ‘n paar insidente waar skoliere in Amerika gemoor het, maar mens kan veilig die afleiding maak dat dit in stilte deurgetrek word na die NSA. Dié keer kan ek wel saamstem met kenners dat die musiek se lirieke veel te wense oorlaat in ‘n moderne wêreld waar beskaafdheid die norm is

{mosbanner:id=7,9,10}

Van die lirieke word in ‘n artikel in Beeld genoem, en mens moet ‘n baie siek persoon wees om na sulke gemors te kan luister en dit nog musiek te noem. Dat dit wel die vermoë kan hê om mense aan te hits om dade te pleeg wat teen die samelewing se waardes indruis, is nie moeilik om te verstaan nie, maar ek dink dit word erg oordryf.

Inteendeel, dis nie net oordryf nie, maar word as verskoning voorgehou vir die oortreder se dade. Want vir elke aksie is daar ‘n reaksie, en as die musiek (boos van aard) dan kwansuis die persoon die moord laat pleeg het, kan mens wel die stelling maak dat daar dan ander musiek beskikbaar is wat die persoon nie sou dryf om te moor nie. Wat die persoon sou kon kalmeer en in die teenoorgestelde gemoedstemming plaas as waarin hy was ten tyde van die barbaarse daad. Dit dui vir my daarop dat die persoon die definitiewe keuse gemaak het om nie die beter alternatief te kies nie.

In dié geval – ook gesien saam met ander – was daar duidelike tekens dat die persone wat sulke dade pleeg kortom nie die verantwoordelikheid wil neem vir hulle eie dade nie en dat enigiets aangegryp word as flou verskoning vir hulle eie swak gedrag.

Die verskonings vir moord wissel van “invloed van musiek”, “Satan het my dit laat doen”, “armoede”, “invloed van dwelms en speletjies”, tot grype na ander obskure grashalms.  

Die antwoord is eintlik so eenvoudig: dis net gebrek aan eie verantwoordelikheid wat dit laat gebeur. En natuurlik in die NSA ook die gebrek aan ‘n regsisteem wat mense vir hul dade verantwoordelik sal hou. Want “haai siestog, die arme seun het nie geweet wat hy doen nie…” My reaksie daar is eenvoudig: snert!

Die jong ridder het volgens die berig in die Beeld aan ander gesê dat daar iets op pad is, wat aangedui het dat hy met voorbedagte rade sy moorplan gekoester het, en dat daar absoluut geen versagtende omstandighede vir sy optrede was nie.

Mens kan wel verdere afleidings maak wat later die invloed van sekere rekenaarspeletjies ook by die saak sal betrek.  En weereens gaan sommige brigades wat teen dié vorm van vermaak as iets uit die bose gekant is, die blaam vir die klein knopkop se gedrag daarop plaas. Ek wil net vir die mense wat so redeneer, sê dat dit absolute onsin is.

‘n Insident uit my weermagdae het weer skielik  helder in my gedagtes opgekom, en het ook betrekking. Ek was deel van ‘n groep mense wat op gereelde basis ‘n gewilde “rol-speelspel” gespeel het oor naweke.  “Dungeons and dragons” was so ampertjies uit die bose op daardie stadium. Dit was nou volgens dié wat nie geweet het wat in die spel aangaan nie.  

Selfs die SAW het mense gehad wat op baie onopsigtelike manier die mense wat dit gespeel het gemonitor het, en ek is na ‘n tyd ingeroep om my aksies te verduidelik, aangesien dit bekend geraak het dat ek en andere in die eenheid soms naweke sit en speel het. Wat verbasend was, is die feit dat ek gewaarsku is teen die spel, deur iemand wat nie ‘n greintjie kennis van die ding gehad het nie.

Dit was die oop deur waarvoor gewag het en ek het baie duidelik aan ‘n adjudant-offisier verduidelik dat as hy waarskuwings wil rig oor so iets moet hy dalk eenkeer kom insit op so ‘n spel en daarna weer met my praat, aangesien ek die sogenaamde leier van ons groepie was. Nodeloos om te sê, die aanbod is nooit aanvaar nie, maar ek het duidelik gemaak dat ek geen intimidasie sal aanvaar as gevolg van wat ek in my vrye tyd doen nie. Ons het mekaar met respek gegroet en was daarna altyd op goeie voet.

Dit bring my by die tweede item wat baie keer die skuld kry vir sulke tipe optrede. Die rekenaarspeletjies wat wel in die een berig genoem word. Ek wonder of die mense oor wie se lippe die name van die speletjies so gladweg vloei ooit die moeite doen om self eenkeer agter die rekenaar te gaan sit en te speel. Ek praat nie van die vinnige 5 minute sukkel voor hulle opgee nie. Ek praat van speel, ernstig speel.

Dalk is daar van hulle wat wel die ding probeer, maar ek dink hulle mis die punt hier. Die doel van die goed is om te ontsnap van die harde werklikheid na ‘n plek waar mens kan maak en breek soos mens wil, sonder dat daar gevolge is om te dra. Die doel is nie om die surrealistiese spel na die werklikheid oor te dra nie. Om enigsins so te redeneer, is om te soek na moeilikheid wat nie te lank sal wag voor dit kom aanklop nie. Dis ‘n manier van ontsnap van die werklikhede wat mens 24 uur per dag omring.

Dat van die speletjies wel geweld bevat, kan niemand ontken nie. En die een wat wel genoem word wat in Amerika klaarblyklik ‘n rol gespeel het, is niks anders as een geveg na die ander nie. Mortal Combat is letterlik die een geveg na die ander, en mens se aansien word net verhoog soos jou vaardigheid en vlakke verhoog. Dat dit okkultiese verbindinge het, kan ek ook seker nie betwyfel nie. Maar dis eie keuse wat ook invloed het, en elkeen het die keuse om nee te sê.

Doom is na my mening ‘n donker spel, maar nie soveel so dat mens sodra jy dit eenkeer begin speel het in ‘n moordadige maniak sal verander nie. Ek het hom wel ook probeer speel, en nie baie gehou van die rigting wat dit inslaan nie. Die eindresultaat is eenvoudig: ek speel hom nie meer nie. Daar is natuurlik ooreenkomste wat Doom met ander speletjies het, in die tipe karakters en monsters wat mens teëkom, maar die agtergrond waarin alles plaasvind maak groot verskil in hoe ‘n spel oorkom. Die feit dat die teestaanders wat in Doom redelik demonies van aard kan voorkom, is een van die redes waarom ek hom in sy kassie gebêre het.

Die derde spel wat genoem word is Quake. Die agtergrond is dat mens ‘n ruimtevlootsoldaat is wat op pad is om aan die finale slag deel te neem op ‘n planeet, nie die aarde nie. Die vyand is bekend as die Strogg, ‘n klomp wesens wat reeds die aarde redelik verwoes het, en soms is die gevegte titanies, maar ek kan geensins sê dat dit sulke tipe gedrag te voorskyn kan bring nie. Wat is ek van mening dat dit soms harde werk verg om deur ‘n sekere fase in die spel te kom, want mens wil altyd weet wat vorentoe wag. Demonies? Nee, ek dink nie so nie, net ‘n baie goeie verbeeldingsvlug wat iemand uitgedink het.

Die ding is dít. Elke mens het ‘n keuse om te maak, en dit geld vir alles in die lewe. Wanneer mense dan die verkeerde keuses maak en dit toeskryf aan ander faktore spreek dit maar van swak karakter en opvoeding. Want soos dinge nou gaan, is daar reeds sterk tekens dat almal wat fouteer nie meer die verantwoordelikheid wil aanvaar vir wat hulle doen nie, aangesien dit dan ook aanspreeklikheid meebring, en mense wil nie aanspreeklik wees nie, hoewel mens nooit 100% daarvan sal kan ontsnap nie.

Indien mens so 15 jaar sou aanskuif in tyd en die seun wat gister sy medeskolier met die swaard gedood het, het dalk ‘n gesin, wat deur die een of ander maniak so vermoor word, gaan hy vir seker nie die verskoning aanvaar wat hy nou so ligweg opdis as rede vir sy optrede nie. Geen hoeveelheid musiek en speletjies sal dan verskoning genoeg wees om die oortreders te verskoon nie.

Kortom, mense behoort verantwoordelikheid vir hul dade te neem.

розвиваючі ігри для дітей 2-3 років

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.